Romeine 15
Afrikaans PWL
1Ons wat sterk is, is dit verskuldig om die swakhede van die wat nie sterk is nie te dra en nie onsself tevrede te stel nie, 2want elkeen van ons moet ons medemens tevrede stel in dit wat goed is tot opbouing, 3want ook Die Gesalfde Een het Homself nie tevrede gestel nie, maar net soos geskrywe is: “Die verwyte van die wat U beledig, het op My geval.” 4Alles wat van die ou tyd af geskryf is, is geskryf vir ons tot lering sodat ons deur volhardende geduld en vertroosting vanuit die Skrifte ’n versekerde verwagting kan hê. 5Mag die God van volhardende geduld en vertroosting gee dat julle mekaar met gelykheid ag in Yeshua Die Gesalfde Een 6sodat julle God, die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, met een gedagte en uit een mond kan eer, loof en aanbid.

7As gevolg hiervan moet julle mekaar aanvaar en verdra, net soos Die Gesalfde Een julle ook aanvaar het tot die eer, lof en aanbidding van God.

8Ek sê dat Yeshua, Die Gesalfde Een, ’n Dienaar geword het van die besnydenis ter wille van die waarheid van God, om so die belofte aan die vaders te bevestig.

9Die ander nasies sal ter wille van Sy onverdiende guns God kan eer, loof en aanbid, soos geskrywe is: “Ek sal U loof saam met die ander nasies en tot U Outoriteit en Karakter lofprysing sing.”

10Ook sê dit: “Verbly julle, nasies, saam met Sy volk.”

11Ook sê dit: “Loof יהוה, alle nasies en prys Hom, alle volke.”

12Yesha’yahu sê ook: “Daar sal ’n Wortel van Yishai kom, wat opstaan om oor die nasies te heers en in Hom sal die nasies ’n versekerde verwagting hê.”

13Die God van versekerde verwagting sal julle vol maak met alle blydskap, vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid deur die vertroue sodat julle oorvloedig kan wees in Sy versekerde verwagting deur die krag van die Gees van Afsondering!

14Ek is ook, my broers, oortuig van julle, dat julle self ook vol is van wat goed is en vol van alle kennis, in staat om ook ander te leer. 15Ek het egter ’n bietjie vrymoediglik aan julle geskryf, my broers, om julle te herinner, volgens die onverdiende guns wat aan my gegee is deur God 16dat ek ’n dienaar van Yeshua, Die Gesalfde Een, onder die ander nasies kan wees en ek kan werk vir die goeie boodskap van God sodat die offer van die ander nasies miskien aanvaar kan word en afgesonder word deur die Gees van Afsondering. 17Dit is daarom vir my ’n trots in Yeshua, Die Gesalfde Een, tot God, 18want ek waag nie om enige iets, anders as wat Die Gesalfde Een deur my gedoen het ten aanhore van die ander nasies, deur boodskap en daad, 19deur die krag van tekens en wonderwerke en deur die krag van die Gees van God, te sê nie, om só die verkondiging van die goeie boodskap van Die Gesalfde Een te voltooi van Yerushalayim af tot by Illurikon 20terwyl ek daarop konsentreer om nie die goeie boodskap te verkondig waar Die Gesalfde Een se Karakter en Outoriteit reeds uitgeroep is nie, om so nie op ’n vreemde fondament te bou nie,

21maar net soos geskrywe is: “Hulle aan wie Hy nie verkondig is nie, sal Hom sien en hulle wat nie gehoor het nie, sal oortuig wees.”

22Ek is ook baie keer verhinder om na julle toe te kom,

23maar nou dat ek geen plek meer het in hierdie streke nie en al baie jare die begeerte het om na julle toe te kom, 24hoop ek om na julle toe te kom en julle te sien wanneer ek na Spania gaan en wanneer ’n paar van julle my daarheen sal vergesel, sal ek verheug wees om julle te sien. 25Nou gaan ek egter na Yerushalayim om die afgesonderdes te bedien, 26want dié wat in Makedonia en Agaia is het dit goedgedink om te deel met die armes onder die afgesonderdes in Yerushalayim. 27Hulle was gewillig omdat hulle dit ook aan hulle verskuldig is, want as hulle, in die geestelike, deelgenote gemaak is met die ander nasies, is hulle ook verskuldig om hulle met die fisiese te dien. 28Wanneer ek dit dus afgehandel het en vir hulle hierdie vrug oorgegee het, sal ek by julle verbygaan Spania toe. 29Ek weet dat wanneer ek na julle toe kom, ek met die volle seën van die goeie boodskap van Die Gesalfde Een sal kom,

30maar ek versoek julle, my broers, in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een en in die liefde van die Gees, om saam met my, vir my, in gebed by God te stry 31sodat ek verlos mag word van die ongehoorsame mense in Y’hudah en sodat my bediening aan die afgesonderdes wat in Yerushalayim is, goed ontvang sal word 32en ek na julle toe sal kom met blydskap, in die wil van God en saam met julle verkwik word. 33Die God van vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid bly by julle almal! Dit is waar!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Romans 14
Top of Page
Top of Page