Romeine 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, ’n geroepe slaaf van Yeshua, Die Gesalfde Een, ’n afgevaardigde, afgesonder vir die goeie boodskap van God 2wat Hy van die begin af deur sy profete beloof het in die afgesonderde Skrifte, 3aangaande Sy Seun, wat na die vlees gebore is uit die saad van die huis van Dawid 4en deur die Gees van Afsondering met krag openbaar is deur die opstanding uit die dood as die Seun van God: Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester. 5In Hom het ons onverdiende guns en die amp as afgevaardigde onder alle nasies ontvang sodat hulle die vertroue van Sy Outoriteit en Karakter kan gehoorsaam, 6want ook julle is geroep, vanuit hulle, deur Yeshua, Die Gesalfde Een.

7Aan almal wat in Rome is, vir wie God lief is, geroep en afgesonderd: onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God, ons Vader en van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!

8In die eerste plek dank ek my God in Yeshua, Die Gesalfde Een, vir julle almal, want daar word van julle vertroue gehoor oor die hele wêreld. 9God, wat ek in my gees dien deur die goeie boodskap van Sy Seun, is my Getuie dat ek julle elke keer in my gebede onthou. 10Ek soek guns dat daar nou vir my ’n manier, deur die wil van God, oopgemaak sal word, om na julle toe te kom, 11want ek begeer sterk om julle te sien en vir julle ’n geskenk vanaf die Gees te gee sodat julle versterk mag word in Hom. 12Saam sal ons deur júlle, sowel as mý vertroue, bemoedig kan word. 13Ek wil dat julle weet, broers, dat ek dikwels begeer het om na julle toe te kom sodat daar ook onder julle vir my vrug kan wees, soos onder die ander nasies, maar tot nou toe verhinder is. 14Ek is verskuldig om aan elke persoon te verkondig; teenoor Grieke sowel as barbare, teenoor wyse sowel as oningeligte mense. 15Ek doen daarom moeite om ook aan julle wat in Rome is, die goeie boodskap te verkondig,

16want ek skaam my nie oor die goeie boodskap nie, want dit is die krag van God tot lewe vir elkeen wat aanhou om daarin te vertrou, of dit eerstens vir die Jood is of vir die ander nasies. 17Daarin word die onpartydige opregtheid van God openbaar deur vertroue tot vertroue volgens wat geskryf is: “Die regverdige sal vanuit vertroue lewe.”

18Die woede van God word daarom van die hemel af openbaar oor al die boosheid en onregverdigheid van die kinders van die mens, hulle wat die waarheid deur boosheid verhoed 19omdat ’n kennis van God aan hulle openbaar is, want God het dit aan hulle openbaar. 20Die geheime van God, asook Sy ewige krag en Goddelikheid, word van die skepping van die heelal af aan Sy skepsele in hulle intelligensie openbaar sodat hulle geen verskoning het nie 21omdat hulle God geken het en Hom nie as God vereer, geloof en aanbid, of Hom gedank het nie, maar gebrekkig geword het in hul redenering en hulle verstand, wil en emosie dof geword het, sonder begrip. 22Toe hulle in hulleself gedink het hulle is wys, het hulle dwase geword 23en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van die onverderflike God verander om te lyk soos die beeld van ’n verderfbare mens en die beelde van voëls, viervoetige diere en reptiele.

24As gevolg daarvan het God hulle oorgegee aan die vuil begeertes van hulle verstand, wil en emosie om hulle liggame onder mekaar te onteer 25en hulle het die waarheid van God verruil vir die valsheid en hulle het dinge wat geskep is vereer en gedien, meer as hulle Skepper, aan Wie al die lofprysing en seën toekom tot in alle ewigheid. Dit is waar!

26As gevolg hiervan het God hulle oorgegee aan siektes van skande, want hulle vroue het die natuurlike begeertes verander en gewoond geraak aan dit wat nie natuurlik is nie 27en net so het ook die mans die natuurlike seksuele begeertes na die vrou opgegee en brand in hulle begeertes na mekaar. Manne het met manne skandelike dade gepleeg en in hulle persoon die toepaslike straf van hulle misleiding gekry

28en omdat hulle in hulleself besluit het om God nie te ken nie, het God hulle oorgegee aan ’n waardelose denke sodat hulle doen wat nie reg is nie: 29hulle is vol van allerhande onregverdigheid, seksuele immoraliteit, boosheid, bitterheid, begeertes na meer; vol jaloesie, moord, stryery, misleiding, bose redenering, 30klagtes, skinder, haat teenoor God, beledigings, trots, grootpraat, uitvindings van boosheid, redeloosheid en ongehoorsaamheid aan hulle ouers 31en omdat daar geen stabiliteit in hulle is nie, is daar geen liefde, vrede of omgee in hulle nie. 32Hulle wat - terwyl hulle die oordele van God ken dat dié wat sulke dinge doen, veroordeel is tot die dood - nie alleen self dié dinge doen nie, maar ook assosieer met hulle wat dit doen.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 28
Top of Page
Top of Page