Afrikaans PWL 1Eers agterna het ons geleer dat die eiland Melite genoem word.
2Die ongekultiveerde mense wat daar gewoon het, het ons buitengewone goedheid en liefde bewys, want hulle het ’n groot vuur aangesteek weens die koue en die reën en ons almal daarby verwelkom.
3Sha’ul het ’n bondel droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit en ’n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt.
4Toe die inboorlinge die gevaarlike dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is beslis ’n moordenaar, wat die regverdige oordeel nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered.”
5Sha’ul het die adder in die vuur afgeskud en geen kwade gevolge gehad nie.
6Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval, maar nadat hulle lank gewag het en gesien het dat niks kwaads met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ’n god is. 7Die hoof van die eiland, wie se naam Poblios was, het in die omgewing van daardie plek ’n stuk grond gehad en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik gehuisves. 8Poblios se vader het siek gelê aan koors en disenterie en Sha’ul het ingegaan na hom toe en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. 9Hierna het ook die ander op die eiland wat siektes gehad het, na hom toe gekom en is gesond gemaak. 10Hulle het ons ook baie hoog geag en toe ons sou wegvaar, ons, van dit wat ons nodig het, voorsien. 11Ná drie maande het ons weggevaar in ’n skip van Alexandria met die skeepsmerk “Tweeling,” wat op die eiland oorwinter het 12en ons het by die stad Surakousai geland en drie dae lank daar gebly. 13Daarvandaan het ons rondgeseil en by die stad Region aangekom, ’n dag later het die suidewind opgekom en op die tweede het ons Potioloi bereik, ’n stad van Italië, 14waar ons broers gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly en toe het ons na Rome gegaan. 15Die broers wat van ons koms gehoor het, het ons tegemoet gekom by die Appiosmark en die Drie Herberge en toe Sha’ul hulle sien, het hy God geloof en is bemoedig. 16Ons het Rome binnegegaan en die kaptein oor honderd het Sha’ul toegelaat om op sy eie te bly, met ’n soldaat wat hom moes oppas. 17Ná drie dae het Sha’ul die leiers van die Jode saamgeroep en, nadat hulle bymekaargekom het, vir hulle gesê: “Broers, alhoewel ek niks gedoen het teen ons mense of die tradisies van ons vaders nie, is ek in Yerushalayim as gevangene oorgegee in die hande van die Romeine. 18Hulle het my ondersoek en wou my loslaat omdat daar by my geen oortreding was wat die dood verdien nie, 19maar toe die Jode dit teenstaan, was ek verplig om na die keiser te appelleer, nie asof ek iets het om my mense van te beskuldig nie. 20Om hierdie rede dan het ek gevra om u te sien en met u te praat, want dit is oor die versekerde verwagting van Yisra’el dat ek met hierdie ketting geboei is.” 21Hulle het vir hom gesê: “Ons het geen briewe oor u van Y’hudah ontvang nie, ook het geen van die broers hier aangekom en iets kwaads oor u berig nie, 22maar ons begeer om van u te hoor, wat u opinie is aangaande hierdie lering, want dit is aan ons bekend dat niemand dit aanvaar nie.” 23Hulle het vir hom ’n dag bepaal en baie het na die plek toe gekom waar hy bly. Van dagbreek tot die aand toe het hy die dinge vir hulle verduidelik en in diepte getuienis gegee aangaande die Koninkryk van God en vanuit die wet van Moshe en die profete, het hy hulle probeer oortuig aangaande Yeshua. 24Sommige was oortuig van wat gesê is, maar ander was nie oortuig nie. 25Hulle was onder mekaar verdeeld en het uitmekaargegaan nadat Sha’ul vir hulle gesê het: “Tereg het die Gees van Afsondering deur Yesha’yahu, die profeet, teen julle vaders gepraat 26toe hy gesê het: ‘Gaan na hierdie volk en sê: ‘Julle sal aanhou hoor, maar nooit verstaan nie en julle sal aanhou kyk en nooit sien nie,’ 27want die verstand, wil en emosie van hierdie mense het hard geword en hulle ore het hulle afgestomp en hulle oë het hulle toegemaak sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die verstand, wil en emosie verstaan en wegdraai van die sonde na My toe en Ek hulle vergewe nie.’ 28Laat dit dan verseker aan julle bekend wees dat die verlossing van God aan die ander nasies gestuur is en hulle luister daarna.” 29Toe hy dit gesê het, het die Jode weggegaan en baie het onder mekaar debatteer. 30Sha’ul het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom toe gekom het, 31terwyl hy die Koninkryk van God verkondig en openlik lering gegee het aangaande ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, sonder verhindering. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |