Openbaring 11
Afrikaans PWL
1’n Riet, soos ’n staf, is aan my gegee en die engel het gestaan en gesê: “Staan op en meet die tempel van God, die altaar en dié wat daar aanbid, 2maar die buitekant om die binnehof van die tempel moet jy uitsluit en dit nie meet nie, want dit is aan die ander nasies gegee en hulle sal die afgesonderde stad twee en veertig maande lank vertrap 3en Ek sal My twee getuies gee om vir een duisend twee honderd en sestig (1260) dae lank te profeteer, aangetrek in sakke. 4Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelare wat voor die Meester van die hele aarde staan 5en as iemand hulle wil skade aandoen, gaan daar vuur uit hulle mond en verteer hulle vyande; so is dit gegee dat hulle wat hul wil seermaak, doodgemaak word. 6Hulle het outoriteit om die lugruim toe te sluit sodat daar tydens die dae van hulle profesie geen reën val nie en hulle het outoriteit oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te slaan met allerhande plae, so veel as wat hulle wil.

7Wanneer hulle getuienis voltooi is, sal die dier wat uit die see uit opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak 8en hulle lyke sal op die straat van die groot stad, wat geestelik S’dom en Mitzrayim genoem word, waar hulle Meester gekruisig is, lê. 9Mense vanuit die volke, stamme, tale en nasies sal hulle lyke drie en ’n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in grafte gelê word nie. 10Die bewoners van die aarde sal bly wees oor hulle en hulle verheug en sal vir mekaar geskenke stuur, as gevolg van dié twee profete wat die bewoners van die aarde gepynig het.

11Ná drie en ’n halwe dag het ’n gees van lewe vanaf God in hulle ingegaan en hulle het op hulle voete gaan staan en die Gees van lewe het op hulle geval en groot vrees het die wat hulle gesien het, oorval 12en hulle het ’n harde stem uit die hemel vir hulle hoor sê: ‘Kom op hierheen!’ Hulle het opgegaan na die hemel in ’n wolk en hulle vyande het na hulle gestaar. 13Op daardie oomblik het daar ’n groot aardbewing gekom en een uit elke tien stede het geval en sewe duisend mense is in die aardbewing dood en die ander het bang geword en aan God wat in die hemel is eer, lof en aanbidding gebring.”

14Let op, twee weë het verbygegaan en let op, die derde ‘wee’ kom dadelik.

15Die sewende engel het geblaas en daar was harde stemme in die hemel wat sê: “Die koninkryk van die wêreld het die Koninkryk van ons God en van Sy Gesalfde Een geword en Hy sal heers vir tydlose ewigheid.” 16Die vier en twintig oudstes wat in die Teenwoordigheid van God op hulle trone sit, het op hulle gesigte geval, God aanbid 17en gesê: “Ons dank U, יהוה-God, wat alles vashou, wat is en wat was, want U het U groot krag opgeneem en geheers. 18Die nasies was woedend en U woede het gekom en die tyd dat die wat dood is, geoordeel sal word en U beloning sal gee aan U diensknegte, die profete, aan die afgesonderdes en aan dié wat U Outoriteit en Karakter respekvol vrees, klein en groot en U sal hulle wat die aarde korrup gemaak het vernietig.”

19Die tempel in die hemel is oopgemaak en die ark van die verbond is in Sy tempel gesien en daar was weerlig, stemme, donderslae, aardbewings en groot hael.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 10
Top of Page
Top of Page