Psalms 77
Afrikaans PWL
1Vir die musiekleier: op die wysie van “Y’dutun (’n Lofgedig),” ’n gedig van Asaf, met instrumentale musiek. 2 Ek het uitgeroep tot God met my stem en Hy hoor my; ek het my stem tot Hom toe opgelig en Hy antwoord my.

2Op die dag van my moeilikheid het ek na יהוה gesoek; my foltering het deur die nag aangehou en nie opgehou nie; daar was geen trooster vir my lewe nie.

3Toe ek onthou het, o God, was ek omgekrap; ek het dit deurdink en my gees was oorweldig.

4My oë is verdof; ek is stom sodat ek nie kan praat nie.

5Ek het die ou dae oordink, ek neem die jare van die ou tyd in ag.

6Ek oordink ver in die nag in, ek kommunikeer met my eie verstand, wil en emosie; ek het my lewe ondersoek en gesê:

7“Het יהוה my vir ewig in die steek gelaat en sal Hy nooit weer goedgunstig wees nie?

8Is Sy onverdiende guns vir ewig verby, faal Sy belofte ewiglik?

9Het God vergeet om goedgunstig te wees? Het Hy Sy liefdevolle omgee toegesluit in Sy woede?”

10Ek het ook gesê: “Dit is my kranklikheid; dit is nog ’n besoek van die krag van die Allerhoogste!”

11Ek sal die dade van Yah onthou; ek sal sekerlik die wonders van ouds onthou.

12Ek sal ook al U werk oordink en dink aan U bekwame dade.

13U werkswyse is afgesonderd, o God; daar is niemand so groot soos ons God nie.

14U is die God wat wonders doen; U het U sterkte onder die mense verklaar.

15U het U volk met U arm verlos, die seuns van Ya’akov en van Yosef.

16Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien; hulle was bang en die dieptes was ook omgekrap.

17Die wolke het water uitgegiet, die hemele het ’n klank laat hoor; U pyle het rondgevlieg.

18Die stem van U donder was in die hemele; die weerligstrale het die wêreld verlig; die aarde het gebewe en geskud.

19U manier van doen is in die see en U pad is in die groot waters, maar U voetspore word nie gesien nie.

20U het U volk soos skape gelei deur die hand van Moshe en Aharon.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 76
Top of Page
Top of Page