Psalms 78
Afrikaans PWL
1’n Onderriggewende gedig van Asaf. My volk, luister na My wet; draai julle ore na die woorde van My mond.

2Ek sal My mond oopmaak in vergelykende stories; Ek sal raaisels uit die ou tyd uiter.

3Dit wat ons gehoor het en ken, wat ons vaders ons vertel het,

4sal ons nie vir hulle seuns wegsteek nie, maar aan die volgende geslag vertel van die lofprysinge van יהוה, Sy sterkte en die wonderlike dade wat Hy gedoen het,

5want Hy het ’n getuienis opgerig in Ya’akov en ’n wet aangestel in Yisra’el, wat Hy aan ons vaders beveel het, om dit aan hulle seuns bekend te maak

6sodat die volgende geslag hulle kan ken, selfs die seuns wat nog gebore sal word, wat moet opstaan en dit aan hulle seuns vertel

7dat hulle hul versekerde verwagting in God kan plaas en nie die dade van God vergeet nie, maar Sy opdragte kan uitvoer

8en nie wees soos hulle vaders nie, ’n hardkoppige en rebelse geslag, ’n geslag wat nie hulle verstand, wil en emosie herstel het nie en wie se gees nie standvastig was teenoor God nie.

9Die seuns van Efrayim, boogskutters bewapen met boë, het omgedraai op die dag van die geveg.

10Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te leef in Sy wet.

11Hulle het Sy dade en sy wonders vergeet wat Hy hulle voor die oë van hulle vaders gewys het.

12Hy het wonderlike dinge gedoen in die land van Mitzrayim, in die velde van Tzo’an.

13Hy het die see verdeel en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos in watersakke.

14In die dag het Hy hulle ook gelei met ’n wolk en die hele nag met ’n lig van vuur.

15Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle laat drink soos uit groot dieptes.

16Hy het strome ook uit die rots laat uitgaan en die waters laat afloop soos riviere,

17maar die mense het voortgegaan om te sondig en om te murmureer teen die Allerhoogste in hulle dors na water

18en hulle het God getoets in hul verstand, wil en emosie deur kos te vra om hulle begeertes te vervul.

19Ja, hulle het teen God gekla. Hulle het gesê: “Kan God tafels met kos voorsien in die wildernis?

20Let op, Hy het die rots geslaan dat waters uitvloei en die strome oorvloei; kan Hy brood ook gee, kan Hy kos gee vir Sy mense?

21יהוה het dit gehoor en daarom kwaad geword; ’n vuur is dus aangesteek teen Ya’akov en woede het ook opgekom teen Yisra’el

22omdat hulle nie in God geglo en in Sy verlossing vertrou het nie

23alhoewel Hy die wolke daarbo beveel het en die deure van die hemel oopgemaak het

24en vir hulle ‘man hu’ laat reën het om te eet en vir hulle van die brood van die hemel gegee het;

25die mens het die kos van engele geëet; en Hy het vir hulle oorvloediglik wild gestuur.

26Hy het winde laat waai in die lug en deur Sy krag die Suidewind ingebring;

27Hy het ook vleis soos stof op hulle laat reën en geveerde voëls soos die sand aan die see

28en Hy het hierdie binne-in hulle kamp laat val, rondom hulle tente.

29Hulle het geëet en was ten volle versadig, want Hy het aan hulle hul eie begeerte gegee.

30Tog het hulle nie hul begeerte opgegee nie, maar terwyl hulle kos nog in hulle mond was,

31het die woede van God teen hulle opgekom en die rykstes onder hulle neergeslaan en die gekose van Yisra’el laat buig.

32Nogtans het hulle steeds gesondig en nie in Sy wonderlike dade geglo nie;

33daarom is hulle dae in sinnelose boosheid deurgebring en hulle jare in ongeduld.

34Wanneer Hy hulle neergeslaan het, het hulle Hom gesoek en teruggedraai en nader aan Hom gekom

35en hulle het onthou dat God hulle Helper was en die Allerhoogste God hulle Verlosser.

36Nogtans het hulle Hom liefgehad met hulle monde en vir Hom gelieg met hulle tonge,

37want hulle verstand, wil en emosie was nie getrou aan Hom nie en ook was hulle nie standvastig in Sy verbond nie.

38Hy is vol onverdiende guns, die Vergewer van sonde en Hy vernietig nie; ja baie keer draai Hy Sy woede weg en wek nie Sy volle toorn op nie,

39want Hy het onthou dat hulle slegs vlees is, ’n wind wat verbygaan en nie weer kom nie.

40Hoe dikwels het hulle Hom kwaad gemaak in die wildernis, Hom gegrief in die woestyn.

41Ja, hulle het teruggedraai en God getoets, die Afgesonderde Een van Yisra’el geïgnoreer.

42Hulle het nie Sy hand onthou nie, of die dag toe Hy hulle van die onderdrukker bevry het nie,

43hoe Hy Sy tekens in Mitzrayim gedoen het en Sy wonders in die veld van Tzo’an,

44of hoe Hy hulle riviere en hulle stroompies in bloed verander het sodat hulle nie kon drink nie.

45Hy het swerms insekte tussen hulle ingestuur wat hulle opgevreet het en paddas wat hulle vernietig het.

46Hy het ook hulle oes aan die sprinkane gegee en hulle harde werk aan die rusper.

47Hy het hulle wingerde met hael verwoes en hulle vyebome deur ryp.

48Hy het ook hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee tot vernietiging.

49Hy het die intensiteit van Sy woede oor hulle gestuur, woede, toorn en moeilikheid, deur die hand van ’n bose engel.

50Hy het kragtige metodes gebruik, hulle lewens nie gespaar van die dood nie en hulle beeste oorgegee aan die pes

51en al die eersgeborenes in Mitzrayim neergeslaan, die mooiste van hulle seuns in die tente van Gam,

52maar Hy het Sy eie volk laat uittrek soos skape en hulle begelei in die wildernis soos ’n kudde.

53Hy het hulle veilig gelei sodat hulle nie bang was nie, maar die see het hulle vyande oorweldig

54en Hy het hulle gebring na die grens van Sy Afgesonderde Plek, na hierdie berg, wat Sy regterhand besit het.

55Hy het die ander nasies voor hulle uit verdryf en aan hulle ’n erfenis gegee deur mate en die stamme van Yisra’el in hulle tente laat bly.

56Tog het hulle die Allerhoogste getoets en kwaad gemaak en nie Sy getuienisse onderhou nie,

57maar hulle het teruggedraai en misleidend opgetree, soos hulle vaders; hulle was verdraaid soos ’n gedraaide boog,

58want hulle het Hom kwaad gemaak deur op hoë plekke te offer en deur hulle gesnede beelde Sy woede opgewek.

59Toe God dit gehoor het, was Hy woedend en het Hy Yisra’el gehaat

60sodat Hy die Tabernakel in Shiloh verlaat het, die Tent wat Hy opgeslaan het tussen mense

61en Hy het Sy volk oorgegee in gevangeskap en Sy lof en eer in die hand van die onderdrukker.

62Hy het Sy volk oorgelewer aan die swaard en Sy erfenis nie geag nie.

63Die vuur het hulle jongmanne verteer en hulle jong dogters is geskend.

64Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees het nie getreur nie.

65Toe het יהוה opgestaan soos een uit die slaap uit, soos ’n magtige een wat die effek van wyn afgeskud het

66en Hy het Sy teëstanders laat terugdeins, hulle in ’n ewige verwerping gesit.

67Meer nog, Hy het die tent van Yosef geweier en die stam van Efrayim het Hy nie gekies nie,

68maar Hy het die stam van Y’hudah gekies, die berg Tziyon wat Hy liefhet

69en Sy Afgesonderde Plek gebou op ’n hoë plek en dit vir ewig op die aarde gevestig.

70Hy het ook vir Dawid, Sy kneg, gekies en hom vanaf die skaapkrale gevat;

71van om die voedende ooie te volg, het Hy hom gebring om Ya’akov, Sy volk en Yisra’el, Sy erfdeel, te voed.

72Hy het hulle versorg volgens die integriteit van sy verstand, wil en emosie en hulle gelei deur die bekwaamheid van sy hande.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 77
Top of Page
Top of Page