Psalms 103
Afrikaans PWL
1Van Dawid. Loof en eer יהוה, o my lewe en alles wat binne-in my is, loof en eer Sy Afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit)!

2Loof en eer יהוה, o my lewe en moenie al Sy dade vergeet nie:

3wat al jou morele boosheid vergewe, wat al jou siektes genees;

4wat jou lewe losgekoop het van vernietiging; wat jou kroon met goedheid en liefdevolle omgee;

5wat jou mond versadig met goeie dinge sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ’n arend.

6יהוה is Onpartydig Opreg en het regverdige oordeel vir almal wat onderdruk word.

7Hy het Sy lewenswyse aan Moshe bekend gemaak, Sy dade aan die seuns van Yisra’el.

8Liefdevolle Omgee en Onverdiende Guns is יהוה, stadig om kwaad te word en oorvloedig in onverdiende guns.

9Hy sal nie vir altyd twis en ook nie vir ewig Sy woede behou nie.

10Hy het nie met ons gehandel volgens ons sondes nie en ons ook nie beloon volgens ons morele boosheid nie,

11want soos die hemele hoog bo die aarde is, so groot is Sy goedheid teenoor dié wat Hom respekvol vrees.

12So ver as wat die ooste is van die weste, so ver het Hy ons rebellie van ons af verwyder.

13Soos ’n vader omgee vir sy seuns, so gee יהוה om vir die wat Hom respekvol vrees,

14want Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy onthou dat ons stof is.

15Wat die mens betref, sy dae is soos gras; soos ’n blom van die veld, so bloei hy,

16want wanneer die wind daaroor gaan, is dit weg en sy plek word nie meer geken nie,

17maar die liefdevolle omgee van יהוה is van ewigheid tot ewigheid vir hulle wat Hom respekvol vrees en Sy onpartydige opregtheid vir die kinders se kinders,

18vir die wat Sy verbond onderhou en vir hulle wat Sy opdragte onthou om hulle te doen.

19יהוה het Sy troon in die hemele voorberei en Sy Koninkryk heers oor alles.

20Loof en eer יהוה, julle, Sy boodskappers wat kragtig is, wat Sy opdragte uitvoer in gehoorsaamheid aan die stem van Sy woord!

21Loof en eer יהוה, almal van julle, Sy leërmagte; julle dienaars van Hom wat doen wat Hom tevrede stel!

22Loof en eer יהוה, al Sy werke, op al die plekke van Sy heerskappy! Loof en eer יהוה, o my lewe!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 102
Top of Page
Top of Page