Psalms 102
Afrikaans PWL
1’n Gebed van die onderdrukte as hy oorweldig is en sy klagte uitstort voor יהוה. 2 Luister en hoor my gebed, o יהוה en laat my uitroep tot by U kom!

2Draai nie U gesig weg van my op die dag as ek in die moeilikheid is nie; draai U oor na my toe; op die dag wat ek roep, antwoord my gou,

3want my dae word verslind soos rook en my gebeente word wit gemaak asof hulle brand.

4My verstand, wil en emosie is platgeslaan en verdor soos gras sodat ek vergeet om my brood te eet.

5As gevolg van die stem van my gesug, kleef my gebeente vas aan my vlees.

6Ek is soos ’n pelikaan van die wildernis; ek is soos ’n uil van die woestyn.

7Ek word geskud en is alleen soos ’n mossie op die dakke van die huise.

8Die hele dag lank spot my vyande my; die wat my eens geprys het, is nou geswore teen my.

9Ek het as soos brood geëet en my drank gemeng met trane,

10as gevolg van U woede en U toorn, want U het my opgelig en my neergegooi.

11My dae is soos ’n skaduwee wat verleng en ek is verdroog soos gras,

12maar U, o יהוה, sal voortduur vir ewig en U herinnering tot in alle geslagte.

13Staan op en wys onverdiende guns aan Tziyon, want dit is tyd om aan haar onverdiende guns te wys,

14want U knegte het plesier in haar klippe en vind guns in die stof daarvan.

15So sal die ander nasies die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה respekvol vrees en al die konings van die aarde U Gemanifesteerde Teenwoordigheid.

16Wanneer יהוה Tziyon opbou, sal Hy in Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid verskyn.

17Hy sal die gebed van die onderdrukte in ag neem en nie hulle gebed verag nie.

18Dit sal opgeskryf word vir die komende geslagte en die volk wat geskep sal word, sal יהוה suiwer, helder en duidelik loof,

19want Hy het neergekyk vanaf die hoogte van Sy afgesonderde plek; vanaf die hemel het יהוה op die aarde gelet,

20om die gekerm van die gevangenes te hoor, om die wat tot die dood bestem is, los te maak,

21om die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה in Tziyon te verkondig en Sy lofprysing in Yerushalayim,

22wanneer die volke en die koninkryke saam vergader om יהוה te dien.

23Hulle het my krag op die aarde verswak; my gewaarsku oor die kortheid van my dae.

24O, my God, neem my nie weg in die middel van my dae nie; U jare is regdeur alle geslagte!

25Van ouds het U die aarde se fondasies gelê en die hemele is die werk van U hande.

26Húlle sal tot niet gaan, maar U sal voortgaan; ja, hulle sal almal soos ’n kledingstuk verslyt; soos ’n rok sal hulle verdof,

27maar U is dieselfde en U jare sal geen einde hê nie.

28Die seuns van U diensknegte sal voortgaan en hulle nageslag sal voor U bevestig wees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 101
Top of Page
Top of Page