Spreuke 1
Afrikaans PWL
1Die spreuke van Shlomo, die seun van Dawid, koning van Yisra’el,

2om wysheid en dissipline te ken, om boodskappe van insig te verstaan,

3om dissipline, respek, onpartydige opregtheid, regverdige oordeel en gelykheid te ontvang;

4om aan die eenvoudiges onderskeiding te gee, aan die jongman kennis en beplanning;

5’n wyse man sal luister en insig vermeerder en ’n man van begrip sal leierskap verkry;

6om spreuke en beeldspraak te verstaan - die woorde van die wyse manne en hulle raaisels.

7Die respekvolle vrees vir יהוה is die begin van kennis, maar dwase verag wysheid en instruksies.

8My seun, luister, hoor en doen die instruksies van jou vader en verwerp nie die wet van jou moeder nie,

9want hulle sal ’n lieflike ornament wees vir jou kop en ’n halssnoer vir jou nek.

10My seun, as die sondaars jou verlei, moenie toegee nie.

11As hulle vir jou sê: “Kom saam met ons, laat ons lê en wag om bloed te vergiet, laat ons lê en wag vir die onskuldige sonder oorsaak,

12laat ons hulle lewendig verslind soos Sh’ol die lewendes verslind en heel insluk soos hulle wat afgaan in die put;

13ons sal al sy rykdom en kosbare goed vind, ons sal ons huise vol maak met buit.

14Gooi jou lot in by ons, laat ons almal een beursie hê.”

15My seun, moenie in hulle lewenswyse leef nie, hou jou voet terug van hulle pad,

16want hulle voete hardloop na die bose, hulle haas hulle om bloed te vergiet.

17Die net word in misleiding uitgesprei voor die oë van enige voël

18en hulle lê en wag, hulle kruip weg om bloed te vergiet.

19So is die lewenswyse van almal wat onregverdig is; dit neem lewe weg van die eienaar.

20Wysheid word opgelig in die markplein, sy lig haar stem op in die strate,

21sy verkondig in die hoof plekke van bymekaarkoms; by die openinge van die poorte van die stad, bring sy haar boodskappe:

22Hoe lank sal julle, eenvoudiges, kinderagtigheid liefhê, die spotters hulle spot geniet en die dwase kennis haat?

23As julle jul tot My teregwysing sal draai, let op, Ek sal My Gees op julle uitstort, Ek sal My boodskappe aan julle bekend maak,

24want Ek het geroep en julle het geweier, Ek het My hand uitgesteek en julle het nie geluister nie,

25maar julle het al My raad verag en was nie bly oor My teregwysing nie.

26Ek sal ook lag by julle katastrofe, Ek sal my verheug as angs en skielike vernietiging oor julle kom;

27as julle vernietiging kom soos ’n warrelwind, wanneer benoudheid en angs oor julle kom,

28dan sal hulle na My toe uitroep, maar Ek sal hulle nie antwoord nie; vroeg sal hulle My soek, maar My nie vind nie,

29want hulle het kennis gehaat en nie die respekvolle vrees van יהוה verkies nie.

30Hulle was nie tevrede met My raad nie, hulle het al My teregwysinge verwerp;

31daarom sal hulle eet van die vrug van hulle eie lewenswyse en versadig word deur hul eie planne,

32want die wegdraai van die eenvoudiges sal hulle doodmaak en die foute van die swaksinnige sal hom vernietig,

33maar die wat na My luister en dit doen, sal in versekerde verwagting leef en sal wegbly van baie booshede.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 150
Top of Page
Top of Page