Numeri 6
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘As ’n man of ’n vrou ’n buitengewone eed aflê, die eed van ’n Nazir, om hom aan יהוה toe te wy, 3moet hy hom van wyn en sterk drank weerhou; wynasyn en asyn van sterk drank mag hy nie drink nie. Hy mag ook geen druiwesap drink nie en geen vars of gedroogde druiwe eet nie. 4Al die dae van sy afsonderingskap mag hy niks eet van enige iets wat van die wynstok gemaak is nie, van die pitte tot die doppe.

5Al die dae van die eed van sy afsonderingskap mag geen skeermes oor sy kop gaan nie. Totdat die dae om is, waarvoor hy hom aan יהוה toewy, moet hy afgesonderd wees; hy moet die haarlokke van sy kop laat groei.

6Al die dae dat hy hom aan יהוה toegewy het, mag hy nie naby ’n dooie kom nie. 7Hy sal homself nie onrein maak vir die dood van sy vader of sy moeder, sy broer of sy suster nie, want sy toewyding tot God is op sy kop. 8Al die dae van sy afsondering is hy afgesonderd tot יהוה.

9As iemand heeltemal onverwags naby hom sterf sodat hy sy toegewyde kop met hare verontreinig, moet hy op die dag van sy reiniging sy kop skeer; op die sewende dag moet hy dit skeer 10en op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester, na die ingang van die Tent van Ontmoeting, bring. 11Die priester moet een as sondoffer en een as brandoffer offer en vir hom toedekking doen vir wat hy as gevolg van die dooie gesondig het en hy moet sy kop op dieselfde dag afsonder. 12Hy moet sy dae as Nazir aan יהוה toewy en ’n lam in sy eerste jaar as oortredingsoffer bring en die vorige dae is verlore omdat sy afsondering onrein gemaak is.

13Dit is die wet van die Nazir: wanneer die dae van sy afsonderingskap voltooi is, moet hy na die ingang van die Tent van Ontmoeting gebring word 14en hy moet sy offer aan יהוה bring: een lam, in sy eerste jaar, sonder gebrek, as brandoffer, een ooilam, in haar eerste jaar, sonder gebrek, as sondoffer, een ram, sonder gebrek, as vredesoffer, 15’n mandjie ongesuurde koeke, van fyn meel, gemeng met olie, ongesuurde platkoeke, met olie gesmeer en die graanoffer en die vredesoffers wat daarby hoort. 16Die priester moet dit voor יהוה bring en die sondoffer en brandoffer vir hom offer 17en hy moet ook die ram as vredesoffer aan יהוה offer saam met die mandjie ongesuurde koeke en die priester moet die graanoffer en drankoffer vir hom offer. 18Die Nazir moet sy toegewyde kop skeer by die ingang van die Tent van Ontmoeting en die hare van sy toegewyde kop vat en dit op die vuur gooi, wat onder die vredesoffer is. 19Die priester moet die gekookte blad van die ram vat en een ongesuurde koek uit die mandjie en een ongesuurde platkoek en hy moet hulle op die hande van die Nazir sit nadat dié sy toegewyde hare afgeskeer het. 20Die priester moet dit waai as waaioffer voor יהוה. Dit is afgesonderd vir die priester, saam met die bors van die waaioffer en die boud van die opligoffer, daarna mag die Nazir wyn drink.

21Dit is die wet vir die Nazir wat sy offer aan יהוה beloof, op grond van sy afsondering, behalwe wat sy hand kan bekostig. Volgens sy eed wat hy afgelê het, só moet hy doen volgens die wet van sy afsondering.’”

22יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 23“Praat met Aharon en sy seuns en sê: ‘Op die manier moet julle die seuns van Yisra’el seën. Sê vir hulle:

24יהוה seën jou en onderhou jou;

25יהוה laat Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid oor jou skyn en gee vir jou onverdiende guns;

26יהוה lig Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid oor jou op en gee vir jou vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid.”

27So sal hulle My Karakter en Outoriteit op die seuns van Yisra’el lê en Ék sal hulle seën.”’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 5
Top of Page
Top of Page