Numeri 4
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê: 2“Tel die koppe van die seuns van K’hat, vanuit die seuns van Levi, volgens hulle families, volgens hulle vaders se huise, 3van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, almal wat in diens tree, om werk by die Tent van Ontmoeting te doen. 4Dit sal die dienswerk van die seuns van K’hat by die Tent van Ontmoeting wees, aangaande die volkome afgesonderde dinge.

5Wanneer die kamp opbreek moet Aharon en sy seuns ingaan en die verdelingsgordyn afhaal en die ark van die Getuienis daarmee bedek 6en hulle moet ’n dekkleed van dugongvelle daaroor sit en ’n doek, heeltemal van blou materiaal, daar bo-oor uitsprei en sy pale insteek. 7Hulle moet ook, oor die tafel van die brood van die Teenwoordigheid, ’n blou doek uitsprei en daarop die skottels, die rookpanne, die bekers en die drankofferkanne neersit; ook moet die voortdurende brood van Teenwoordigheid daarop wees. 8Daarna moet hulle ’n skarlakenrooi doek daaroor uitsprei en dit met ’n dekkleed van dugongvelle toemaak en sy pale insteek. 9Hulle moet ’n blou doek neem en die lampstaander vir beligting, met sy lampe, sy snuiters, sy bakkies en al sy oliekanne waarmee hulle dit bedien, toemaak. 10Hulle moet dit met al sy bybehore op ’n dekkleed van dugongvelle neerlê en dit op die draagbaar sit. 11Hulle moet ’n blou kleed oor die goue altaar uitsprei en dit met ’n dekkleed van dugongvelle toemaak en sy pale insteek. 12Hulle moet ook al die bybehore vat waarmee hulle in die Afgesonderde plek diens doen en dit op ’n blou doek neerlê en met ’n dekkleed van dugongvelle toemaak en dit op die draagbaar sit. 13Hulle moet die as van die altaar verwyder en ’n pers doek daaroor uitsprei. 14Hulle moet al sy bybehore, waarmee hulle daarby diens doen, daarop neersit: die vuurpanne, die vurke, die skoppe, die komme, al die bybehore van die altaar en hulle moet daar ’n dekkleed van dugongvelle oor uitsprei en sy pale insteek. 15Eers nadat Aharon en sy seuns, by die opbreek van die kamp, klaar is met die toemaak van die Afgesonderde voorwerpe en van al die bybehore van die Afgesonderde plek, moet die seuns van K’hat kom om dit te dra sodat hulle nie aan die afgesonderde dinge raak en hulle sterf nie. Hierdie dinge van die Tent van Ontmoeting is dit wat die seuns van K’hat moet dra.

16El’azar, die seun van die priester Aharon, is verantwoordelik vir die olie vir die lampstaander, die reukwerk van speserye, die voortdurende graanoffer en die salfolie; die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is: die Afgesonderde plek en sy bybehore.”

17יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê: 18“Moenie die stam van die families van K’hat onder die Leviete afsny nie, 19maar doen vir hulle dit sodat hulle lewe en nie sterf wanneer hulle die volledig afgesonderde dinge nader nie: Aharon en sy seuns moet ingaan en elkeen aanstel oor sy dienswerk en oor wat hy moet dra, 20maar hulle moenie ingaan om te kyk na die afgesonderde dinge nie, selfs nie vir ’n oomblik nie, of hulle sal sterf.”

21יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 22“Tel ook die koppe van die seuns van Gershon, volgens hulle vaders se huise, volgens hulle families, 23van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, moet jy hulle tel, almal wat in diens tree om werk by die Tent van Ontmoeting te doen. 24Dit is die dienswerk van die families van Gershon by die bediening en by die dra: 25hulle moet die gordyne van die tabernakel dra, ook die Tent van Ontmoeting, sy dekkleed en die dekkleed van dugongvelle wat daar bo-oor is en die gordyn vir die ingang van die Tent van Ontmoeting, 26die gordyne van die voorhof en die gordyn vir die ingang van die poort van die voorhof, wat rondom die tabernakel en die altaar is en hulle toue sowel as al die bybehore wat by die bediening daarvan hoort en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle doen. 27Al die dienswerk van die seuns van Gershon, alles wat hulle moet dra en al hulle diens, moet wees volgens die bevel van Aharon en sy seuns en julle moet hulle verantwoordelikheid van hulle drawerk aanwys. 28Dit is die dienswerk vir die families van die seuns van die Gershoniete by die Tent van Ontmoeting. Hulle toesig sal wees onder die hand van Itamar, die seun van Aharon, die priester.

29Wat die seuns van M’rari betref; jy moet hulle tel, volgens hulle families, volgens hulle vaders se huise, 30van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, moet jy hulle tel, almal wat in diens tree om werk by die Tent van Ontmoeting te doen. 31Dit is hulle verantwoordelikheid wat hulle moet dra volgens al hulle dienswerk by die Tent van Ontmoeting: die planke van die tabernakel met sy pale, sy pilare, sy voetstukke, 32die pilare van die voorhof rondom, met hulle voetstukke, hulle penne en hulle toue, al die bybehore sowel as alles wat by die bediening daarvan hoort en jy moet aan elkeen, by name, die bybehore, wat sy verantwoordelikheid is om te dra, aanwys. 33Dit is die dienswerk vir die families van die seuns van M’rari, al hulle diens by die Tent van Ontmoeting, onder leiding van Itamar, die seun van Aharon, die priester.”

34Moshe en Aharon en die leiers van die vergadering het die seuns van K’hat getel volgens hulle families en volgens hulle vaders se huise; 35van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, almal wat gekom het om die werk van bediening by die Tent van Ontmoeting te doen 36en die wat getel is, volgens hulle families, is twee duisend sewe honderd en vyftig (2 750). 37Dit is die wat getel is van die families van K’hat, almal wat by die Tent van Ontmoeting gedien het, wat Moshe en Aharon, volgens die opdrag van יהוה, deur die hand van Moshe getel het.

38Die wat getel is van die seuns van Gershon volgens hulle families en volgens hulle vaders se huise, 39van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, almal wat gekom het om die werk van bediening by die Tent van Ontmoeting te doen, 40die wat getel is, volgens hulle families, volgens hulle vaders se huise: twee duisend ses honderd en dertig (2 630). 41Dit is die wat getel is van die geslagte van Gershon se seuns, almal wat by die Tent van Ontmoeting gedien het, wat Moshe en Aharon, volgens die opdrag van יהוה, getel het.

42Die wat getel is van die families van M’rari se seuns, volgens hulle families, volgens hulle vaders se huise, 43van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, almal wat gekom het om die werk van bediening by die Tent van Ontmoeting te doen, 44die van hulle wat getel is, volgens hulle families: drie duisend twee honderd (3 200). 45Dit is die wat getel is van die families van M’rari se seuns, wat Moshe en Aharon volgens die opdrag van יהוה, deur die hand van Moshe, getel het.

46Al die Leviete wat Moshe, Aharon en die leiers van Yisra’el getel het, volgens hulle families en volgens hulle vaders se huise, 47van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, almal wat gekom het om die werk van bediening en die werk van dra by die Tent van Ontmoeting te doen, 48hulle is getel as agt duisend vyf honderd en tagtig (8 580). 49Deur die opdrag van יהוה, deur die hand van Moshe is hulle getel, elkeen volgens sy dienswerk of sy drawerk; dit is die getelde manne, soos יהוה Moshe beveel het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 3
Top of Page
Top of Page