Numeri 3
Afrikaans PWL
1Hierdie is die nageslag van Aharon en Moshe op die dag toe יהוה met Moshe op die berg Sinai gepraat het. 2Hierdie is die name van die seuns van Aharon: Nadav, die eersgeborene, Avihu, El’azar en Itamar. 3Hierdie is die name van die seuns van Aharon, die gesalfde priesters, wat hy aangestel het om as priesters te dien. 4Nadav en Avihu het egter gesterf voor die Teenwoordigheid van יהוה toe hulle vreemde vuur voor יהוה in die wildernis van Sinai gebring het en hulle het geen seuns gehad nie. El’azar en Itamar het as priesters bedien in die leeftyd van hulle vader Aharon.

5יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 6“Laat die stam van Levi naderkom en bring hulle voor die priester, Aharon sodat hulle hom kan dien. 7Hulle moet vir hom diens doen en hulle moet vir die hele vergadering, voor die Tent van Ontmoeting, die dienswerk van die tabernakel doen. 8Hulle moet sorg vir al die bybehore van die Tent van Ontmoeting en vir die behoeftes van die seuns van Yisra’el, deur die dienswerk van die Tabernakel te doen. 9Jy moet die Leviete aan Aharon en sy seuns gee; hulle is volkome vir hom, vanuit die seuns van Yisra’el, aangewys. 10So moet jy Aharon en sy seuns aanstel sodat hulle in beheer sal wees van die priestersamp en die vreemdeling wat naderkom, moet gedood word.”

11יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 12“Let op, Ek Self het die Leviete gevat vanuit die seuns van Yisra’el in die plek van al die eersgeborenes wat die baarmoeder, vanuit die seuns van Yisra’el, open; daarom sal die Leviete Myne wees, 13want al die eersgeborenes is Myne. Op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Mitzrayim getref het, het Ek al die eersgeborenes in Yisra’el vir My afgesonder, mense sowel as diere. Hulle is Myne. Ek is יהוה.”

14יהוה het met Moshe gepraat in die wildernis van Sinai en gesê: 15“Tel die seuns van Levi volgens hulle vaders se huise, volgens hulle families; almal wat manlik is, van ’n maand oud en ouer, dié moet jy tel.” 16Moshe het hulle volgens die woord van יהוה getel, soos hy beveel is. 17Hierdie was die seuns van Levi volgens hulle name: Gershon, K’hat en M’rari. 18Dit is die name van die seuns van Gershon volgens hulle families: Livni en Shim’i. 19Die seuns van K’hat volgens hulle families: `Amram, Yitz’har, Hevron en `Uzi’el. 20Die seuns van M’rari volgens hulle families: Magli en Mushi. Dit is die families van die Leviete volgens hulle vaders se huise.

21Vanaf Gershon het die familie van die Livni en die familie van die Shim’i gekom. Dit is die families van die Gershoniete. 22Volgens die getal van almal wat manlik is, van ’n maand oud en ouer, was die wat getel is sewe duisend vyf honderd (7 500). 23Die families van die Gershoniete moet kamp opslaan agter die tabernakel aan die westekant. 24Die leier oor die vader van die Gershoniete se huis is Elyasaf, die seun van La’el.

25Die verantwoordelikheid van die seuns van Gershon by die Tent van Ontmoeting was: die tabernakel en die tent, sy dekkleed en die gordyn vir die ingang van die Tent van Ontmoeting, 26die gordyne van die voorhof en die gordyn vir die ingang van die voorhof, wat rondom die tabernakel en die altaar is, sy toue en al die instrumente daarvan.

27Vanuit K’hat het die familie van `Amram, die familie van Yitz’har, die familie van Hevron en die familie van `Uzi’el gekom. Dit is die families van K’hat. 28Die getal van almal wat manlik is, van ’n maand oud en ouer, wat die diens van die Afgesonderde plek gedoen het, was agt duisend ses honderd (8 600). 29Die families van die seuns van K’hat moet kamp opslaan langs die tabernakel, aan die suidekant. 30Die leier oor die vaders van die families van K’hat se huis is Elitzafan, die seun van `Uzi’el. 31Hulle verantwoordelikheid was: die ark, die tafel, die lampstaander, die altare en die bybehore van die Afgesonderde Plek, waarmee hulle diens doen en die verdelingsgordyn en alles wat by die bediening daarvan hoort. 32El’azar, die seun van Aharon, die priester, was die hoof van die leiers van die Leviete, die opsigter oor dié wat die diens van die Afgesonderde plek doen.

33Vanuit M’rari het die familie van Magli en die familie van Mushi gekom. Dit is die families van M’rari. 34Die getal van almal wat manlik is, van ’n maand oud en ouer, was ses duisend twee honderd (6 200). 35Die leier oor die vaders van die families van M’rari se huis is Tzuri’el, die seun van Avigayil; hulle moet kamp opslaan langs die tabernakel, aan die noordekant. 36Die aangestelde verantwoordelikheid van die seuns van M’rari was oor die raamwerk van die tabernakel, sy balke, sy pilare, sy voetstukke en al die bybehore sowel as al die diens wat daarby hoort 37en die pilare van die voorhof rondom, hulle voetstukke, hulle penne en hulle toue.

38Die wat voor die tabernakel moet kamp opslaan, aan die oostekant, voor die Tent van Ontmoeting, waar die son opkom, moet Moshe en Aharon, met sy seuns wees, wat toesig hou oor die Afgesonderde plek en toesig hou oor die seuns van Yisra’el. Die vreemdeling wat naderkom, moet doodgemaak word. 39Al die Leviete wat getel is, wat Moshe en Aharon, volgens die bevel van יהוה, volgens hulle families getel het, almal wat manlik was, van ’n maand oud en ouer, was twee en twintig duisend (22 000).

40יהוה het vir Moshe gesê: “Tel al die manlike eersgeborenes van die seuns van Yisra’el, van ’n maand oud en ouer en maak ’n lys van hulle name. 41Jy moet vir My die Leviete vat, Ek is יהוה, in die plek van al die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el en die vee van die Leviete, in die plek van al die eersgeborenes van die vee van die seuns van Yisra’el.” 42Moshe het, soos יהוה hom beveel het, al die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el getel. 43Al die manlike eersgeborenes volgens die getal name, van ’n maand oud en ouer, volgens die wat getel is, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig (22 273).

44יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 45“Vat die Leviete in die plek van al die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el en die vee van die Leviete in die plek van hulle vee sodat die Leviete Myne kan wees. Ek is יהוה. 46Vir die loskoping van die twee honderd drie en sewentig, uit die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el, wat meer is as die Leviete, 47moet jy vyf sikkels per kop vat; volgens die sikkel van die Afgesonderde plek moet jy dit vat; die sikkel is twintig gerah. 48Jy moet die loskoopgeld, van die wat onder hulle meer is, aan Aharon en sy seuns gee.” 49Moshe het die loskoopgeld gevat van die wat meer was as die wat deur die Leviete losgekoop is; 50van die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el het hy die geld gevat, duisend drie honderd vyf en sestig sikkels volgens die sikkel van die Afgesonderde plek. 51Moshe het die loskoopgeld vir Aharon en sy seuns gegee volgens die woord van יהוה, soos יהוה Moshe beveel het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 2
Top of Page
Top of Page