Lukas 4
Afrikaans PWL
1Yeshua, vol van die Gees van Afsondering, het teruggekeer van die Yarden af en is deur die Gees in die wildernis ingelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die valse aanklaer getoets is. Hy het niks geëet in dié dae nie en na afloop van dié tydperk, was Hy honger. 3Die teëstander sê vir Hom: “As Jy die Seun van God is, sê vir hierdie klip om brood te word.” 4Yeshua antwoord en sê vir hom: “Dit is geskrywe dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke verklaring van God.”

5Die teëstander vat Hom op teen ’n hoë berg (hoë punt van menslike ambisie) en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oogwink 6en die teëstander sê vir Hom: “Ek sal vir Jou al hierdie outoriteit en eer, lof en aanbidding gee, want dit is aan my oorgegee en ek gee dit aan wie ek wil. 7As Jy voor my neerval in aanbidding, sal alles Joune wees.” 8Yeshua antwoord en sê vir hom: “Daar is geskrywe: ‘Jy moet יהוה, jou God, aanbid en Hom alleen dien’.”

9Hy bring Hom na Yerushalayim en laat Hom staan op die hoogste punt van die tempel en sê vir Hom: “As Jy die Seun van God is, gooi Jouself hiervandaan af,

10want daar is geskrywe: ‘Hy sal Sy engele bevel gee aangaande U om U te beskerm;

11hulle sal U op die hande dra sodat U nie U voet teen ’n klip stamp nie’.”

12Yeshua antwoord en sê vir hom: “Dit is gesê: ‘Jy mag יהוה, jou God, nie toets nie’.”

13Toe die teëstander klaar was met al sy versoekings, het hy van Sy Teenwoordigheid af weggegaan vir ’n tyd.

14Yeshua het in die krag van die Gees na die Galil teruggegaan en ’n verslag oor Hom het deur die hele streek uitgegaan 15en Hy het in hulle byeenkomste geleer en almal het Hom geloof.

16Hy kom in Natzeret waar Hy groot geword het en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die Shabbat na die bymekaarkomplek en staan op om te lees 17en die boekrol van die profeet Yesha’yahu is aan Hom gegee en toe Hy die boekrol oopmaak, vind Hy die plek waar geskrywe is:

18“Die Gees van יהוה is op My en as gevolg daarvan het Hy My gesalf met die doel om die goeie boodskap aan die armes te verkondig; Hy het My gestuur om die wat gebroke is van verstand, wil en emosie te genees; om aan die wat gevangenes is vryheid te verkondig en aan blindes herstel van sig; om die wat depressief is, te herstel met vergifnis en

19om ’n tydperk aanvaarbaar vir יהוה aan te kondig.” 20Hy het die boekrol opgerol en aan die assistent gegee en gaan sit, maar die oë van almal in die bymekaarkomplek was vasgenael op Hom. 21Hy begin en sê vir hulle: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.” 22Almal het daartoe getuig en was verwonderd oor die woorde van onverdiende guns wat uit Sy mond kom en hulle sê: “Is Hy nie die seun van Yosef nie?” 23Yeshua sê vir hulle: “Julle sal sonder twyfel vir My hierdie idioom aanhaal: ‘Geneesheer, genees Uself!’ Alles wat ons hoor wat U in K’far-Nagum gedoen het, doen dit hier in U tuisdorp ook.” 24Hy sê ook: “Dit is waar, Ek sê vir julle, geen profeet is aanvaar in sy tuisdorp nie, 25maar waarlik, Ek sê vir julle, daar was baie weduwees in Yisra’el in die tyd van Eliyahu toe die hemel toegesluit was vir drie jaar en ses maande, toe daar ’n groot hongersnood gekom het in die hele land 26en Eliyahu is nie na een van hulle gestuur nie, maar na ’n weduwee in Tzarfat in Tzidon. 27Daar was baie melaatses in Yisra’el in die tyd van die profeet Elisha en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Na’aman, die Arameër.” 28Almal in die bymekaarkomplek is met woede gevul toe hulle dit hoor 29en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gelei tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou is, om Hom van die rand af te gooi, 30maar Hy het in die middel, reg deur hulle, geloop en weggegaan.

31Hy het afgegaan na K’far-Nagum, ’n stad in die Galil en hulle op die Shabbat geleer 32en hulle was verwonderd oor Sy lering, want Hy het met outoriteit gepraat. 33In die bymekaarkomplek was daar ’n man met ’n onrein demoniese gees en hy het met ’n harde stem geskree 34en gesê: “Los ons uit! Wat het Jy met ons te doen, Yeshua van Natzeret? Het jy gekom om ons uit te wis? Ek weet Wie Jy is: die Afgesonderde Een van God!” 35Yeshua het dit bestraf en gesê: “Hou jou mond toe en gaan uit hom uit!” Die demoon het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. 36’n Verbaasdheid kom oor almal en hulle praat onder mekaar en sê: “Watter woord is dit: dat Hy met outoriteit en mag die vuil geeste beveel en hulle gaan uit!” 37Daar het ’n verslag aangaande Hom uitgegaan na die ganse omliggende gebied.

38Toe Hy uit die bymekaarkomplek uitgegaan het, het Hy in Shim’on se huis gekom. Shim’on se skoonmoeder het ’n baie hoë koors gehad en hulle het Hom gevra vir haar onthalwe 39en Hy het oor haar gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.

40Toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, wat met allerhande siektes siek was, na Hom toe gebring. Hy het op almal van hulle die hand gelê en hulle gesond gemaak 41en demone het ook uit baie uitgegaan en geskree en gesê: “Jy is Die Gesalfde Een, die Seun van God!” Hy het hulle bestraf en hulle nie toegelaat om te sê dat hulle geweet het dat Hy Die Gesalfde Een is nie.

42Met die breking van die dag het Hy uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en die mense het Hom gesoek en by Hom gekom en wou Hom teëhou sodat Hy nie vanuit hulle midde sou weggaan nie, 43maar Yeshua het vir hulle gesê: “Dit is op My gelê om ook aan die ander stede die goeie boodskap van die Koninkryk van God te bring, want dit is waarom Ek gestuur is.”

44Hy het in die bymekaarkomplekke van die Galil die boodskap verkondig.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 3
Top of Page
Top of Page