Lukas 5
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur dat die skare mense rondom Hom bymekaargekom het om die Boodskap van God te hoor. Hy het langs die meer van Gennesar gestaan 2en Hy het twee bote langs die meer gesien lê en die vissers wat van hulle afgekom het, was besig om die nette te was. 3Hy het in een van die bote, wat aan Shim’on Kefa behoort het, geklim en hom gevra om ’n entjie van die land af weg te vaar en Hy het gaan sit en die mense vanuit die boot geleer. 4Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Shim’on: “Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak vir ’n vangs.” 5Shim’on antwoord en sê vir Hom: “Leermeester, ons het die hele nag hard gewerk en niks gevang nie, maar op U woord sal ek die net laat sak.” 6Toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n baie groot hoeveelheid visse gevang, tot hulle net wou skeur 7en hulle wys vir hulle medewerkers in die ander boot om hulle te kom help en toe hulle gekom het, het hulle altwee die bote so vol gemaak dat hulle amper gesink het. 8Toe Shim’on Kefa dit sien, val hy neer by die voete van Yeshua en sê: “Ek smeek van U my Meester, gaan weg van my, want ek is ’n sondaar!” 9’n Diepe respek het hom en almal wat by hom was aangegryp, oor die hoeveelheid vis wat hulle gevang het 10en net so ook vir Ya’akov en Yoganan, die seuns van Zavdai, wat Shim’on se medewerkers was en Yeshua sê vir Shim’on: “Moenie bang wees nie; van nou af sal jy mense vang tot verlossing.” 11Hulle het die bote aan land gebring, alles agtergelaat en Hom gevolg.

12Terwyl Yeshua in een van die dorpe was, kom daar ’n man, oortrek met melaatsheid en toe hy Yeshua sien, val hy op sy gesig en smeek Hom en sê: “My Meester, as U wil, kan U my reinig.” 13Yeshua steek Sy hand uit en raak hom aan en sê: “Ek wil, wees gereinig!” In ’n oomblik het die melaatsheid van hom af weggegaan en hy was rein 14en Hy beveel hom om dit aan niemand te vertel nie, maar, sê Hy: “Gaan wys jouself aan die priester, vir hulle tot ’n getuienis en offer vir jou reiniging, net soos Moshe beveel het.” 15Sy bekendheid het al hoe meer versprei en groot groepe mense het bymekaargekom om te luister na Hom en deur Hom van hulle siektes gesond gemaak te word, 16maar Hy het Hom na verlate plekke onttrek en gebid.

17Dit het op een van die dae toe Yeshua besig was om te leer en Fariseërs en leraars van die wet uit al die dorpe van die Galil, Y’hudah en uit Yerushalayim daar gesit het, gebeur dat die krag van יהוה om te genees daar was. 18Manne het ’n verlamde man op ’n draagbaar gebring en hulle het ’n plek gesoek om hom in te bring en voor Hom neer te sit 19en toe hulle nie ’n pad kon vind om hom in te bring nie, as gevolg van die menigte mense, klim hulle op die dak en laat hom met die bed, deur die teëls, tussen hulle in, voor Yeshua afsak. 20Toe Yeshua hulle vertroue sien, sê Hy vir die verlamde man: “Man, jou sondes is vir jou vergewe.” 21Die leraars van die wet en die Fariseërs het dit ernstig oordink en gesê: “Wie is Hy wat so kwaadpraat van God? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” 22Yeshua het hulle gedagtes geken en Hy antwoord en sê vir hulle: “Wat bedink julle in jul gedagtes? 23Wat is makliker, om te sê: ‘Jou sondes is vir jou vergewe;’ of om te sê: ‘Staan op en loop?’ 24Sodat julle egter kan sien dat die Seun van die mens outoriteit het om op aarde sondes te vergewe,” sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou draagbaar op en gaan na jou huis toe.” 25Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, tel die draagbaar waarop hy gelê het op en gaan na sy huis toe terwyl hy God loof. 26Verwondering het almal aangegryp. Hulle het God geloof, is met respekvolle vrees vervul en het gesê: “Ons het vandag wonders gesien.”

27Ná hierdie dinge het Yeshua uitgegaan en ’n belastinggaarder, met die naam van Levi, by die belastinghuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My” 28Hy het alles agtergelaat, opgestaan en Hom gevolg.

29Levi het ’n groot ontvangs vir Hom in sy huis gegee en daar was ’n groot skare belastinggaarders en ander wat saam met hulle aan tafel aangesit het. 30Die leraars van die wet en die Fariseërs het by Sy studentevolgelinge gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met die belastinggaarders en sondaars?” 31Yeshua antwoord hulle en sê: “Die wat gesond is, het die dokter nie nodig nie, maar die wat siek is of siek word. 32Ek het nie gekom om onskuldiges te roep nie, maar sondaars tot erkenning, berou en omkeer.”

33Hulle sê vir Hom: “Waarom vas en bid Yoganan se studentevolgelinge getrou; so ook dié van die Fariseërs, maar U s’n eet en drink?” 34Hy sê vir hulle: “Kan julle die bruidshulp dan laat vas solank as die Bruidegom by hulle is? 35Daar kom egter ’n tyd wanneer die Bruidegom van hulle af weggevat sal word; dan sal hulle vas, in daardie tyd.”

36Hy het vir hulle ’n vergelykende storie vertel: “Niemand skeur ’n strook van ’n nuwe kleed af en sit dit op ’n ou kleed as die nuwe wat hy geskeur het nie ooreenkom met die oue nie. 37Niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur en dit sal uitloop en die sakke sal ook vernietig wees, 38maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word en altwee word bewaar. 39Niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe wyn hê nie, want hy sê: ‘Die oues is soet’.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 4
Top of Page
Top of Page