Lukas 10
Afrikaans PWL
1Ná hierdie dinge het Yeshua sewentig ander aangestel vanuit Sy studentevolgelinge en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke stad en plek waarheen Hy voorberei het om te gaan. 2Hy sê vir hulle: “Die oes is groot en die werkers is min. Bid daarvolgens die Meester van die oes om arbeiders in Sy oes uit te stuur. 3Let op, gaan! Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe. 4Neem geen beurs of reissak of sandale nie en groet niemand op die pad nie, 5maar in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: ‘Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir hierdie huis’ 6en as daar ’n seun van vrede (harmonie) is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit na julle toe terugkom. 7Bly dan in dieselfde huis en eet en drink wat hulle het, want die werker verdien sy loon. Moenie wissel van huis tot huis nie 8en in watter stad julle ook mag ingaan en hulle ontvang julle, eet wat aan julle voorgesit word 9en genees die siekes wat daarin is en sê vir hulle: ‘Die Koninkryk van God is naby julle,’ 10maar in watter stad julle ook al ingaan en hulle jul nie ontvang nie, gaan uit in sy strate en sê: 11‘Die stof wat uit julle stad aan ons vassit, vee ons vir julle af; meer nog moet julle dit weet: dat die Koninkryk van God naby julle gekom het.’ 12Ek sê vir julle: vir S’dom sal dit meer uithoudbaar wees in dié dag as vir daardie stad.

13Wee jou, Korazin! Wee jou, Beit-Tzaidah! Want as die kragtige dade in Tzor en Tzidon gebeur het wat in julle plaasgevind het, het hulle lankal in sak en as gesit, hulle sonde besef en berou gehad, 14maar vir Tzor en Tzidon sal dit in die oordeel meer uithoudbaar wees as vir julle. 15Vir jou, K’far-Nagum, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot Sh’ol toe afgegooi word.

16Wie na julle luister, luister na My en wie julle verwerp, verwerp My en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”

17Die sewentig wat Hy gestuur het, het met vreugde teruggekom en gesê: “Ons Meester, selfs die demone is onderworpe aan ons in U Karakter en Outoriteit.” 18Hy sê egter vir hulle: “Ek het die teëstander soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Let op, Ek het vir julle die outoriteit gegee om op slange en skerpioene te trap en oor al die krag van die vyand en niks sal julle skade doen nie. 20Meer nog, julle moenie bly wees dat die demone aan julle onderworpe is nie, maar wees bly dat julle name in die hemel opgeskryf is.”

21Op daardie oomblik het Yeshua deur die Gees van Afsondering gespring van vreugde en gesê: “Ek dank U, My Vader, Meester van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge weggesteek het vir wyse en slim mense en dit aan kinders openbaar het. Ja, My Vader, want so was dit U wil.” 22Hy het Hom omgedraai na Sy studentevolgelinge en vir hulle gesê: “Alles is aan My oorgegee deur My Vader en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hý aan wie die Seun dit wil openbaar.”

23Hy draai na Sy studentevolgelinge alleen en sê vir hulle: “Uitermate gelukkig is die oë wat sien wat julle sien, 24want Ek sê vir julle, baie profete en konings het begeer om te sien wat julle sien en het dit nie gesien nie en om te hoor wat julle hoor en het dit nie gehoor nie.”

25Let op, ’n sekere leraar van die wet het opgestaan om Hom te toets en gesê: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” 26Yeshua sê vir hom: “Wat is in die wet geskryf? Hoe lees jy?” 27Hy antwoord en sê vir Hom: “Jy moet יהוה, jou God, liefhê vanuit jou hele verstand, wil en emosie en vanuit jou hele gees en vanuit al jou vermoëns en vanuit jou hele verbeelding en jou medemens net soos jouself.” 28Yeshua sê vir hom: “Jy het reg geantwoord; doen dit en jy sal lewe.” 29Hy wou homself egter onskuldig verklaar en sê vir Hom: “En wie is my medemens?”

30Yeshua sê vir hom: “’n Sekere man het afgegaan vanaf Yerushalayim na Yerigo en boewe het hom aangeval, hom beroof, geslaan en hom half dood gelos en weggegaan. 31Dit het gebeur dat ’n sekere priester met daardie pad afgekom het en toe hy hom sien, het hy verbygegaan 32en net so het ook ’n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en verbygegaan, 33maar ’n sekere man van Shomron wat op reis was, het op hom afgekom en toe hy hom sien, het hy vir hom omgegee 34en na hom toe gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie dier geplaas en hom na ’n herberg gevat en vir hom gesorg. 35Toe hy die volgende oggend weggaan, haal hy twee denarii uit en gee dit aan die herbergier en sê vir hom: ‘Sorg vir hom en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.’ 36Daarvolgens, wie van hierdie drie, dink jy, was die medemens van hom wat onder die boewe verval het?” 37Hy antwoord toe: “Hy wat vir hom omgegee het.” Yeshua sê vir hom: “Gaan en doen jy net so.”

38Dit was terwyl hulle gereis het dat hulle in ’n sekere dorp gekom en ’n vrou met die naam van Marta Hom in haar huis ontvang het. 39Sy het ’n suster gehad met die naam van Miryam en dié het langs die voete van ons Meester gesit en na Sy boodskap geluister, 40maar Marta was baie besig om gereed te staan om te bedien. Sy kom toe na Hom toe en sê: “My Meester, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.” 41Yeshua antwoord en sê vir haar: “Marta, Marta, jy is bekommerd en omgekrap oor baie dinge, 42maar een ding is nodig; Miryam het die voordelige deel vir haarself gekies, wat nie van haar weggeneem sal word nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 9
Top of Page
Top of Page