Lukas 11
Afrikaans PWL
1Hy was op ’n sekere plek besig gewees om te bid. Nadat Hy klaar gebid het, het een van Sy studentevolgelinge vir Hom gevra: “Ons Meester, leer ons bid, soos Yoganan ook sy studentevolgelinge geleer het.”

2Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê: Ons Vader wat in die hemel is,

3U Karakter en Outoriteit bly afgesonderd; laat U Koninkryk kom; laat U besluite uitgevoer word, net soos in die hemel, so ook op die aarde; gee vir ons dié brood wat ons nodig het elke dag

4en vergewe ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teenoor ons skuldig is en bring ons nie waar ons getoets word nie, maar bevry ons van die bose een.”

5Hy sê vir hulle: “Wie van julle het ’n vriend en sal om middernag na hom toe gaan en vir hom sê: ‘Vriend, leen my drie brode, 6want ’n vriend van my wat op reis was, het by my aangekom en ek het niks om aan hom voor te sit nie.’ 7Die aan die binnekant mag dalk antwoord en sê: ‘Moenie my pla nie; let op, die deur is al gesluit en my kinders is al saam met my in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie.’ 8Ek sê vir julle, al sou hy nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy volharding opstaan en hom gee soveel as wat hy nodig het.

9Ek sê vir julle: hou aan vra en vir julle sal gegee word; hou aan soek en julle sal vind; hou aan klop en vir julle sal oopgemaak word, 10want elkeen wat aanhou vra, ontvang en hy wat aanhou soek, vind en vir hom wat aanhou klop, sal oopgemaak word. 11Watter vader hier sal, as sy seun brood vra, vir hom ’n klip gee; of in plaas van ’n vis, vir hom ’n slang gee; 12of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen gee? 13As julle wat sleg is, weet om goeie geskenke vir julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader die Gees van Afsondering vanaf die hemel gee aan die wat Hom vra?”

14Toe Hy ’n stommakende demoon uitgedryf het, was dit dat, toe die demoon uitgaan, die stom man gepraat het en die mense was verwonderd, 15maar sommige van hulle het gesê: “Deur Ba’al-Z’vuv, die heerser van die teëstanders, dryf Hy die demone uit.” 16Ander het Hom egter getoets en van Hom ’n teken uit die hemel verwag, 17maar omdat Yeshua hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke realm wat teen homself verdeeld is, sal vernietig word en elke huis wat teen sy natuur verdeeld is, val. 18As die teëstander teen homself verdeeld is, hoe kan sy koninkryk bly staan, want julle sê dat Ek deur Ba’al-Z’vuv die demone uitdryf? 19Indien Ek deur Ba’al-Z’vuv die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Hulle sal daarom julle regters wees, 20maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die Koninkryk van God naby julle gekom. 21Wanneer ’n sterk man, goed bewapen, sy huis bewaak, is sy besittings in vrede en oorvloed, 22maar wanneer een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al sy wapens, waarop hy vertrou het, weg en deel sy buit uit. 23Hy wat nie saam met My is nie, is teen My en hy wat nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.

24Wanneer ’n vuil gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur droë plekke en soek rus en as hy dit nie vind nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my huis vanwaar ek uitgegaan het.’ 25As hy kom en dit uitgevee en in orde vind, 26dan gaan hy en bring sewe ander geeste, boser as hy self en hulle kom in en woon daar en die einde van daardie mens sal erger wees as die begin.”

27Terwyl Hy dit sê, het ’n vrou uit die mense met ’n harde stem vir Hom gesê: “Gelukkig is die baarmoeder wat U gedra het en die borste wat U gevoed het.” 28Hy sê vir haar: “Gelukkig is hulle wat die boodskap van God hoor en dit doen.”

29Toe die skare saamdrom, begin Hy en sê: “Hierdie geslag is boos; dit soek na ’n teken en geen teken sal aan hul gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Yonah, 30want net soos Yonah ’n teken geword het vir die mense van Ninveh, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag. 31Die koningin van die suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel, want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Shlomo te hoor en let op, meer as Shlomo is hier! 32Die manne van Ninveh sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel, want hulle het deur die verkondiging van Yonah berou gehad en verander en let op, meer as Yonah is hier!

33Niemand steek ’n lamp op en sit dit in ’n geheime plek of sit dit onder die mandjie nie, maar op die lampstaander sodat dié wat inkom, sy lig kan sien. 34Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan helder is, is jou hele liggaam ook verlig, maar as dit boos is, is jou liggaam vol duisternis. 35Wees versigtig dat die lig in jou nie duisternis is nie. 36As jou hele liggaam dan vol lig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal helder wees en net soos ’n helder lamp vir jou lig gee.”

37Terwyl Hy praat, het ’n sekere Fariseër Hom genooi om by hom te kom eet en Hy het ingegaan en aan tafel gaan skuinslê. 38Toe die Fariseër dit sien, was hy verwonderd omdat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie, 39maar Yeshua sê vir hom: “Nou, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar aan die binnekant is julle vol verkragting en boosheid. 40Dwase, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie? 41Nogtans, wat jy ook al het, gee dit as aalmoese en let op, alles sal vir jou rein wees.

42Tog, wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement, wynruit (dille) en elke soort krui en julle ignoreer die regverdige oordeel en die liefde van God. Hierdie dinge moet julle doen sonder om die ander na te laat. 43Wee julle, Fariseërs, want julle is lief vir die eersteklas sitplekke in die bymekaarkomplekke en vir die openbare groete op straat. 44Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van ’n vals karakter, want julle is net soos versteekte grafte en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.”

45Toe antwoord een van die kenners van die wet en sê vir Hom: “Leermeester, as U só praat, beledig U ons ook.” 46Hy sê: “Wee julle ook, kenners van die wet, want julle oorlaai die mense met laste wat pynlik is om te dra en self verroer julle nie een vinger om te help nie. 47Wee julle, want julle bou die grafte van die profete en julle vaders het hulle gedood. 48Julle gee hierdeur getuienis van die dade van julle vaders en keur dit goed, want hulle het hul gedood en julle bou hulle grafte. 49Die wysheid van God het daarom ook gesê: ‘Ek sal profete en afgevaardigdes na hulle stuur en van dié sal hulle doodmaak en vervolg 50sodat van hierdie geslag die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, opgeëis kan word. 51Vanaf die bloed van Hevel tot by die bloed van Z’kharyah wat doodgemaak is tussen die altaar en die Afgesonderde plek.’ Ja, Ek sê vir julle, dit sal opgeëis word van hierdie geslag. 52Wee julle, kenners van die wet, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie en julle het die wat wou ingaan, gekeer.”

53Nadat Hy dit aan hulle gesê het, het die leraars van die wet en die Fariseërs begin om ernstig aanstoot te neem aan Hom en Sy woorde verkleineer 54en bedrieglik teenoor Hom opgetree op baie maniere terwyl hulle gesoek het na iets uit Sy mond sodat hulle Hom kon beskuldig.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 10
Top of Page
Top of Page