Lukas 9
Afrikaans PWL
1Yeshua roep die twaalf en gee aan hulle krag en outoriteit oor al die demone en siektes om die siektes gesond te maak 2en Hy het hulle uitgestuur om die Koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak 3en vir hulle gesê: “Vat niks saam nie; geen staf of beursie vir die pad, of brood of geld nie en moenie twee kledingstukke by julle hê nie. 4In watter huis julle ook mag ingaan, bly dáár en gaan van dáár af uit 5en as iemand julle nie ontvang nie, wanneer julle van daardie stad af weggaan, skud die stof van julle voete af, tot ’n getuienis teen hulle.” 6Die afgevaardigdes het uitgegaan na die dorpe en stede en in elke plek die goeie boodskap verkondig en siekes gesond gemaak.

7Herodes, die heerser oor ’n kwart van die land, hoor toe van al die dinge wat deur Hom gedoen is en hy was verwonderd daaroor omdat sommige gesê het dat Yoganan uit die dode opgestaan het, 8maar ander dat Eliyahu verskyn het en ander dat een van die ou profete opgestaan het. 9Herodes het gesê: “Yoganan het ek onthoof, maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?” Hy het begeer om Hom te sien.

10Toe die afgevaardigdes terugkom, het hulle aan Yeshua alles wat hulle gedoen het vertel en Hy het hulle alleen na ’n verlate plek in die streek van Beit-Tzaidah gevat, 11maar toe die mense dit te wete kom, het hulle Hom gevolg en Hy het hulle ontvang en met hulle gepraat oor die Koninkryk van God en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.

12Toe die dag einde se kant toe staan, kom Sy studentevolgelinge na Hom toe en sê vir Hom: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpe en plase in die omtrek kan gaan om te oornag en vir hulleself kos kan kry, want ons is hier in ’n verlate plek.” 13Yeshua sê vir hulle: “Gee julle vir hulle kos,” maar hulle sê: “Daar is nie meer as vyf brode en twee visse by ons nie, tensy ons kos gaan koop vir al hierdie mense,” 14want daar was omtrent vyf duisend mans, maar Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Laat hulle in groepe van vyftig sit.” 15Sy studentevolgelinge het dit so gedoen en almal laat sit. 16Yeshua vat die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën dit, breek dit en gee dit aan die studentevolgelinge om aan die mense voor te sit 17en hulle het almal geëet en is versadig en hulle het twaalf (12) mandjies vol van die oortollige stukke opgetel.

18Toe Hy alleen was, besig om te bid, was die studentevolgelinge by Hom en Hy vra hulle en sê: “Wie sê die mense is Ek?” 19Hulle antwoord en sê: “Yoganan, die Doper, ander weer Eliyahu, ander weer dat een van die ou profete opgestaan het.” 20Hy sê vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Shim’on antwoord en sê: “Die Gesalfde Een van God!”

21Hy het hulle ernstig gewaarsku om dit aan niemand te vertel nie. 22Hy sê vir hulle: “Die Seun van die mens gaan baie ly en verwerp word deur die oudstes, leierpriesters en leraars van die wet, hulle sal Hom vermoor en op die derde dag sal Hy opstaan.”

23Hy sê voor almal: “Wie ook al agter My aan wil kom, moet homself ontken en sy kruis elke dag opneem en My volg, 24want wie sy lewe wil red, sal dit vernietig, maar hy wie se lewe om My ontwil vernietig word, hy sal dit red, 25want watter voordeel is dit vir ’n mens as hy die hele wêreld verkry, maar sy lewe vernietig of verloor? 26Wie hom ook al skaam vir My en My boodskap, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy in die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van Sy Vader en van die afgesonderde engele kom. 27Ek sê vir julle in waarheid: daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Koninkryk van God gesien het nie.”

28Dit het omtrent agt dae ná hierdie boodskap gebeur dat Hy vir Kefa, Yoganan en Ya’akov saamgeneem het teen ’n berg op om te bid 29en terwyl Hy in gebed was, het die voorkoms van Sy gesig verander en Sy klere het glansend wit geword. 30Let op, twee manne het met Hom gepraat, hulle was Moshe en Eliyahu. 31Hulle het in die Gemanifesteerde Teenwoordigheid verskyn en oor Sy weggaan, wat in Yerushalayim vervul sou word, gepraat, 32maar Kefa en die wat saam met hom was, was deur die slaap en het met moeite wakker geword en Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid gesien en die twee manne wat by Hom staan. 33Terwyl hulle van Hom weggaan, sê Shim’on vir Yeshua: “Leermeester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie tente maak, een vir U, vir Moshe een en een vir Eliyahu.” Hy het nie geweet wat hy sê nie. 34Nadat hy dit gesê het, kom daar ’n wolk en vorm ’n tent rondom hulle en hulle het bang geword toe hulle Moshe en Eliyahu in die wolk sien ingaan. 35Daar kom ’n Stem uit die wolk wat sê: “Hierdie is My Seun vir Wie Ek lief is; luister na Hom!” 36Ná die stem, was Yeshua alleen en hulle het stilgebly en aan niemand in daardie dae enige iets vertel van wat hulle gesien het nie.

37Dit het gebeur dat, toe hulle die volgende dag van die berg afkom, ’n groot skare mense Hom ontmoet. 38’n Man roep vanuit die mense en sê: “Leermeester, ek smeek U, herstel my seun tot my, want hy is my enigste. 39’n Gees kom skielik oor hom en hy gil onverwags en kners op sy tande en hy word siek en dit gaan moeilik van hom af weg wanneer dit hom aanval 40en ek het U studentevolgelinge gesmeek om hom uit te dryf en hulle kon nie.” 41Yeshua antwoord en sê: “O, korrupte geslag sonder vertroue, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.” 42Toe hy naderkom aan Hom, gooi die demoon hom neer en laat hom inmekaartrek en Yeshua het die vuil gees bestraf, die seun genees en hom aan sy vader teruggegee.

43Almal was verwonderd oor die majesteit van God. Toe almal verwonderd was oor alles wat Yeshua gedoen het, sê Hy vir Sy studentevolgelinge: 44“Laat die boodskap insink wat ek in julle ore gee, want die Seun van die mens gaan oorgegee word in die hande van die mense.” 45Hulle het egter nie verstaan wat gesê is nie omdat dit vir hulle verborge was sodat hulle dit nie sou verstaan nie en hulle was bang om Hom iets te vra daaroor.

46Daar het ’n debat onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste was, 47maar Yeshua, wat die oorwegings van hulle verstand, wil en emosie geken het, neem ’n seun en laat dié by Hom staan 48en sê vir hulle: “Wie dan ’n kind soos hierdie ontvang in My Karakter en Outoriteit, ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het, want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.”

49Yoganan antwoord en sê: “Ons Meester, ons het iemand gesien wat in U Karakter en Outoriteit ’n demoon uitdryf en ons het hom verbied omdat hy U nie saam met ons volg nie.” 50Yeshua sê vir hulle: “Moet hom nie verbied nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle.”

51Toe die dae van Sy opgaan nader kom, het Hy Homself voorberei om na Yerushalayim te gaan 52en boodskappers voor Hom uitgestuur. Hulle het vertrek en in ’n dorp in Shomron ingegaan om vir Hom voor te berei 53en hulle het Hom nie ontvang nie omdat Hy op pad was Yerushalayim toe. 54Toe Sy studentevolgelinge, Ya’akov en Yoganan, dit sien, sê hulle: “Ons Meester, wil U hê ons moet vuur van die hemel af roep en hulle verteer, net soos Eliyahu gedoen het?” 55Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: “Julle weet nie van watter gees julle is nie, 56want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewens te vernietig nie, maar om lewe te gee.” Hulle het na ’n ander dorp gereis en

57terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “My Meester, ek sal saam met U gaan, waar U ook mag gaan!” 58Toe sê Yeshua vir hom: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel het neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy kop kan neerlê nie.” 59Hy sê vir ’n ander een: “Kom, volg My,” maar hy antwoord: “My Meester, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” 60Yeshua sê vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan jy en kondig die Koninkryk van God aan.” 61’n Ander een sê vir Hom: “My Meester, ek sal U volg, maar laat my eers toe om tot siens te sê aan die kinders wat in my huis is.” 62Yeshua antwoord hom: “Niemand wat sy hand aan die ploeg of juk slaan en agtertoe kyk, is waardig vir die Koninkryk van God nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 8
Top of Page
Top of Page