Levitikus 20
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Jy moet ook vir die seuns van Yisra’el sê: ‘Enige een uit die seuns van Yisra’el of uit die vreemdelinge wat in Yisra’el besoek, wat enige van sy kinders aan Molekh gee, moet tereggestel word tot die dood. Die volk van die land moet hom met klippe stenig. 3Ek sal My gesig teen dié man draai en sal hom afsny onder sy volk uit, want hy het van sy kinders aan Molekh gegee om My Afgesonderde plek onrein te maak en My Afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) te onteer. 4As die volk van die land hulle oë toemaak om dit weg te steek wanneer dié man van sy kinders aan Molekh gee en hom nie doodmaak nie, 5dan sal Ek My gesig draai teen dié man en sy familie en Ek sal hom en almal wat agter hom aan hoereer om agter Molekh aan te hoereer, afsny uit hulle volk uit.

6As ’n persoon hom draai na bekende geeste en towenaars om agter hulle aan te hoereer, sal Ek My aangesig teen dié persoon draai en hom afsny uit sy volk uit. 7Sonder julleself af en wees afgesonderd, want Ek is יהוה, julle God. 8Hou My reëls en doen dit. Ek is יהוה, wat julle afsonder.

9Elkeen wat sy vader of moeder vloek, moet tereggestel word tot die dood. Hy het sy vader of sy moeder gevloek. Sy bloed sal op homself wees.

10As iemand owerspel pleeg met ’n ander man se vrou, owerspel pleeg met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel pleeg, tereggestel word tot die dood. 11Die man wat by sy vader se vrou lê, het die naaktheid van sy vader ontbloot. Hulle altwee moet tereggestel word tot die dood. Hulle bloed sal op hulleself wees. 12As ’n man by sy skoondogter lê, moet hulle altwee tereggestel word tot die dood. Hulle het ’n boosheid gedoen. Hulle bloed sal op hulleself wees. 13As ’n man by ’n manspersoon lê soos ’n mens met ’n vrou doen, het hulle albei ’n verwerplike daad gedoen. Hulle moet tereggestel word tot die dood. Hulle bloed sal op hulleself wees. 14As ’n man met ’n vrou en haar moeder trou, is dit ’n oortreding van die wet; hulle moet hom en dié twee saam, met vuur verbrand sodat daar geen immoraliteit onder julle is nie. 15As ’n man vleeslike gemeenskap het met ’n dier, moet hy tereggestel word tot die dood en die dier moet julle doodmaak. 16As ’n vrou naby enige dier kom om daarmee gemeenskap te hê, moet jy die vrou en die dier doodmaak. Hulle moet tereggestel word tot die dood. Hulle bloed sal op hulleself wees.

17As ’n man sy suster vat, sy vader se dogter of sy moeder se dogter en hy haar naaktheid sien en sy, sy naaktheid sien, is dit ’n skande. Hulle moet afgesny wees in die oë van die seuns van hulle volk. Hy het die naaktheid van sy suster ontbloot; hy sal sy skuld dra. 18As ’n man met ’n vrou gemeenskap het wanneer sy menstrueer en haar naaktheid ontbloot, het hy haar bron ontbloot en sy het die bron van haar bloed oopgemaak, hulle moet altwee afgesny word uit hulle volk uit. 19Jy mag ook nie die naaktheid van jou moeder se suster en van jou vader se suster ontbloot nie, want hy het sy bloedfamilie ontbloot; hulle sal hul skuld dra. 20As ’n man by sy oom se vrou lê, het hy die naaktheid van sy oom ontbloot. Hulle sal hul sonde dra. Hulle sal sonder kinders sterf. 21As ’n man sy broer se vrou vat, is dit ’n onrein ding. Hy het die naaktheid van sy broer ontbloot. Hulle sal sonder kinders wees.

22Bewaar al My reëls en al My wette en doen dit sodat die land waarheen Ek julle bring om daarin te bly, julle nie uitspoeg nie. 23Julle mag nie leef volgens die gewoontes van die nasies wat Ek voor julle uit verdryf nie, want hulle het al hierdie dinge gedoen en daarom verafsku Ek hulle. 24Ek het vir julle gesê: ‘Júlle sal hulle land bewoon en Ék sal dit aan julle as besitting gee, ’n land wat vloei van melk en heuning. Ek is יהוה, julle God, wat julle van die volke afgesonder het; 25daarom moet julle ’n onderskeid tref tussen die rein en onrein diere en tussen die onrein en rein voëls; moenie julle lewens verwerplik maak deur diere of deur voëls of deur enige iets wat op die aarde beweeg, wat Ek van julle afgesonder het deur dit onrein te verklaar, nie. 26Julle moet afgesonder wees tot My, want Ek, יהוה, is afgesonderd en Ek het julle van die volke af afgesonder om Myne te wees.

27’n Man of vrou wat ’n medium of ’n fortuinverteller is, moet tereggestel word tot die dood. Hulle moet met klippe gestenig word. Hulle skuld vir bloedvergieting sal op hulle wees.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 19
Top of Page
Top of Page