Josua 18
Afrikaans PWL
1Toe het die hele vergadering van die seuns van Yisra’el by Shiloh bymekaargekom en daar die Tent van Ontmoeting opgeslaan en die land was voor hulle onderwerp.

2Daar het onder die seuns van Yisra’el nog sewe stamme oorgebly aan wie nie hulle erfenis gegee is nie. 3Toe sê Y’hoshua aan die seuns van Yisra’el: “Hoe lank sal julle uitstel om die land in te gaan en in besit te neem wat יהוה, die God van julle vaders, vir julle gegee het? 4Voorsien vir julleself drie manne uit elke stam sodat ek hulle kan uitstuur en dat hulle kan opstaan en deur die land loop en ’n beskrywing daarvan neerskryf volgens hulle erfenis; dan moet hulle na my toe terugkom. 5Hulle moet dit in sewe dele verdeel; Y’hudah sal in sy gebied in die suide bly en die huis van Yosef sal in sy gebied in die noorde bly. 6Julle moet die land in sewe afdelings beskryf en die beskrywing hier na my toe bring. Ek sal hier voor die Teenwoordigheid van יהוה, ons God, vir julle die lot werp, 7want die Leviete het geen deel onder julle nie omdat die priesterskap van יהוה hulle erfenis is. Gad, Re’uven en die halwe stam van M’nasheh het ook hulle erfenis ontvang oorkant die Yarden in die ooste, wat Moshe, die dienskneg van יהוה, vir hulle gegee het.”

8Die manne het toe opgestaan en gegaan en Y’hoshua het hulle wat gegaan het beveel en gesê: “Gaan en loop deur die land en beskryf dit en kom na my toe terug; dan sal ek hier voor יהוה in Shiloh vir julle die lot werp.” 9Die manne het gegaan en deur die land getrek en dit volgens stede op ’n boekrol beskryf in sewe afdelings en na Y’hoshua toe gekom in die kamp van Shiloh. 10Y’hoshua het vir hulle die lot gewerp in Shiloh, voor יהוה en Y’hoshua het die land daar onder die seuns van Yisra’el verdeel, volgens hulle afdelings.

11Die lot vir die stam van die seuns van Binyamin, volgens hulle families, het opgekom en die gebied van hulle lot het gelê tussen die seuns van Y’hudah en die seuns van Yosef. 12Hulle grens aan die noordekant was vanaf die Yarden, dan loop die grens op na die noordelike kant van Yerigo en loop op deur die Bergland weswaarts en eindig by die wildernis van Beit-Aven. 13Van daar af loop die grens aan na Luz, na die suide van Luz, (dit is, Beit-El) en dan het die grens af geloop na `Atrot-Addar, naby die heuwel wat suid lê van laer Beit-Horon. 14Die grens gaan verder van daar af met die see langs suidwaarts, vanaf die heuwel wat voor Beit-Horon lê aan die suidekant. Dit eindig by Kiryat-Ba’al, (dit is, KiryatYe’arim), ’n stad van die seuns van Y’hudah. Hierdie was die westekant. 15Die suidekant was vanaf die rand van Kiryat-Ye’arim en die grens het weswaarts geloop na die fontein van die waters van Neftoag. 16Die grens het afgeloop na die rand van die heuwel wat in die Vallei van Ben-Hinnom is, wat noordwaarts in die Vallei van Refa’im lê en dit het af geloop na die Vallei van Hinnom, na die suidelike hang van die Y’vuzi en afgegaan na `Ein-Rogel. 17Dit het noordwaarts aangegaan tot by `Ein-Shemesh en na G’lilot gegaan, wat oorkant Ma’aleh-Adumim lê en afgegaan na die klip van Bohan, die seun van Re’uven. 18Dit het noordwaarts aangegaan na die kant voor die `Aravah en afgeloop na die `Aravah. 19Die grens het noordwaarts aangeloop na die kant van Beit-Hoglah en die grens het geëindig by die noordelike baai van die Soutsee, aan die suidelike punt van die Yarden. Hierdie was die suidelike grens. 20Verder was die Yarden sy grens aan die oostekant. Hierdie is die erfenis van die seuns van Binyamin, volgens hulle families en volgens sy grense rondom.

21Die stede van die stam van die seuns van Binyamin, volgens hulle families, was: Yerigo, Bet-Hoglah, `Emek-Ke’tzitz, 22Beit-`Aravah, Tz’marayim, Beit-El, 23`Awim, Parah, `Ofrah, 24K’far-Ha`Ammonah, `Ofni, Geva: twaalf stede met hulle dorpe. 25Giv’on, Ramah, Be’erot, 26Mitzpeh, K’firah, Motzah, 27Rekem, Yirpe’el, Tar’alah, 28Tzela, Elef, Y’vusi, (dit is Yerushalayim), Giv’at en Kiryat: veertien stede met hulle dorpe. Hierdie is die erfenis van die seuns van Binyamin volgens hulle families.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 17
Top of Page
Top of Page