Johannes 16
Afrikaans PWL
1“Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle dit nie vir julle mag aantrek nie, 2want hulle sal julle uit die plekke van bymekaarkoms uitgooi. Daar kom ’n tyd dat elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n offer aan God bring. 3Hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie die Vader of vir My ken nie, 4maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat wanneer die tyd kom, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het, maar Ek het dit nie van die begin af vir julle gesê nie omdat Ek saam met julle was,

5maar nou gaan Ek om by Hom te wees wat My gestuur het en nie een van julle vra My: ‘Waar gaan U heen,’ nie? 6Omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, het julle gedagtes, wil en emosie vol hartseer geraak, 7maar Ek sê vir julle die waarheid: dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Bevryder en Lewegewer nie na julle toe kom nie, maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8Wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig aangaande sonde, aangaande onpartydige opregtheid en aangaande oordeel: 9aangaande sonde omdat hulle nie in My vertrou nie; 10aangaande onpartydige opregtheid omdat Ek na My Vader toe gaan en julle My nie meer sal sien nie; 11aangaande oordeel omdat die prins van hierdie wêreld veroordeel is.

12Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou ontvang nie, 13maar wanneer Hy, die Gees van die Waarheid, gekom het, sal Hy julle in die hele waarheid lei, want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy sê en die toekoms aan julle openbaar. 14Hy sal My vereer en loof omdat Hy, uit wat aan My behoort sal vat en aan julle sal wys. 15Alles wat My Vader het, is Myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal vat uit wat aan My behoort en aan julle wys.

16’n Kort rukkie en julle sal My nie sien nie en weer ’n kort rukkie en julle sal My sien omdat Ek na die Vader toe gaan.”

17Sy studentevolgelinge het onder mekaar gevra: “Wat is dit wat Hy vir ons sê: ‘’n Kort rukkie en julle sal My nie sien nie en weer ’n kort rukkie en julle sal My sien omdat Ek na My Vader toe gaan?’” 18Hulle het ook gevra: “Wat is dit wat Hy sê: ’n Kort rukkie? Ons verstaan nie wat Hy sê nie.” 19Yeshua het geweet dat hulle Hom wou vra en Hy sê vir hulle: “Vra julle vir mekaar daaroor dat Ek gesê het: ‘’n Kort rukkie en julle sal My nie sien nie en weer ’n kort rukkie en julle sal My sien?’ 20Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees; julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 21’n Vrou het droefheid in haar wanneer sy geboorte gee omdat haar tyd gekom het, maar wanneer die seun gebore is, onthou sy nie meer haar droefheid nie, as gevolg van die blydskap dat ’n seun in die wêreld gebore is. 22Julle het ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle verstand, wil en emosie sal bly word en niemand sal julle blydskap van julle af wegvat nie.

23In daardie dag sal julle My niks vra nie. Dit is ’n ewige waarheid wat Ek vir julle sê: alles wat julle My Vader sal vra in My Outoriteit en Karakter, sal Hy vir julle gee. 24Tot nou toe het julle niks in My Outoriteit en Karakter gevra nie. Vra en julle sal ontvang sodat julle blydskap volkome kan wees.

25Hierdie dinge het Ek deur vergelykende stories vir julle gesê, maar daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer deur vergelykende stories met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. 26In daardie dag sal julle in My Outoriteit en Karakter vra en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader namens julle sal vra nie, 27want die Vader self het julle lief omdat julle My liefgehad het en vertrou het dat Ek vanuit eenheid met God uitgegaan het. 28Ek het vanuit eenheid met die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom en Ek verlaat weer die wêreld en gaan om by die Vader te wees.”

29Sy studentevolgelinge sê vir Hom: “Let op, nou praat U reguit en gebruik geen vergelykende stories nie. 30Nou weet ons dat U alles weet en U nie nodig het dat iemand hulle vrae in woorde omsit nie. Dit is daarom dat ons vertrou dat U vanaf God uitgegaan het.” 31Yeshua antwoord hulle: “Vertrou julle? 32Let op, die tyd kom en het nou reeds gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy plek toe en My alleen sal los. Ek sal nie alleen wees nie omdat die Vader by My is. 33Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle ín My vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid kan hê. In die wêreld sal julle lyding hê, maar wees versterk, Ek het die wêreld oorwin.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 15
Top of Page
Top of Page