Job 8
Afrikaans PWL
1Toe het Bildad, die Shuagiet, geantwoord en gesê:

2“Hoe lank sal jy hierdie dinge praat en hoe lank sal jou mond trotse woorde uiter?

3Sou God regverdige oordeel verdraai, of verdraai die Almagtige dit wat reg is?

4As jou seuns teen Hom gesondig het, het Hy hulle weggestuur in hul oortreding.

5As jy na God sou soek en ’n ernstige versoek rig tot die Almagtige,

6as jy onskuldig en opreg is, sal Hy sekerlik aan jou aandag gee en die blyplek van jou onpartydige opregtheid voorspoedig maak

7sodat al was jou begin klein, sal Hy jou einde baie groot maak.

8Doen navraag by die vorige geslagte en leer deur die soeke van hulle vaders,

9want ons is maar van gister af en weet niks nie, want ons dae op die aarde is soos ’n skaduwee;

10let op, húlle sal jou leer en jou vertel met woorde vanuit hul binneste.

11Kan papirus groei in ’n dorstige land? Kan riete groei waar daar geen water is nie?

12Terwyl hulle nog groen is en nie afgesny is nie, verdroog hulle voor enige ander gras.

13So is die pad van almal wat God vergeet. Die verwagting van die onreine,

14wie se selfvertroue afgesny word en wie se huis ’n spinnerak is, sal vergaan.

15Die bose sal op sy huis vertrou, maar dit sal nie staan nie; hy sal dit vashou, maar dit sal nie staande bly nie.

16Hy is soos groen gras voor die son en sy wortels sal in grond rus wat weggespoel sal word.

17Hy sal sy huis sien as ’n hoop klippe.

18As hy ontwortel word uit sy plek, dan sal hy Hom ontken en sê: “Ek het U nie gesien nie.”

19Let op, dit is Hy wat al sy lewenswyses ondersoek en vanuit die grond sal ander uitspruit!

20Let op, God sal nie die opregte man verwerp en ook nie boosdoeners help

21totdat Hy jou mond volmaak met gelag en jou lippe met ’n lied, nie.

22Hulle wat jou haat, sal aangetrek word met skaamte en die tent van die bose sal vernietig word!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 7
Top of Page
Top of Page