Job 9
Afrikaans PWL
1Toe het Iyov geantwoord en gesê:

2“Waarlik, ek weet dat dit so is, maar hoe kan ’n mens onskuldig verklaar word voor God?

3As hy met Hom sou twis, kan hy Hom nie een uit ’n duisend antwoord nie.

4Hy is wys van verstand, wil en emosie en sterk van krag; wie het homself teen Hom verhard en vrede, voorspoed, vergenoegdheid en gesondheid gehad?

5Hy wat berge verwyder en hulle omverwerp in Sy woede. Weet hulle dit nie?

6Hy skud die aarde uit sy fondasies en sy inwoners bewe;

7Hy beveel die son en dit kom nie op nie en verseël die sterre.

8Hy alleen strek die hemel uit en loop op die magtige golwe van die see.

9Hy het die ‘Groot Beer’ gemaak, die ‘Pleiades (Sewe-ster)’, die Orion en die ‘Kamers van die Suide’.

10Hy het groot dinge gedoen wat nie uitgevind kan word nie, ja en wonders sonder getal.

11Let op, as Hy by my verby sou gaan, sal ek Hom nie sien nie en as Hy rondom my sou draai, sou ek Hom nie opmerk nie.

12Let op, as Hy sou vernietig, wie kan Hom teëstaan? Wie kan vir Hom sê: ‘Wat maak U’?

13God sal Sy woede nie wegdraai nie; die magtiges sal onder Hom verneder word.

14Ek sal Hom ook antwoord en my woorde kies in Sy Teenwoordigheid.

15As ek nie regverdig verklaar word nie, sal ek dit nie teëstaan nie, maar ek sal my Regter smeek om guns.

16As ek sou roep en Hy antwoord my, sou ek nie glo dat Hy antwoord op my stem nie,

17want Hy het my met ’n stormwind platgedruk en my wonde sonder oorsaak vermeerder.

18Hy sal my nie toelaat om my asem te kry nie, maar vul my met bitterheid.

19As dit ’n kwessie van krag is, let op, Hy is magtig; van oordeel, wie kan Hom aankla?

20As ek myself regverdig, sal my eie mond my veroordeel; al sê ek ek is rein, Hy sou my ook pervers bewys.

21Al is ek rein, tog sou ek nie my lewe ken nie; ek sou my lewe verag!

22Dit is alles dieselfde; daarom sê ek: ‘Hy vernietig beide die regverdige en die bose.’

23As Sy gésel skielik doodmaak, sal Hy lag vir die dwaasheid van die onskuldiges.

24Die aarde is aan die mag van die bose oorgelewer en die gesigte van die regters is bedek; indien nie, wie kan hulle woede verdra?

25Nou is my dae vinniger as ’n hardloper; hulle vlug weg, hulle sien niks goeds nie.

26Hulle gaan verby soos die skepe van die vyand, soos ’n arend wat neerskiet op sy prooi.

27Ek het my bitterheid vergeet; as my gedagtes en my denke my alleen sou los, dan sou ek rus vind.

28Alhoewel ek rus, is ek bang vir elke smart, want ek weet dat U my nie onskuldig sal verklaar nie.

29Let op, as ek tog skuldig verklaar word, waarom werk ek tevergeefs?

30Al was ek my met sneeu, my hande met seep,

31tog gooi U my in die put en my eie klere is vir my afstootlik,

32want God is nie ’n man soos ek sodat ek Hom mag antwoord en dat ons saam sou kom vir ’n regsaak nie.

33Ag, as daar maar ’n regter tussen ons was wat ons albei sou stilmaak.

34Laat Hy Sy lat van my af wegvat en laat Sy vrees my nie bang maak nie;

35dan sal ek praat en nie bang wees vir Hom nie, want ek was nooit teen Hom nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 8
Top of Page
Top of Page