Job 12
Afrikaans PWL
1Iyov het geantwoord en gesê:

2“Waarlik, julle is die mense en wysheid sal saam met julle uitsterf,

3maar ek het ook insig, net soos julle; ek is nie minderwaardig teenoor julle nie, maar aan wie is sulke dinge soos dié nie bekend nie?

4Tog word hy wat hom op God beroep belaglik vir sy vriende en Hy wat tevrede is met die regverdige wat vlekkeloos is, antwoord hom

5wat gereed is om afstand te doen van minagting en boosheid en die glyende voete te versterk.

6Die tent van rowers sal verwyder word asook die selfvertroue van hulle wat God tart, want daar is geen God in hulle verstand, wil en emosie nie,

7maar vra nou die diere en hulle sal jou leer; die voëls van die hemel en hulle sal jou vertel;

8of praat met die aarde en dit sal jou leer en die visse van die see sal dit vir jou verklaar.

9Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van יהוה hulle gemaak het nie?

10Want in Sy hand is die lewe van elke lewende ding en die gees van die ganse mensdom.

11Die oor hoor die woorde en die verhemelte proe kos.

12By die oudstes is wysheid en in lengte van dae insig.

13By Hóm is wysheid en mag; Hy het raad en insig.

14Let op, as Hy afbreek, wie kan bou en as Hy iemand opsluit in die tronk, wie kan dit oopmaak?

15As Hy die waters terughou, droog hulle op; as Hy hulle loslaat, verwoes hulle die land.

16By Hóm is krag en wysheid; by Hom is mag en verlossing.

17Hy lei konings wonderbaarlik en maak regters tot dwase.

18Hy bring konings af om te bedel by die poorte en gordel hulle heupe vas met gordels van krag.

19Hy lei priesters met respek en oorweldig die magtige.

20Hy kanselleer die raad van betroubare raadgewers en neem die goeie oordeel van die oudstes weg.

21Hy gooi veragting uit oor die prinse en verswak die krag van die magtiges.

22Hy openbaar diep dinge uit die duisternis en bring die lig vanuit die skaduwee van die dood.

23Hy laat die nasies foute maak en vernietig hulle; Hy slaan die nasies neer en verlaat hulle.

24Hy neem die insig weg van die leiers van die mense op aarde en laat hulle dwaal in ’n wildernis waar geen pad is nie.

25Hulle soek in die duisternis sonder lig en hulle tas rond in die duisternis sonder begrip en Hy laat hulle slinger soos ’n dronk man.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 11
Top of Page
Top of Page