Jeremia 51
Afrikaans PWL
1So sê יהוה: “Let op, Ek gaan die gees van ’n verwoester teen Bavel en teen die inwoners van Lev-Kamai opwek.

2Ek sal vreemdelinge na Bavel stuur om haar uit te wan en haar land te verwoes, want hulle sal op die dag van katastrofe van elke kant af teen haar wees.

3Die boogskutter sal nie ophou sy boog span nie en die soldaat nie sy pantser afhaal nie; spaar nie haar jongmanne nie; sonder haar ganse leër af vir vernietiging!

4Hulle sal dood neerval in die land van die Kasdeërs en in hul strate deurboor word,”

5want nie Yisra’el of Y’hudah is in die steek gelaat deur hulle God, deur יהוה-Tzva’ot nie, alhoewel hulle land vol skuld is voor die Afgesonderde Een van Yisra’el.

6Vlug uit Bavel uit en red elkeen sy lewe; moenie vernietig word in haar straf nie, want dit is יהוה se tyd van wraak; Hy gaan aan haar haar verdiende loon gee.

7Bavel was ’n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het in die hand van יהוה; die nasies het van haar wyn gedrink; daarom het die nasies gek geword.

8Skielik het Bavel geval en is gebreek. Huil oor haar; bring balsem vir haar pyn! Miskien sal sy gesond gemaak word.

9Ons het genesing aan Bavel gegee, maar sy is nie genees nie; verlaat haar en laat ons elkeen na sy eie land gaan, want haar oordeel ryk tot aan die hemel en toring op tot in die lug.

10יהוה het ons onskuld duidelik gemaak; kom en laat ons in Tziyon die werk van יהוה, ons God, oorvertel!

11Maak skerp die pyle, vul die kokers! יהוה het die gees van die konings van die Mede opgewek, want Sy doel is teen Bavel, om dit te verwoes, want dit is die wraak van יהוה, die wraak vir Sy tempel.

12Lig ’n banier op teen die mure van Bavel; sit ’n sterk wag uit, sit patrollies uit, sit manne in hinderlae, want יהוה het beide beplan en uitgevoer wat Hy aangaande die inwoners van Bavel gesê het.

13Jy wat by baie waters bly, oorvloedig in skatte, jou einde het gekom, die maat van jou einde.

14יהוה-Tzva’ot het by Homself gesweer: “Ek sal jou sekerlik vul met ’n populasie soos sprinkane en hulle sal uitroep met krete van oorwinning oor jou.”

15Hy het die aarde gemaak deur Sy krag, die wêreld gegrond deur Sy wysheid en die hemel uitgestrek deur Sy begrip.

16Wanneer Hy Sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel en Hy laat die wolke opgaan vanaf die einde van die aarde; Hy maak weerlig vir die reën en laat die wind uitkom uit sy opgaarplekke.

17Die hele mensdom is dom, sonder kennis; elke goudsmid word beskaamd deur sy afgode, want sy gegote beelde is misleidend en daar is geen asem in hulle nie.

18Hulle is nutteloos, ’n werk van bespotting; in die tyd van hulle straf sal hulle tot niet gaan.

19Ya’akov se deel is nie soos hierdie nie, want Hy is die Maker van alles en van die stam van Sy erfenis; יהוה-Tzva’ot is Sy Naam.

20“Jy is My oorlogshamer, My oorlogswapen en met jou verbrysel Ek nasies en met jou verwoes Ek koninkryke;

21met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter en met jou verbrysel Ek die strydwa en sy ruiter;

22met jou verbrysel Ek man en vrou en met jou verbrysel Ek grysaard en jeug en met jou verbrysel Ek die jongman en die maagd;

23met jou verbrysel Ek die herder en sy trop en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy span en met jou verbrysel Ek goewerneurs en heersers.

24Ek sal Bavel en al die inwoners van die land van die Kasdeërs voor julle oë terugbetaal vir al hulle boosheid wat hulle in Tziyon gedoen het,” verklaar יהוה.

25“Let op, Ek is teen jou, o verwoestende berg, wat die hele aarde verwoes,” verklaar יהוה; “en Ek sal My hand teen jou uitstrek en jou van die rotse af laat rol en Ek sal van jou ’n afgebrande berg maak.

26Hulle sal selfs nie ’n klip van jou af vat vir ’n hoek of ’n klip vir fondasies nie, maar jy sal vir ewig verlate wees,” verklaar יהוה.

27Lig ’n banier op in die land, blaas ’n ramshoring onder die nasies! Sonder die nasies teen haar af, roep die koninkryke van Ararat, Minni en Ashkenaz teen haar op, stel ’n aanvoerder teen haar aan, bring die perde op soos voetganger sprinkane!

28Sonder nasies teen haar af, die konings van die Mede, hulle goewerneurs en al hulle leiers en elke land van hulle heerskappy.

29So bewe die land en krimp inmekaar, want die planne van יהוה teen Bavel staan, om die land van Bavel ’n verlatenheid te maak, sonder inwoner.

30Die magtige manne van Bavel het opgehou om te veg, hulle bly in die vestings; hulle krag is uitgeput, hulle het soos vroue geword. Hulle blyplekke is aan die brand gesteek, die grendels is gebreek.

31Die een loper hardloop die ander tegemoet en die een boodskapper die ander, om aan die koning van Bavel te vertel dat sy stad van kant tot kant ingeneem is.

32Die driwwe is ook oorgevat en hulle het die rietvleie met vuur verbrand en die krygsmanne is vreesbevange,

33want so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Die dogter van Bavel is soos ’n dorsvloer in die tyd as dit vasgetrap word; tog sal die oestyd in ’n kort rukkie vir haar kom.”

34“N’vukhadnetzar, koning van Bavel, het my verteer, my verpletter; hy het my neergesit soos ’n leë houer; hy het my ingesluk soos ’n monster; hy het sy maag vol gemaak met my lekkernye en my toe laat afdwaal.”

35Die inwoners van Tziyon sal sê: “Mag die geweld wat aan my en my vlees gedoen is, op Bavel wees” en Yerushalayim sal sê: “Mag my bloed wees op die inwoners van die land van die Kasdeërs!”

36יהוה sê daarom: “Let op, Ek sal jou saak verdedig en volle wraak vir jou kry en Ek sal haar see opdroog en haar fonteine droog maak.

37Bavel sal ’n puinhoop word, ’n lêplek van jakkalse, ’n voorwerp van verskrikking en bespotting, sonder inwoners.

38Hulle sal saam brul soos jong leeus, grom soos leeuwelpies.

39Wanneer hulle opgewarm is, sal Ek hulle feesmaal bedien en hulle dronk maak dat hulle uitgelate word en ’n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie,” verklaar יהוה.

40“Ek sal hulle afbring soos lammers om geslag te word, soos ramme saam met bokramme.

41Hoe is Sheshakh ingeneem en die lofprysing van die hele aarde verower! Hoe het Bavel ’n voorwerp van verskrikking geword onder die nasies!

42Die see het opgekom oor Bavel, sy is verswelg in sy geweldige golwe.

43Haar stede het ’n voorwerp van verskrikking geword, ’n geskroeide land en ’n woestyn; ’n land waarin niemand bly nie en waardeur geen seun van ’n mens verbygaan nie.

44Ek sal Bel in Bavel straf en maak dat wat hy ingesluk het uit sy mond uit kom en die nasies sal nie meer na hom toe stroom nie. Selfs die muur van Bavel het omgeval!

45Gaan uit haar uit, My volk en red elkeen homself van die vreeslike woede van יהוה!

46Nou, sodat julle binneste nie swak word nie en julle nie bang is vir die verslag wat in die land gehoor sal word nie, want die verslag sal die een jaar kom en daarna ’n ander verslag in ’n ander jaar en daar sal geweld wees in die land, met heerser teen heerser;

47daarom, let op, daar kom dae dat Ek die afgode van Bavel sal straf en haar hele land sal beskaamd staan en al haar gesneuweldes sal in haar midde val,

48dan sal die hemel en aarde en alles wat daarin is uitroep van vreugde oor Bavel, want die verwoesters sal oor haar kom uit die noorde,” verklaar יהוה.

49Inderdaad sal die gesneuweldes van Yisra’el in Bavel val en die gesneuweldes van Bavel oor die hele aarde.

50Julle wat die swaard vrygespring het, gaan weg, moenie bly nie! Onthou יהוה van ver af en hou Yerushalayim in jou gedagtes!

51Ons is skaam, want ons het bespotting gehoor; skande het ons gesigte bedek, want vreemdes het die Afgesonderde Plekke van die huis van יהוה ingegaan.

52“Let daarom op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “wanneer Ek haar afgode sal straf en die dodelik gewondes sal reg deur haar hele land kerm.

53Al sou Bavel na die hemel opgaan en al sou sy haar hoë vesting versterk, sal verwoesters van My na haar toe afkom,” verklaar יהוה.

54Die uitroep van ’n gehuil kom uit Bavel en van groot vernietiging vanaf die land van die Kasdeërs,

55want יהוה gaan Bavel vernietig en Hy sal haar harde geraas uit haar laat verdwyn en hulle golwe sal bruis soos baie waters, die geraas van hulle stemme sal gehoor word,

56want die vernietiger kom teen haar, teen Bavel en haar magtige manne sal gevang word, hulle boë stukkend gebreek word, want יהוה is ’n God van vergelding; Hy sal ten volle terugbetaal.

57“Ek sal haar prinse, haar wyse manne, haar goewerneurs, haar leiers en haar magtige manne dronk maak dat hulle ’n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie,” verklaar die Koning, Wie se Naam יהוה-Tzva’ot is.

58So sê יהוה-Tzva’ot: “Die breë muur van Bavel sal volkome platgevee word en haar hoë poorte aan die brand gesteek word sodat volke vir niks gewerk het en nasies moeg geword het, net vir vuur.”

59Die boodskap waarmee Yirmeyahu, die profeet, vir S’rayah, die seun van Neriyah, die seun van Magseyah, beveel het, toe hy saam met Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, na Bavel gegaan het, in die vierde jaar van sy regering. S’rayah was kwartiermeester. 60Yirmeyahu het in ’n enkel boekrol al die katastrofes opgeskryf wat oor Bavel sou kom, al hierdie woorde wat aangaande Bavel geskryf is. 61Toe het Yirmeyahu vir S’rayah gesê: “Sodra jy in Bavel kom, kyk dan dat jy al hierdie woorde hardop lees 62en sê: ‘U, o יהוה, het oor hierdie plek belowe om dit af te sny sodat daar niks in dit sal bly nie, nie mens of dier nie, maar dat dit ’n ewige verlatenheid sal wees.’ 63Sodra jy hierdie boekrol klaar gelees het, moet jy ’n klip daaraan vasmaak en dit in die middel van die Eufraat gooi 64en sê: ‘Net so sal Bavel sink en nie weer opkom nie, weens die katastrofe wat Ek oor haar gaan bring en hulle sal uitgeput wees.’” Tot sover die woorde van Yirmeyahu.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 50
Top of Page
Top of Page