Jeremia 48
Afrikaans PWL
1Aangaande Mo’av: so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Wee N’vo, want dit is vernietig; Kiryatayim is tot skaamte gemaak, dit is ingeneem; die verhewe vesting is tot skaamte gemaak en in stukkies. Yeg 25:8-11

2Daar is geen lofprysing meer vir Mo’av nie; in Heshbon het hulle katastrofe teen haar beplan: ‘Kom laat ons haar afsny sodat sy geen nasie meer is nie.’ Ook jy, Madmein, sal stil gemaak word, die swaard sal jou agtervolg.

3Die geklank van ’n uitroep uit Horonayim: ‘Vernietiging en groot verwoesting!’

4Mo’av is verbreek; haar kleintjies het hulle laat hoor,

5want by die opdraand na Lugit sal hulle opgaan met aanhoudende gehuil, want by die afgaan van Horonayim het hulle die angskrete van vernietiging gehoor.

6Vlug, red julle lewe dat jy kan wees soos ’n jenewerstruik in die wildernis,

7want as gevolg van jou vertroue in jou eie prestasies en skatte, sal ook jy ingeneem word en K’mosh sal uitgaan in ballingskap met sy priesters en sy prinse.

8’n Verwoester sal kom na elke stad sodat geen stad sal vry raak nie en die vallei sal ook verwoes word en die plato sal vernietig word,” soos יהוה gesê het.

9“Gee vlerke vir Mo’av, want sy sal wegvlieg en haar stede sal ’n verlatenheid word, sonder inwoners in hulle.

10Vervloek is die een wat יהוה se werk nalatig doen en vervloek is die een wat sy swaard terughou van bloed!

11Mo’av was gemaklik van sy jeug af en was ook onversteurd op sy afsaksel en is nie leeggemaak van vat na vat nie en ook is hy nooit in ballingskap weg nie; daarom behou hy sy smaak en sy geur het nie verander nie;

12daarom, let op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “dat Ek die wat aftap na hom toe sal stuur en hulle sal hom aftap en sy vate leegmaak en sy kruike stukkend slaan. 13Mo’av sal skaam wees vir K’mosh, soos die huis van Yisra’el skaam was vir Beit-El, waarop hulle vertrou het.

14Hoe kan julle sê: ‘Ons is magtige soldate en manne dapper om te veg?’

15Mo’av is vernietig en hulle het opgegaan in sy stede; sy beste jongmanne het afgegaan na die slagting,” verklaar die Koning, Wie se Naam יהוה-Tzva’ot is.

16“Die ramp van Mo’av sal gou kom en sy katastrofe is vinnig verhaas.

17Rou vir hom, almal wat rondom hom is en almal wat sy naam ken! Sê: ‘Hoe is die magtige septer gebreek, die staf van prag en praal!’

18Kom af uit jou lof en eer en sit op die geskroeide grond, o dogter wat in Divon bly, want die verwoester van Mo’av het teen jou opgekom, hy het jou vestings verwoes.

19Staan by die pad en hou wag, o inwoner van `Aro’er! Vra vir hom wat vlug en vir haar wat ontsnap; sê: ‘Wat het gebeur?’

20Mo’av is tot skaamte gemaak, want hy is in stukkies. Huil en roep uit, verkondig dit by die Arnon dat Mo’av vernietig is!

21Oordeel het ook gekom op die vlakte, oor Holon, Yagtzah en teen Mefa’at, 22teen Divon, N’vo en Beit-Diblatayim, 23teen Kiryatayim, Beit-Gamul en Beit-M’on, 24teen K’riot, Botzrah en al die stede van die land van Mo’av, ver en naby. 25Die horing van Mo’av is afgekap en sy arm gebreek,” verklaar יהוה. 26“Maak hom dronk, want hy het arrogant geword teen יהוה sodat Mo’av rondrol in sy uitbraaksel en ook ’n bespotting word. 27Nou, was Yisra’el nie vir jou ’n bespotting nie? Of is hy tussen die diewe betrap? Want elke keer as jy van hom praat, skud jy jou kop in minagting.

28Verlaat die stede en gaan bly in die skeure, o inwoners van Mo’av! Wees soos ’n duif wat sy nes maak oorkant die opening van die afgrond.

29Ons het van die trots van Mo’av gehoor; hy is baie trots; van sy hoogmoedigheid, sy trots, sy arrogansie en sy selfverhoging.

30Ek ken sy toorn,” verklaar יהוה, “maar dit is tevergeefs; sy leë grootpratery het niks bereik nie;

31daarom, huil oor Mo’av, oor die hele Mo’av vanaf elke plek; treur oor die manne van Kir-Heres.

32Meer as die gehuil vir Ya’zer sal Ek oor jou huil, o wingerd van Sivmah! Jou ranke het oor die see gestrek, hulle het tot by die see van Ya’zer gekom; die verwoester het jou somervrugte en jou druiwe-oes oorval.

33Vreugde en blydskap is weggevat uit die vrugbare veld, uit die land van Mo’av en Ek het die wyn uit die parskuipe laat opraak; niemand sal hulle trap met uitroepe nie; die uitroepe sal nie uitroepe van vreugde wees nie.

34Vanaf die uitroep by Heshbon tot by El’aleh, tot by Yagatz het hulle hul stem opgelig; vanaf Tzo’ar tot by Horonayim en Eglat-Shlishiyah, want selfs die waters van Nimrim sal ’n verlatenheid word. 35Ek sal in Mo’av ’n einde maak,” verklaar יהוה, “aan die een wat op die hoë plekke offer en wierook brand vir sy gode;

36daarom huil My binneste oor Mo’av soos fluite; My binneste huil ook oor die manne van Kir-Heres soos fluite; daarom het hulle die oorvloed wat dit voortbring verloor, 37want elke kop is kaal en elke baard is kort geskeer; daar is snye op al die hande en rouklere om die heupe. 38Op al die dakke van Mo’av en oral in sy strate is rouklag, want Ek het Mo’av stukkend gebreek soos ’n onbegeerlike houer,” verklaar יהוה. 39“Hoe stukkend gebreek is dit! Hulle het gehuil. Hoe het Mo’av sy rug gedraai; hy is skaam! So sal Mo’av vir almal wat rondom hom is, ’n bespotting en ’n voorwerp van verskrikking word,”

40want so sê יהוה: “Let op, een sal vlieg soos ’n arend en sy vlerke teen Mo’av uitsprei.

41Die stede is ingeneem en die vestings is verower; so sal die binneste van die magtige manne van Mo’av op dié dag wees soos die binneste van ’n vrou in kraam.

42Mo’av sal vernietig word sodat hy geen volk meer is nie omdat hy arrogant geword het teen יהוה.

43Verskrikking, die put en die strik kom oor jou, o inwoner van Mo’av,” verklaar יהוה.

44“Die een wat vlug vir die verskrikking sal in die put val en hy wat opklim uit die put uit, sal gevang word in die strik, want Ek sal oor haar, oor Mo’av, die jaar van hulle straf bring,” verklaar יהוה.

45“In die skadu van Heshbon staan die vlugtelinge sonder krag, want ’n vuur het uitgegaan uit Heshbon en ’n vlam vanuit Sigon en dit het die voorkop van Mo’av en die skedel van die oproermakers verteer.

46Wee jou, Mo’av! Die mense van K’mosh is dood, want jou seuns is weggevat as gevangenes en jou dogters in gevangeskap.

47Tog sal Ek die welstand van Mo’av in die laaste dae herstel,” verklaar יהוה. Tot sover die oordeel oor Mo’av.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 47
Top of Page
Top of Page