Jeremia 39
Afrikaans PWL
1Toe Yerushalayim ingeneem is in die negende jaar van Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, in die tiende maand, het N’vukhadnetzar, die koning van Bavel, met sy hele leër na Yerushalayim gekom en dit beleër; 2in die elfde jaar van Tzidkiyahu, in die vierde maand, op die negende van die maand, is in die stad ingebreek. 3Toe het al die amptenare van die koning van Bavel gekom en gaan sit by die Middel-Poort: Nergal-Sar’etzer, Shamgar-N’vo, Sars’khim, die hoof kamerling, NergalSar’etzer, die hoof waarsêer en al die ander amptenare van die koning van Bavel. 4Toe Tzidkiyahu, koning van Y’hudah en al die krygsmanne hulle sien, het hulle gevlug en in die nag uit die stad uitgegaan deur die koning se tuin, deur die poort tussen die twee mure en hy het uitgegaan in die rigting van die wildernis, 5maar die leër van die Kasdeërs het hulle agternagejaag en Tzidkiyahu in die vlaktes van Yerigo ingehaal, hom gevang en hom na N’vukhadnetzar, koning van Bavel gebring, by Rivlah in die land van Hamat en hy het ’n vonnis oor hom uitgespreek. 6Toe het die koning van Bavel die seuns van Tzidkiyahu voor sy oë in Rivlah dood gemaak; die koning van Bavel het ook al die edeles van Y’hudah dood gemaak. 7Hy het toe die oë van Tzidkiyahu laat verblind en hom met koper kettings geboei om hom na Bavel te bring. 8Die Kasdeërs het ook die paleis van die koning en die huise van die volk met vuur verbrand en die mure van Yerushalayim afgebreek. 9Wat betref die deel van die volk wat nog in die stad oorgebly het, die oorlopers wat na hom toe oorgeloop het en die deel van die volk wat nog oorgebly het; N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, het hulle in ballingskap weggevoer na Bavel, 10maar sommige van die armste mense wat niks gehad het nie, het N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, in die land Y’hudah laat agterbly en vir hulle wingerde en landerye in dié tyd gegee.

11N’vukhadnetzar, koning van Bavel, het deur N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, aangaande Yirmeyahu beveel en gesê: 12“Vat hom en kyk na hom en doen hom geen kwaad nie, maar doen vir hom soos hy vir jou sal sê.” 13N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, N’vusásban, die hoof kamerling en Nergal-Sar’etzer, die hoof waarsêer en al die hoof amptenare van die koning van Bavel, het gestuur 14en Yirmeyahu uit die hof van die waghuis uitgehaal en hom toevertrou aan G’dalyahu, die seun van Agikam, die seun van Shafan, om hom huis toe te bring. So het hy tussen die volk gebly.

15Die woord van יהוה het tot Yirmeyahu gekom terwyl hy in die hof van die waghuis opgesluit was en gesê: 16“Gaan praat met `Eved-Melekh, die Kushiet en sê: ‘So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Let op, Ek is op die punt om My woorde oor hierdie stad ten rampe en nie ten voorspoed te bring nie en dit sal voor jou oë vervul word op dié dag, 17maar Ek sal jou in dié dag bevry,” verklaar יהוה “en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie, 18want Ek sal jou sekerlik red en jy sal nie deur die swaard val nie, maar jy sal jou eie lewe as buit hê omdat jy op My vertrou het,” verklaar יהוה.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 38
Top of Page
Top of Page