Jeremia 40
Afrikaans PWL
1Die woord wat van יהוה tot Yirmeyahu gekom het, nadat N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, hom vrygelaat het uit Ramah, toe hy hom in kettings geboei tussen al die gevangenes van Yerushalayim en Y’hudah in ballingskap weggevoer het na Bavel. 2Die bevelvoerder van die lyfwag het vir Yirmeyahu gevat en vir hom gesê: “יהוה, jou God, het hierdie katastrofe oor hierdie plek belowe 3en יהוה het dit laat kom en gedoen net soos Hy belowe het omdat julle gesondig het teen יהוה en nie geluister het na Sy stem nie; daarom het dit oor julle gekom, 4maar nou, let op, ek bevry jou vandag uit die kettings wat aan jou hande is. As jy verkies om saam met my na Bavel te gaan, kom en ek sal na jou kyk, maar as jy verkies om nie saam met my na Bavel te kom nie, maak nie saak nie. Kyk, die hele land is voor jou; gaan waar dit ook al goed en reg is in jou oë om te gaan.” 5Aangesien Yirmeyahu steeds nie teruggegaan het nie, sê hy: “Gaan dan terug na G’dalyahu, die seun van Agikam, die seun van Shafan, wat die koning van Bavel oor die stede van Y’hudah aangestel het en bly by hom tussen die mense; of gaan andersins enige plek waar dit ook al reg is vir jou om te gaan.” Die bevelvoerder van die lyfwag het vir hom padkos en ’n geskenk gegee en hom laat gaan. 6Yirmeyahu het na Mitzpah, na G’dalyahu, die seun van Agikam, gegaan en by hom gebly tussen die volk wat in die land agtergebly het.

7Al die bevelvoerders van die leërs wat in die veld was, hulle en hulle manne, het gehoor dat die koning van Bavel vir G’dalyahu, die seun van Agikam, oor die land aangestel het en dat hy hom in beheer geplaas het van die manne, vroue en kinders; die van die armste mense van die land wat nie in ballingskap weggevoer is na Bavel nie. 8Hulle het na G’dalyahu toe gekom in Mitzpah, saam met Yishma’el, die seun van N’tanyahu, Yoganan en Yonatan, die seuns van Kareag, S’rayah, die seun van Tangumet, die seuns van `Efai, die N’tofatiet en Y’zanyahu, die seun van die Ma’akhatiet, hulle en hulle manskappe. 9G’dalyahu, die seun van Agikam, die seun van Shafan, het vir hulle en hulle manskappe gesweer en gesê: “Moenie bang wees om die Kasdeërs te dien nie; bly in die land en dien die koning van Bavel sodat dit met julle goed mag gaan. 10Nou wat my betref, let op, ek gaan in Mitzpah bly om vir julle voor die Kasdeërs te staan wat na ons toe gekom het, maar wat julle aangaan, maak wyn, somervrugte en olie bymekaar en gooi dit in julle houers en bly in julle stede wat julle oorgeneem het.” 11Net so het ook al die Y’hudahiete wat in Mo’av, tussen die seuns van `Ammon, in Edom en in al die lande was, gehoor dat die koning van Bavel vir Y’hudah ’n oorblyfsel agtergelaat het en dat hy G’dalyahu, die seun van Agikam, die seun van Shafan, oor hulle aangestel het. 12Toe het al die Jode teruggekom vanaf al die plekke waarheen hulle verdryf is en na die land van Y’hudah, na G’dalyahu, in Mitzpah gekom en hulle het groot hoeveelhede wyn en somervrugte bymekaargemaak.

13Yoganan, die seun van Kareag en al die bevelvoerders van die leërs wat in die veld was, het na G’dalyahu, in Mitzpah, gekom 14en vir hom gesê: “Is u wel bewus daarvan dat Ba’alis, koning van die seuns van `Ammon, vir Yishma’el, die seun van N’tanyahu, gestuur het om u lewe te neem?” G’dalyahu, die seun van Agikam, het hulle egter nie geglo nie. 15Toe het Yoganan, die seun van Kareag, in die geheim met G’dalyahu in Mitzpah gepraat en gesê: “Laat my gaan en Yishma’el, die seun van N’tanyahu, doodmaak en niemand sal weet nie. Hoekom sou hy u lewe neem sodat al die Jode wat by u versamel is, verstrooi word en die oorblyfsel van Y’hudah tot niet gaan?” 16G’dalyahu, die seun van Agikam, het egter vir Yoganan, die seun van Kareag gesê: “Moenie hierdie ding doen nie, want jy vertel ’n leuen oor Yishma’el.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 39
Top of Page
Top of Page