Jeremia 38
Afrikaans PWL
1Sh’fatyah, die seun van Mattan; G’dalyahu, die seun van Pash’gur; Y’hukhal, die seun van Shelemyahu en Pash’gur, die seun van Malkiyah, het die woorde gehoor wat Yirmeyahu met die hele volk gepraat en gesê het: 2“So sê יהוה: ‘Hy wat in hierdie stad bly, sal sterf deur die swaard, die hongersnood en die pes, maar hy wat na die Kasdeërs toe uitgaan, sal lewe en sy eie lewe as buit hê en aan die lewe bly.’ 3So sê יהוה: ‘Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Bavel en hy sal dit inneem.’” 4Toe het die amptenare vir die koning gesê: “Laat hierdie man doodgemaak word, want dit is hy wat die krygsmanne wat in hierdie stad oor is en die hele volk ontmoedig deur sulke woorde met hulle te praat, want dié man soek nie die welsyn van hierdie volk nie, maar hulle skade.” 5Koning Tzidkiyahu het gesê: “Let op, hy is in julle hande, want die koning kan niks teen julle doen nie.” 6Toe vat hulle vir Yirmeyahu en gooi hom in die put van Malkiyahu, die seun van die koning, wat in die hof van die waghuis was en hulle het Yirmeyahu met toue laat afsak. Nou, in die put was daar geen water nie, maar net modder en Yirmeyahu het in die modder ingesink,

7maar `Eved-Melekh, die Kushiet, ’n kamerling, het terwyl hy in die paleis van die koning was, gehoor dat hulle Yirmeyahu in die put gesit het. Die koning het in die Binyaminspoort gesit 8en `Eved-Melekh het uit die paleis van die koning uitgegaan en met die koning gepraat en gesê: 9“My meester die koning, hierdie manne het boos opgetree in alles wat hulle die profeet Yirmeyahu aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het en hy sal net daar waar hy is sterf as gevolg van die hongersnood, want daar is geen brood meer in die stad nie.” 10Toe beveel die koning vir `Eved-Melekh, die Kushiet en sê: “Vat dertig manne hiervandaan onder jou outoriteit en trek die profeet Yirmeyahu uit die put uit op, voordat hy sterf.” 11`Eved-Melekh het die manne onder sy outoriteit gevat en in die paleis van die koning ingegaan en van onder uit die stoorkamer verslete klere en geskeurde lappe gevat en dit na Yirmeyahu in die put met toue laat afsak. 12Toe het `Eved-Melekh, die Kushiet, vir Yirmeyahu gesê: “Sit nou die verslete klere en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue” en Yirmeyahu het so gedoen. 13Hulle het Yirmeyahu met die toue opgetrek en hom uit die put uitgelig en Yirmeyahu het in die hof van die waghuis gebly.

14Toe stuur koning Tzidkiyahu en hy laat die profeet Yirmeyahu na hom toe bring by die derde ingang van die huis van יהוה en die koning het vir Yirmeyahu gesê: “Ek gaan vir jou iets vra; moet niks vir my wegsteek nie.” 15Toe antwoord Yirmeyahu vir Tzidkiyahu: “As ek u vertel, let op, u sal my sekerlik laat doodmaak. In elk geval, as ek vir u raad gee, sal u nie na my luister nie.” 16Koning Tzidkiyahu het egter in die geheim vir Yirmeyahu gesweer en gesê: “So waar as יהוה leef wat vir ons hierdie lewe gemaak het, ek sal jou sekerlik nie doodmaak of jou oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!”

17Toe sê Yirmeyahu vir Tzidkiyahu: “So sê יהוה, die God van die leërmagte, die God van Yisra’el: ‘As u inderdaad sal uitgaan na die offisiere van die koning van Bavel, dan sal u leef, hierdie stad sal nie met vuur verbrand word nie en u en u huishouding sal oorleef, 18maar as u nie uitgaan na die offisiere van die koning van Bavel nie, dan sal hierdie stad in die hand van die Kasdeërs oorgegee word en hulle sal dit met vuur verbrand en u self sal nie uit hulle hand ontsnap nie.’” 19Toe sê koning Tzidkiyahu vir Yirmeyahu: “Ek is bang vir hulle van Y’hudah wat na die Kasdeërs oorgeloop het, want hulle mag my aan hulle oorgee en hulle sal my beledig.” 20Yirmeyahu antwoord egter: “Hulle sal u nie oorgee nie. Gehoorsaam יהוה asseblief in wat ek vir u sê sodat dit met u goed mag gaan en u sal leef, 21maar as u aanhou weier om uit te gaan, is dit die woord wat יהוה vir my gewys het:

22‘Dan, let op, sal al die vroue wat in die paleis van die koning van Y’hudah oorgebly het, uitgelei word na die offisiere van die koning van Bavel en daardie vrouens sal sê: “U goeie vriende het u mislei en u oorweldig; terwyl u voete in die slik weggesak het, het hulle teruggedraai.”

23Hulle sal ook al u vroue en u kinders na die Kasdeërs uitlei en u self sal nie uit hulle hand ontsnap nie, maar sal deur die hand van die koning van Bavel gevang word en hierdie stad sal met vuur verbrand word.’”

24Toe sê Tzidkiyahu vir Yirmeyahu: “Laat niemand van hierdie woorde weet nie en jy sal nie sterf nie, 25maar as die amptenare hoor dat ek met jou gepraat het en by jou kom en vir jou sê: ‘Vertel ons nou wat jy vir die koning gesê het; moet dit nie vir ons wegsteek nie en ons sal jou nie doodmaak nie,’ 26dan moet jy hulle antwoord: ‘Ek het my versoek voor die koning gebring dat hy my nie moet laat terugbring in die huis van Y’honatan, om daar te sterf nie.’” 27Toe het al die amptenare by Yirmeyahu gekom en hom uitgevra en hy het aan hulle gerapporteer volgens al hierdie woorde wat die koning hom beveel het en hulle het opgehou om met hom te praat, aangesien die gesprek nie gehoor is nie. 28Yirmeyahu het in die hof van die waghuis gebly tot op die dag dat Yerushalayim ingeneem is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 37
Top of Page
Top of Page