Jeremia 2
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê:

2“Gaan en verkondig in die ore van die mense van Yerushalayim en sê: ‘So sê יהוה: “Ek onthou aangaande jou die toewyding van jou jeug, die liefde van jou uithou, hoe jy in die woestyn, deur ’n onbesaaide land, agter My aan geloop het.

3Yisra’el is die eersteling van Sy oes, afgesonder vir יהוה. Almal wat daarvan vernietig, sal veroordeel word; boosheid sal oor hulle kom,” verklaar יהוה.’”

4Luister en hoor die woord van יהוה, o huis van Ya’akov en al die families van die huis van Yisra’el!

5So sê יהוה: “Watter onregverdigheid het julle vaders in My gevind dat hulle ver van My af weggegaan en agter leegheid aan geloop het en self leeg geword het?

6Hulle het nie gesê: ‘Waar is יהוה wat ons uit die land van Mitzrayim uit gebring het, wat ons deur die wildernis gelei het, deur ’n land van woestyne en kuile, deur ’n land van droogte en diep duisternis, deur ’n land waardeur niemand trek en waar geen mens bly,’ nie.

7Ek het julle in die vrugbare land gebring om die vrugte en die goeie dinge daarvan te eet, maar julle het gekom en My land onteer en My erfenis het julle ’n verafskuwing gemaak.

8Die priesters het nie gesê: ‘Waar is יהוה?’ nie. Die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie; die heersers het ook teen My oortree en die profete het deur Ba’al geprofeteer en agter dinge aangeloop wat geen voordeel bring nie;

9daarom sal Ek steeds met julle argumenteer,” verklaar יהוה; “en met julle kindskinders sal Ek argumenteer,

10want gaan oor na die kuslande van die Kittiërs, kyk en stuur na Kedar en gee daar goed ag op en kyk of daar so iets soos dié gebeur het!

11Het ’n nasie sy gode verruil terwyl hulle nie-gode is nie? My volk het egter sy lof, eer en aanbidding verruil vir wat geen voordeel bring nie.

12O hemele, wees verstom hieroor, sidder en wees bedroef,” verklaar יהוה,

13“want My volk het twee booshede gedoen: hulle het My, die Fontein van lewende water, verlaat om vir hulleself reënbakke uit te kap, gebreekte reënbakke wat geen water kan hou nie.

14Is Yisra’el ’n slaaf, of is hy ’n bediende wat in die huis gebore is? Waarom het hy ’n prooi geword?

15Die jong leeus het vir hom gebrul, hulle het hard gebrul en van sy land ’n woesteny gemaak; sy stede is vernietig, sonder inwoner.

16Die manne van Nof (Memphis) en Tagpanges het geheers oor die kroon van jou kop.

17Het jy dit nie aan jouself gedoen deur יהוה, jou God, te verlaat toe Hy jou op die pad gelei het nie?

18Wat maak jy dan nou op die pad na Mitzrayim, om die water van die Nyl te drink? Of wat maak jy op die pad na Ashur, om die waters van die Eufraat te drink?

19Jou eie boosheid sal jou reghelp en jou afvalligheid sal jou bestraf; weet dan en sien dat dit boos en bitter is vir jou om יהוה, jou God, te verlaat; My respekvolle vrees is dan nie in jou nie,” verklaar יהוה, God van die leërskare,

20“want lank gelede het Ek jou juk verbreek en jou bande afgeskeur, maar jy het gesê: ‘Ek sal nie dien nie,’ want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom het jy gaan lê as ’n hoereerder.

21Nogtans het Ek jou geplant as ’n keur wingerdstok, ’n heeltemal betroubare saad. Hoe het jy jouself dan voor My verander in die minderwaardige lote van ’n vreemde wingerdstok?

22Alhoewel jy jou was met loog en baie seep gebruik, is die vlek van jou onregverdigheid voor My,” verklaar יהוה-God.

23“Hoe kan jy sê: ‘Ek is nie onteer nie; ek het nie agter die Ba’als aan gegaan nie?’ Kyk na jou lewenswyse in die valleie en besef wat jy gedoen het! Jy is ’n jong kameelkoei wat haar stem verhef;

24’n wilde-donkie, gewoond aan die wildernis, wat in haar heftige begeerte die wind snuif in die tyd van haar hitte! Wie kan haar wegkeer? Almal wat haar soek, sal hulle nie vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.

25Jou voete is moeg, want hulle is nie beslaan nie en jou keel droog van die dors, maar jy het gesê: ‘Ek het sterk geword en is nie bereid om te erken en om te draai nie, want ek het vreemdes liefgehad en sal agter hulle aan loop.’

26Soos ’n dief beskaamd staan as hy ontdek word, so is die huis van Yisra’el beskaamd; hulle, hulle konings, hulle prinse, hulle priesters en hulle profete,

27wat vir ’n boom sê: ‘Jy is my vader’ en vir ’n klip: ‘Jy het geboorte gegee aan my,’ want hulle het hulle rug na My toe gedraai en nie die gesig nie, maar in die tyd van hulle moeilikheid sal hulle sê: ‘Staan op en red ons!’

28Waar is jou gode wat jy vir jouself gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou kan red in die tyd van jou moeilikheid, want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Y’hudah!

29Waarom stry julle met My? Julle almal het teen My oortree,” verklaar יהוה.

30“Tevergeefs het Ek julle seuns geslaan; hulle het geen tugtiging aanvaar nie; julle swaard het julle profete verslind soos ’n vernietigende leeu.

31O geslag, gee ag op die woord van יהוה! Was Ek ’n Wildernis vir Yisra’el of ’n Land van dik duisternis? Waarom sê My volk: ‘Ons is vernederd, ons sal nie meer na U toe kom nie?’

32Kan ’n maagd haar versierings vergeet, of ’n bruid haar klere? Tog het My volk My dae sonder tal vergeet.

33Hoe goed berei jy jou pad voor om liefde te soek! Let op, jy het ook boosheid geleer deur jou optrede.

34Ook is daar aan jou hande die bloed gevind van die onskuldige armes. Ek het dit nie gevind deur hard te soek nie, want dit is onder elke boom.

35Tog het jy steeds gesê: ‘Ek is onskuldig; Sy toorn sal sekerlik weggedraai word van my af.’ Let op, Ek sal in oordeel met jou gaan omdat jy sê: ‘Ek het nie gesondig nie.’

36Hoekom loop jy so baie rond en verander jou pad? Jy sal ook deur Mitzrayim beskaamd gemaak word soos jy deur Ashur beskaamd gemaak is.

37Ja, jy sal vernederd van hom af weggaan, want יהוה is kwaad vir hulle waarop jy jou vertroue geplaas het en jy sal nie met hulle voorspoedig wees nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 1
Top of Page
Top of Page