Jesaja 44
Afrikaans PWL
1maar luister nou, Ya’akov, My dienskneg en Yisra’el wat Ek gekies het!”

2So sê יהוה, wat jou gemaak en jou gevorm het van die baarmoeder af, wat jou sal help: “Moenie vrees nie, Ya’akov, My dienskneg en Yeshurun wat Ek gekies het,

3want Ek sal water op ’n uitgedroogde land uitgooi en strome op die droë grond; Ek sal My Gees op jou nageslag uitgiet en My seën op jou nakomelinge

4en hulle sal opspring tussen die gras soos populiere by waterstrome.’

5Die een sal sê: ‘Ek behoort aan יהוה’ en die ander sal die naam van Ya’akov aanroep en die ander sal met sy hand skryf: ‘Ek behoort aan יהוה’ en sal die naam van Yisra’el eer.”

6So sê יהוה, die Koning van Yisra’el en sy Loskoper, יהוה-Tzva’ot: ‘Ek is die Eerste en Ek is die Laaste en buiten My is daar geen God nie.

7Wie is soos Ek? Laat hom dit verklaar en verkondig; laat hom dit aan My weergee in volgorde, vanaf die tyd dat Ek die antieke nasie gevestig het? Laat hulle die dinge wat kom en wat sal gebeur, bekend maak.

8Moenie bewe en moenie bang wees nie; het Ek dit nie lank tevore vir jou aangekondig en dit verklaar nie? Júlle is My getuies! Is daar enige God buiten My, of is daar enige ander Rots? Ek weet van geeneen nie.

9Hulle wat gesnede beelde vorm, is almal nutteloos en hulle kosbare dinge is tot geen voordeel nie; selfs hulle eie getuies faal om te sien of weet sodat hulle beskaamd word. 10Wie maak ’n god en giet ’n beeld tot geen voordeel nie? 11Let op, al sy metgeselle sal beskaam word, want die ambagsmanne self is net mense! Laat hulle almal bymekaarkom, laat hulle opstaan, laat hulle bewe, laat hulle saam beskaam word!

12Die skrynwerker maak ’n stuk yster gereedskap skerp en vorm die beeld met ’n skaaf en rond dit af met ’n beitel en werk dit met sy sterk arm. Hy word ook honger en sy krag faal; hy drink geen water nie en word moeg. 13Die skrynwerker kies ’n stukkie hout en trek ’n maatlyn. Hy bewerk hom met skawe en trek hom met ’n passer en maak hom in die vorm van ’n man, na die skoonheid van ’n man, om in ’n huis te sit. 14Hy kap seders vir homself en vat ’n sipres of ’n eikeboom en laat dit vir hom opgroei tussen die bome van die woud. Hy plant ’n denneboom en die reën laat dit groei. 15Dan word dit vir die mens iets om te brand en hy vat een daarvan en maak hom warm; hy maak ook ’n vuur om brood te bak. Hy maak ook ’n god en aanbid dit; hy maak ’n gesnede beeld daarvan en val voor dit neer. 16Die helfte daarvan brand hy in die vuur en op sy kole braai hy vleis, eet en word versadig. Hy maak homself ook warm en sê: ‘A, ek is warm, ek het die vuur gesien!’ 17Die res daarvan, maak hy egter in ’n god, sy gesnede beeld; hy val voor dit neer en aanbid dit; hy bid ook tot dit en sê: ‘Bevry my, want u is my god!’

18Hulle weet nie en verstaan nie, want Hy het hulle oë toegesmeer sodat hulle nie kan sien nie en hulle harte sodat hulle nie kan begryp nie. 19Niemand onthou nie en daar is geen kennis of insig om te sê nie: ‘Ek het die helfte daarvan verbrand in die vuur en ook brood gebak op sy kole; ek het vleis gebraai en geëet; dan maak ek die res daarvan in ’n gruwel, ek val neer voor ’n stuk hout!’ 20Hy word gevoed uit as, ’n misleide verstand, wil en emosie het hom laat wegdraai en hy kan homself nie red, of sê nie: ‘Is daar nie ’n leuen in my regterhand nie?’

21Onthou hierdie dinge, o Ya’akov en Yisra’el, want jy is My dienskneg; Ek het jou gevorm; jy is My dienskneg, o Yisra’el; jy sal nie deur My vergeet word nie.

22Ek het jou oortredinge van die wet uitgevee soos ’n dik wolk en jou sondes soos ’n swaar mis. Draai terug na My, want Ek het jou losgekoop.”

23Roep uit van vreugde, o hemele, want יהוה het dit gedoen. Roep vreugdevol uit, laer dele van die aarde! Breek uit in uitroepe van vreugde, o berge, woude en elke boom daarin, want יהוה het Ya’akov losgekoop en in Yisra’el Sy lof, eer en aanbidding gewys.

24So sê יהוה, jou Loskoper en die Een wat jou gevorm het van die baarmoeder af: “Ek, יהוה, is die Maker van alle dinge, wat Self die hemel uitspan en die aarde heeltemal alleen uitsprei,

25wat die tekens van die leuenprofete laat faal en die waarsêers tot dwase maak; wat die wyse laat terugtrek en hulle kennis in dwaasheid verander;

26wat die woord van Sy dienskneg bevestig en die doel van Sy boodskappers uitvoer; wat van Yerushalayim sê: ‘Dit sal bewoon word’ en van die stede van Y’hudah: ‘Hulle sal herbou word’ en ‘Ek sal sy puinhope oprig;’

27wat vir die diepte van die see sê: ‘Wees opgedroog’ en ‘Ek sal jou riviere droog maak;’

28wat van Koresh sê: ‘Hy is My herder en hy sal al My begeertes uitvoer;’ van Yerushalayim sê: ‘Dit sal gebou word;’ van die tempel: ‘Jou fondasies sal gelê word.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 43
Top of Page
Top of Page