Jesaja 42
Afrikaans PWL
1“Let op, My Kneg wat Ek ondersteun; My gekose Een in Wie My Lewe verheug is. Ek het My Gees op Hom gelê; Hy sal regverdige oordeel na die nasies bring.

2Hy sal nie uitskree of Sy stem verhef, of Sy stem op die straat laat hoor nie.

3Die gekneusde riet sal Hy nie breek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; Hy sal getrou ’n regverdige oordeel bring.

4Hy sal nie moedeloos of vergruis word totdat Hy regverdigheid op die aarde gevestig het nie en die kuslande sal afwagtend op Sy wet wag.”

5So sê יהוה-God, wat die hemele geskep en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met alles wat daarop is, wat asem gee aan die mense daarop en gees aan die wat daarop loop:

6“Ek is יהוה. Ek het Jou geroep in onpartydige opregtheid, Ek sal Jou ook aan die hand vat en oor Jou wag hou en Ek sal Jou aanstel as ’n Verbond met die volk, as ’n Lig vir die nasies,

7om blinde oë oop te maak; om gevangenes uit die kerker uit te bring en die wat in duisternis leef uit die tronk.

8Ek is יהוה, dit is My Naam (Karakter en Outoriteit); Ek sal nie My eer aan ’n ander gee, of My lofprysing aan gesnede beelde nie.

9Let op, die vorige dinge het gebeur, nou verklaar Ek nuwe dinge; voordat hulle uitspruit, verkondig Ek hulle aan Jou.”

10Sing tot יהוה ’n nuwe lied en besing Sy lof vanaf die eindes van die aarde af; julle wat afgaan na die see en alles wat daarin is; julle eilande en die wat daarop woon!

11Laat die wildernis en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar bly! Laat die inwoners van Selah hardop sing, laat hulle uitroep van vreugde vanaf die top van die berge!

12Laat hulle aan יהוה lof, eer en aanbidding gee en Sy lofprysing in die kuslande verkondig!

13יהוה sal uittrek soos ’n magtige man; Hy sal ywer opwek soos ’n krygsman. Hy sal ’n kreet uiter, ja, ’n strydkreet. Hy sal teen Sy vyande standhou.

14“Ek het vir ’n lang tyd stilgebly, Ek het stilgebly en Myself bedwing. Ek sal kreun soos ’n vrou wat geboorte gee, Ek sal beide snak en hyg.

15Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante verdroog; Ek sal riviere tot kuslande maak en poele laat opdroog.

16Ek sal die blindes lei op ’n roete wat hulle nie ken nie, op paaie wat hulle nie ken nie, hulle lei; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle en die rowwe plekke tot vlaktes. Dit is die dinge wat Ek sal doen en Ek sal dit nie ongedaan laat nie.

17Hulle wat in afgode vertrou, wat aan gegote beelde sê: ‘Julle is ons gode,’ sal teruggedraai word en diep beskaamd word.

18Hoor, julle dowes en kyk, julle blindes sodat julle kan sien.

19Wie is blind buiten My dienskneg of so doof soos My boodskapper wat Ek stuur? Wie is so blind soos hy wat in vrede met My is, of so blind soos die dienskneg van יהוה?

20Jy het baie dinge gesien, maar jy neem hulle nie waar nie; jou ore is oop, maar niemand hoor nie.”

21Dit het יהוה behaag ter wille van Sy onpartydige opregtheid om die wet groot, eerbaar en lofwaardig te maak.

22Hierdie is egter ’n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal vasgevang in grotte, weggesteek in tronke; hulle het ’n prooi geword met niemand om hulle te bevry nie, ’n plundering met niemand wat sê: ‘Gee terug!’ nie.

23Wié, tussen julle, luister na hierdie dinge? Wie sal toegee en luister na vandag?

24Wie het Ya’akov oorgegee as plunder en Yisra’el aan plunderaars? Was dit nie יהוה teen Wie ons gesondig het nie en in Wie se paaie ons nie gewillig was om te loop nie en Wie se wet ons nie gehoorsaam het nie?

25Hy het daarom die hitte van Sy woede en die geweld van die geveg op hulle uitgestort en dit het hul rondom aan die brand gesteek, tog het hul dit nie besef nie en dit het hulle gebrand, maar hul het dit nie ernstig opgeneem nie,

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 41
Top of Page
Top of Page