Jesaja 1
Afrikaans PWL
1Die visioene van Yesha’yahu, die seun van Amotz, wat hy gesien het met betrekking tot Y’hudah en Yerushalayim, wat hy gesien het tydens die heerskappye van `Uziyahu, Yotam, Agaz en Hizkiyahu, konings van Y’hudah.

2“Luister, o hemele en luister, o aarde, want יהוה praat: “Ek het seuns groot gemaak en tot groot hoogtes gebring, maar húlle het teen My in opstand gekom.

3Selfs ’n os ken sy weiplek en ’n donkie die krip van sy meester, maar Yisra’el ken nie een van die twee nie en My volk verstaan nie wat dit beteken nie.

4Wee ’n sondige nasie; ’n volk neergedruk met skuld, nageslag van wetteloses, seuns wat korrup optree! Julle het יהוה verlaat. Julle het die Afgesonderde van Yisra’el verag, julle het van Hom af weggedraai.

5Waar sal julle nog geslaan word, aangesien julle voortgaan in rebellie? Die hele kop is siek en die hele binneste is swak.

6Vanaf die voetsool tot die kop is daar niks reg nie, net kneusplekke, opswellings en rou wonde; nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie.

7Julle land is verlate, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid; dit is ’n verlatenheid asof deur vreemdes vernietig.

8Die dogter van Tziyon is verlate soos ’n skerm in ’n wingerd, soos ’n wagtershut in ’n komkommerveld, soos ’n beleërde stad.

9As יהוה-Tzva’ot nie vir ons ’n bietjie oorblywendes oorgelos het nie, sou ons soos S’dom geword het, ons sou soos `Amorra gewees het.

10Hoor die woord van יהוה, heersers van S’dom! Luister na die instruksies van ons God, mense van `Amorra!

11‘Wat is julle vermenigvuldigde slagoffers vir My?’ sê יהוה. ‘Ek het genoeg gehad van die brandoffers van ramme en die vet van gevoerde kalwers; Ek het geen plesier in die bloed van bulle, lammers of bokke nie.

12As julle kom om voor My Teenwoordigheid te verskyn, wie vereis dit van julle, hierdie vertrapping van My voorhowe?

13Moenie langer julle waardelose offergawes bring nie; wierook is ’n gruwel vir My. Nuwemaan en Shabbat, die uitroep van byeenkomste; Ek kan nie oortredinge saam met die ernstige byeenkomste verdra nie!

14Ek haat julle Nuwemaanfeeste en julle aangestelde feestye; hulle het vir My ’n las geword; Ek is moeg om dit te dra.

15Wanneer julle jul hande uitsprei, 1 Tim 2:8 sal Ek My oë vir julle toemaak; ja, selfs al vermenigvuldig julle gebede, Ek sal nie luister nie. Julle hande is oortrek met bloed.

16Was julleself, maak julleself skoon; Ya’a 4:8; 1 Yog 1:7-9 verwyder die boosheid van julle dade uit My sig. Hou op om boos te doen,

17leer om goed te doen; soek regverdige oordeel, bestraf die gewetenlose, verdedig die weeskinders, verdedig die saak van die weduwee.

18Kom nou en laat ons saam redeneer,’ sê יהוה: ‘Alhoewel julle sondes soos skarlaken is, sal dit so wit wees soos sneeu; alhoewel hulle so rooi is soos karmosyn, sal dit wees soos wol.

19As julle inwillig en gehoorsaam, sal julle die beste van die land eet,

20maar as julle weier en rebelleer, sal julle deur die swaard verteer word. Waarlik, die mond van יהוה het gepraat.

21Hoe het die getroue stad ’n hoer geword! Sy was vol regverdige oordeel! Onpartydige opregtheid het eens in haar gewoon, maar nou moordenaars!

22Jou silwer het afsaksels geword; jou wyn vermeng met water.

23Jou heersers is rebelle en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag agter belonings aan. Hulle verdedig nie die weeskinders nie en die saak van die weduwee kom ook nie voor hulle nie;’

24daarom verklaar die Meester יהוה-Tzva’ot, die Magtige Een van Yisra’el: ‘O, Ek sal My wreek op My teëstanders en vergelding eis van My vyande!

25Ek sal ook My hand teen jou draai en jou afsaksels soos loog uitsmelt en al jou onsuiwerheid verwyder.

26Dan sal Ek jou regters soos vroeër herstel en jou raadgewers soos in die begin; daarna sal jy die stad van onpartydige opregtheid genoem word; ’n getroue stad.

27Tziyon sal losgekoop word deur regverdigheid en die van haar wat omdraai, deur onpartydige opregtheid,

28maar wetteloses en sondaars sal saam vergruis word en die wat יהוה verlaat, sal tot ’n einde kom.

29Sekerlik sal hulle verneder word deur die eikebome (afgode) wat hulle aanbid het en hulle sal verleë wees oor die tuine wat hulle gekies het,

30want hulle sal wees soos ’n eikeboom waarvan die blare wegkwyn, of soos ’n tuin wat geen water het nie.

31Hulle sterkte sal wees soos was, hulle werke soos die pit en hulle sal saam brand as een en daar is niemand wat hulle sal uitblus nie.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Song of Solomon 8
Top of Page
Top of Page