Hebreërs 3
Afrikaans PWL
1My afgesonderde broers, wat deel in die hemelse roeping, dink daarom versigtig aan Yeshua, Die Gesalfde Een, wat ons openlik erken as God se Afgevaardigde en nie-Levitiese Hoofpriester. 2Hy is vertrouenswaardig teenoor God wat Hom aangestel het, net soos Moshe in God se hele huishouding getrou was, 3want hierdie Een se lof en eer is baie meer as die van Moshe, soveel as wat hy wat die huis gebou het, baie meer eer het as die huis, 4want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat voortdurend alles bou, is God. 5Moshe was as ’n dienskneg toevertrou met die hele huis, tot getuienis van wat nog deur Hom gesê sou word, 6maar Die Gesalfde Een as Seun oor Sy huis. Ons is Sy huis as ons die vrymoedigheid en die trots van Sy goeie Boodskap tot die einde toe vashou.

7Omdat die Gees van Afsondering sê: “Vandag as julle Sy stem hoor,

8verhard nie julle verstand, wil en emosie om Hom kwaad te maak, soos hulle wat rebels is en soos in die dag van die toetsing in die wildernis,

9toe julle vaders My getoets het, My beproef het en My dade veertig jaar lank gesien het, nie.

10As gevolg daarvan was Ek moeg vir daardie geslag en het gesê: ‘Hulle is ’n volk wat fouteer in die verstand, wil en emosie en húlle het My paaie nie geken nie,’

11soos Ek in My woede ’n eed geneem het: ‘Hulle sal in My rus nie ingaan nie!”

12Pas daarom op, my broers, dat daar nie in enige van julle ’n bose en vertrouelose verstand, wil en emosie is en hy van die Lewende God af wegdwaal nie, 13maar verneem van mekaar elke dag, solank as dit vandag genoem word sodat niemand van julle deur die misleiding van sonde verhard word nie, 14want ons is aan Die Gesalfde Een verbind, as ons van die begin af tot die einde toe aan hierdie ware verbond vashou.

15Net soos wat gesê is: “Vandag as julle Sy stem hoor, verhard nie julle verstand, wil en emosie om Hom kwaad te maak nie.”

16Wie was dit dan wat gehoor het en Hom kwaad gemaak het? Was dit nie almal wat Moshe uit Mitzrayim gebring het nie? 17In wie was Hy veertig jaar lank teleurgesteld? Was dit nie in dié wat gesondig het, wie se lyke in die wildernis geval het nie? 18Hulle aangaande wie Hy ’n eed geneem het, dat hulle in Sy rus nie sal ingaan nie, is dit nie aan hulle wat nie oortuig is nie? 19Ons sien dat hulle nie kon ingaan nie omdat hulle nie vertrou het nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hebrews 2
Top of Page
Top of Page