Genesis 8
Afrikaans PWL
1God het Noag, alles wat lewe en al die vee wat saam met hom in die ark was, onthou en God het ’n wind oor die aarde laat waai sodat die water gesak het. 2Die fonteine van die diep watermassas en die sluise van die hemel het ook toegegaan en die reën uit die hemel het opgehou. 3Die water het aanhoudend teruggetrek van die aarde af en die water het verminder aan die einde van honderd en vyftig dae 4en die ark het in die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, op die bergreeks van Ararat gerus. 5Die water het geleidelik afgeneem tot die tiende maand toe. Op die eerste dag van die tiende maand, het die toppe van die berge sigbaar geword.

6Dit het gebeur dat, na veertig dae, Noag die venster van die ark wat hy gemaak het, oopgemaak 7en ’n kraai uitgestuur het wat aanhoudend heen en weer gevlieg het totdat die water weggedroog het van die aarde af. 8Toe het hy vir homself ’n duif laat wegvlieg om te sien of die water oor die aarde se oppervlakte verminder het, 9maar die duif het geen rusplek vir die holte van haar voet gevind nie en na hom teruggekom in die ark, want die water was oor die hele aarde. Hy het sy hand uitgesteek en haar gegryp en in die ark by hom gebring. 10Hy het weer sewe dae gewag en hy het die duif weer uit die ark uitgestuur. 11Die duif het teen sonsondergang na hom toe gekom en let op, daar was ’n groen olyfblaar in haar bek! Noag het geweet dat die water oor die aarde verminder het. 12Hy het nog sewe dae gewag en weer die duif uitgestuur, maar dit het nie weer na hom toe teruggekom nie.

13Dit het so gebeur dat in die ses honderd en eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, die waters weggedroog het van die aarde af en Noag het die dak van die ark afgehaal, uitgekyk en let op, die oppervlak van die aarde was droog! 14In die tweede maand, op die sewe en twintigste dag van die maand, was die aarde droog 15en God het met Noag gepraat en gesê: 16“Gaan uit die ark uit, jy, jou vrou, jou seuns en die vroue van jou seuns saam met jou. 17Laat alles, van alle vlees wat lewe en by jou is: die voëls, die vee en al die reptiele wat op die aarde kruip, saam met jou uitgaan dat hulle kan wemel en vrugbaar wees en vermeerder op die aarde.” 18Toe gaan Noag, sy seuns, sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom uit. 19Alles wat lewe, al die reptiele, al die voëls en alles wat op die aarde beweeg, volgens hulle spesies, het uit die ark uitgegaan.

20Noag het vir יהוה ’n altaar gebou en van elkeen van die rein diere en van elkeen van die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring 21en יהוה het die aangename geur geruik en יהוה het in Sy wil en verstand gesê: “Ek sal die aarde nie weer vervloek ter wille van die mens nie, want elke vorming van ’n gedagte in sy gedagtes en wil, van sy jeug af, is boos en Ek sal ook nie weer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.

22Terwyl die aarde bestaan sal saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter en dag en nag nie ophou nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 7
Top of Page
Top of Page