Genesis 7
Afrikaans PWL
1יהוה het vir Noag gesê: “Kom in die ark in, jy en jou hele huisgesin, want Ek het gesien dat jy, in hierdie geslag, alleen onskuldig en opreg is voor My. 2Van al die rein diere moet jy vir jou sewe mannetjies en sewe wyfies vat, maar van die diere wat nie rein is nie, twee; die mannetjie en sy wyfie. 3Net so ook sewe mannetjies en sewe wyfies van die rein voëls van die hemel, om hulle saad aan die lewe te hou op die aarde, 4want oor nog sewe dae sal Ek dit laat reën op die aarde vir veertig dae en veertig nagte en al die lewende wesens, wat Ek gemaak het, van die oppervlak van die aarde af, vernietig.” 5Noag het alles gedoen wat יהוה hom beveel het.

6Noag was ses honderd jaar oud toe die watervloed oor die aarde gekom het. 7Noag, sy seuns, sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom, het in die ark ingegaan voor die waters van die vloed. 8Vanuit die rein diere, vanuit die diere wat nie rein is nie, vanuit die voëls en vanuit alles wat op die aarde kruip, 9het daar pare saam met Noag in die ark ingegaan, ’n mannetjie en ’n wyfie, soos God vir Noag beveel het. 10Dit het gebeur dat ná sewe dae die waters van die vloed oor die aarde gekom het. 11In die ses honderdste jaar van die lewe van Noag, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op dié dag, is al die fonteine van die diep watermassas oopgeskeur en die sluise van die hemel is oopgemaak 12en die reën het veertig dae en veertig nagte lank oor die aarde geval.

13Op daardie selfde dag het Noag, Shem, Gam en Yefet, die seuns van Noag, sowel as Noag se vrou en die drie vroue van sy seuns, saam met hulle in die ark ingegaan. 14Hulle, al die lewende diere volgens hulle spesies, al die vee volgens hulle spesies, al die reptiele volgens hulle spesies en al die voëls volgens hulle spesies, alle voëls van elke soort, 15van alle vlees wat ’n asem van lewe in het, het twee-twee by Noag in die ark ingegaan. 16Dié wat ingaan, het ingegaan as mannetjie en wyfie van elke lewende ding, soos God hom beveel het en יהוה het agter hom toegesluit.

17Die vloed was veertig dae lank oor die aarde: die water het vermeerder en die ark opgelig, hoog bokant die aarde 18en die water het die oorhand gekry en baie vermeerder oor die aarde terwyl die ark op die waters ronddrywe. 19Die water het heeltemal die oorhand gekry oor die aarde sodat al die hoë berge onder die ganse hemel toegemaak was. 20Vyftien el bo die berge het die waters geheers en die berge toegedek. 21Alle vlees wat op die aarde beweeg: die voëls, die vee, alle lewende en kruipende diere wat op die aarde wemel en al die mense is dood. 22Alles wat die asem van die gees van lewe in sy neusgate gehad het, alles wat op die oppervlak van die grond was, is dood. 23Al die lewende wesens wat op die aarde was, is vernietig; die mens, sowel as die vee, die kruipende diere en selfs die voëls van die hemel; hulle is afgevee van die aarde af en net Noag en die wat saam met hom in die ark was, het oorgebly. 24Die water het die aarde oorweldig vir honderd en vyftig dae lank.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 6
Top of Page
Top of Page