Genesis 9
Afrikaans PWL
1God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en hervul die aarde. 2Die vrees en die skrik vir julle sal oor al die lewende dinge van die aarde en al die voëls van die hemel wees; alles wat op die aarde beweeg en al die visse van die see. Hulle is in julle hand gegee. 3Alles wat beweeg en lewe, sal julle kos wees. Net soos die groen plante gegee is, gee Ek dit alles vir julle. 4Net die vleis met die lewe, dit is, sy bloed, mag julle nie eet nie. 5Sekerlik sal ek julle bloed, julle lewe, van julleself vra: van al die diere sal Ek dit vra. Ook van die mens, van mens teenoor mens, sal Ek die lewe van die mens vra.

6Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word, want God het die mens na Sy beeld gemaak.

7Wees julle vrugbaar en vermeerder; bring oorvloedig voort op die aarde en vermeerder daarop.”

8God het met Noag en sy seuns by hom gepraat en gesê: 9“Ek, let op, Ek sluit My verbond met julle en met julle nageslag ná julle 10en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die lewende diere van die aarde by julle; alles wat uit die ark uitgegaan het; al die diere van die aarde. 11Ek sal My verbond met julle vasmaak: nooit weer sal alle vlees deur die water van ’n vloed uitgewis word nie en daar sal nooit weer ’n vloed wees wat die aarde vernietig nie.” 12God het vir Noag gesê: “Dit is die teken van die verbond wat Ek tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, sluit, vir ewige geslagte: 13My boog het Ek in die wolke gegee; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14As Ek dan ’n wolk oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolk, 15dan sal Ek dink aan My verbond wat daar tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees, is en die water sal nooit weer ’n vloed word om alle vlees te vernietig nie. 16Die boog sal in die wolk wees en Ek sal dit sien om te onthou van die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens, in alle vlees, wat op die aarde is.” 17God het vir Noag gesê: “Dit is die teken van die verbond wat Ek gesluit het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.”

18Die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Shem, Gam en Yefet en Gam was die vader van Kena’an. 19Hierdie drie was die seuns van Noag en vanaf hulle het hulle versprei oor die hele aarde.

20Noag het begin om die grond om te ploeg en ’n wingerd geplant 21en van die wyn gedrink, dronk geword en kaal in sy tent gelê. 22Gam, die vader van Kena’an, het sy vader se skande gesien en dit vir sy twee broers buitekant gesê. 23Shem en Yefet het ’n bo-kleed gevat en dit op hulle skouers gehou terwyl hulle agteruit loop en hulle het hulle vader se skande toegemaak: hulle gesig was agtertoe gedraai sodat hulle die skande van hulle vader nie gesien het nie. 24Noag het van sy wyn wakker geword en te wete gekom wat sy jonger seun aan hom gedoen het

25en hy sê: “Vervloek is Kena’an! ’n Dienskneg van die diensknegte moet hy wees vir sy broers.”

26Hy het ook gesê: “Geseënd is יהוה, die God van Shem, maar Kena’an moet sy dienskneg wees.

27Mag God Yefet vergroot en mag hy woon in die tente van Shem, maar Kena’an moet sy dienskneg wees.”

28Noag het ná die vloed drie honderd en vyftig jaar gelewe. 29Al die dae van Noag was nege honderd en vyftig jaar en hy is dood.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 8
Top of Page
Top of Page