Genesis 17
Afrikaans PWL
1Toe Avram nege en negentig jaar oud was, het יהוה aan Avram verskyn en vir hom gesê: “Ek is El-Shaddai (Die Magtige God wat meer as genoeg is); leef goed in My Teenwoordigheid en wees sonder vlek

2en Ek sal My verbond sluit tussen My en jou en jou uitermate oorvloedig vermeerder.

3Toe val Avram op sy gesig en God het met hom gepraat en gesê:

4“Wat My betref, let op, Ek sluit My verbond met jou en jy sal die vader van ’n menigte nasies wees.

5Jou naam sal ook nie meer Avram wees nie, maar jou naam sal Avraham wees, want Ek het jou ’n vader van ’n menigte nasies gemaak.

6Ek sal jou vrugbaar maak en jou uitermate oorvloedig vermeerder: Ek sal jou vader van baie nasies maak en konings sal uit jou lendene kom. 7Ek sal My verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou, in hulle geslagte, as ’n ewige verbond: Ek sal vir jou God wees en vir jou nageslag ná jou. 8Ek sal ook aan jou en jou nageslag ná jou die land, waar jy besoeker is, gee; die hele land Kena’an, as ’n ewige erfenis en Ek sal hulle God wees.”

9God het ook vir Avraham gesê: “Wat jou betref: jy moet My verbond nakom, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag 10is dit My verbond wat jy moet nakom tussen My en jou en jou nageslag ná jou. 11Almal wat manlik onder julle is, moet besny word. Julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word en dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en julle. 12Hy, onder julle, wat agt dae oud is, moet besny word, almal wat manlik is, in julle geslagte; die wat in jou huis gebore is en die wat nie van jou nageslag is nie, wat van enige vreemdeling met geld gekoop is. 13Hy wat in jou huis gebore is en hy wat met jou geld gekoop is moet sekerlik besny word en My verbond sal in julle vlees wees as ’n ewige verbond 14en die onbesnede manlike persoon, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie, dié persoon moet afgesny word van sy volk; hy het My verbond gebreek.

15God het ook vir Avraham gesê: “Wat jou vrou, Sarai, betref, moet jy haar nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sarah wees 16en Ek het haar geseën en sal jou uit haar ook ’n seun gee. Ja, Ek sal hom seën en nasies van hom maak; konings van volke sal uit hom voortkom.” 17Toe val Avraham op sy gesig en lag en sê in sy binneste: ‘Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ’n kind gebore word, of kan Sarah, wat negentig jaar oud is, geboorte gee?’ 18Avraham sê vir God: “Ag, dat Yishma’el in U Teenwoordigheid kan leef!” 19God antwoord Avraham: “Waarlik, jou vrou, Sarah, sal vir jou geboorte gee aan ’n seun en jy moet hom Yitz’gak noem en Ek sal My verbond met hom vasstel as ’n ewige verbond en met sy nageslag ná hom. 20Wat Yishma’el betref, Ek het jou ook gehoor. Let op, Ek het hom geseën en maak hom vrugbaar en vermeerder hom uitermate oorvloedig. Hy sal die vader word van twaalf prinse en Ek sal hom ’n groot nasie maak, 21maar My verbond sal Ek vasstel met Yitz’gak, aan wie Sarah, volgende jaar in hierdie seisoen, geboorte sal gee vir jou.” 22Nadat God klaar met hom gepraat het, het Hy van Avraham af opgegaan.

23Avraham het sy seun Yishma’el gevat, almal wat in sy huis gebore is en almal wat met sy geld gekoop is; almal wat manlik was onder die mense in die huis van Avraham en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God vir hom gesê het. 24Avraham was nege en negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is 25en sy seun, Yishma’el, was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is. 26Avraham en sy seun Yishma’el is op daardie selfde dag besny 27en al die manne van sy huis; die wat in sy huis gebore is en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 16
Top of Page
Top of Page