Esegiël 44
Afrikaans PWL
1Toe het hy my teruggebring via die buitenste poort van die Afgesonderde Plek wat na die ooste kyk en dit was gesluit. 2יהוה het vir my gesê: “Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie en niemand mag daardeur ingaan nie omdat יהוה, die God van Yisra’el, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly. 3Wat die prins betref, hy moet as prins daarin sit om brood te eet voor יהוה; hy moet ingaan via die stoep van die poort en op dieselfde plek uitgaan.”

4Toe het hy my via die Noordpoort gebring na die voorkant van die huis en ek het gekyk en let op, die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het die huis van יהוה vol gemaak en ek het op my gesig neergeval. 5יהוה het vir my gesê: “Seun van ’n mens, let goed op, kyk met jou oë en hoor met jou ore alles wat Ek vir jou sal sê aangaande al die regulasies van die huis van יהוה en aangaande al sy wette en gee goed ag op die ingang van die huis, met al die uitgange van die Afgesonderde Plek. 6Jy moet vir die rebelses sê, vir die huis van Yisa’el: ‘So sê יהוה-God: “Het jy nie genoeg verwerplikhede gepleeg nie, o huis van Yisra’el? 7Julle bring egter ook vreemdelinge, wat onbesnedenes van verstand, wil en emosie en onbesnedenes van vlees is, in My Afgesonderde Plek in om My huis te onteer wanneer julle My kos, die vet en die bloed offer en julle My verbond tot niks maak deur al julle verwerplikhede. 8Julle het ook nie My Afgesonderde Plek versorg nie, maar die bewakers van My Afgesonderde Plek vir julleself as wagte gemaak.”

9So sê יהוה-God: “Geen vreemdeling, onbesnede van verstand, wil en emosie en onbesnede van vlees, van al die uitlanders wat onder die seuns van Yisra’el is, mag in My Afgesonderde Plek ingaan nie, 10maar die Leviete wat ver van My afgewyk het toe Yisra’el weggedwaal het, wat van My af weggedwaal het agter hulle afgode aan, moet die straf van hulle onregverdigheid dra. 11Nogtans moet hulle bedienaars wees in My Afgesonderde Plek, om toesig te hou by die poorte van die huis en in die huis te bedien; hulle moet die brandoffer en die offer vir die mense slag en voor hulle staan om hulle te bedien. 12Omdat hulle hul gedien het voor hulle afgode en vir die huis van Yisra’el ’n struikelblok tot onregverdigheid geword het, het Ek daarom teen hulle gesweer,” verklaar יהוה-God, “dat hulle hul onregverdigheid moet dra. 13Hulle mag nie naderkom na My toe om My as priester te dien nie, of naby enige van My afgesonderde of mees afgesonderde dinge kom nie, maar hulle moet hul skande dra en hul verwerplikhede wat hulle gedoen het. 14Nogtans sal Ek hulle aanstel om verantwoordelikheid te neem oor die huis, vir al sy bediening en vir alles wat daarin gedoen moet word,

15maar die Levitiese priesters, die seuns van Tzadok, wat My Afgesonderde Plek versorg het toe die seuns van Yisra’el van My af weggedwaal het, moet na My toe naderkom om My te bedien en hulle sal voor My staan om aan My die vet en die bloed te offer,” verklaar יהוה-God. 16“Hulle moet My Afgesonderde Plek ingaan; hulle moet naby My tafel kom om My te bedien en My dienswerk doen. 17Dit sal wees dat wanneer hulle by die poorte van die binneste hof ingaan, hulle in linne klere aangetrek moet wees en wol mag nie op hulle kom terwyl hulle bedien in die poorte van die binneste hof en in die huis nie. 18Linne tulbande moet op hulle kop wees en linne onderklere aan hulle heupe; hulle mag nie aangetrek wees met iets wat hulle laat sweet nie. 19Wanneer hulle uitgaan na die buitenste hof, na die volk toe, moet hulle hul klere uittrek waarmee hulle bedien het en dit neersit in die afgesonderde kamers; dan moet hulle ander klere aantrek sodat hulle nie afgesonderdheid na die volk sal oordra met hulle klere nie. 20Hulle mag ook nie hulle koppe kaal skeer nie, nogtans moet hulle nie hulle hare lank laat groei nie; hulle moet die hare van hulle kop net korter sny. 21Ook mag geen priester wyn drink wanneer hy in die binneste hof ingaan nie 22en hulle mag nie ’n weduwee of geskeide vrou trou nie, maar jongmeisies uit die nageslag van die huis van Yisra’el of ’n weduwee wat ’n priester se weduwee is. 23Meer nog, hulle moet vir My volk die onderskeid leer tussen wat afgesonderd is en wat onrein is en hulle laat onderskei tussen wat onrein en wat afgesonderd is. 24In ’n twis moet hulle opstaan om te oordeel, volgens My voorskrifte moet hulle dit oordeel. Hulle moet ook My wette en My instellings hou op al My aangestelde feeste en My Shabbatte afsonder. 25Hulle mag nie na ’n dooie persoon gaan sodat hul onrein word nie; net vir ’n vader of ’n moeder of ’n seun of ’n dogter, of ’n broer of ’n suster wat nie ’n man gehad het nie, mag hulle hul onrein maak. 26Ná sy reiniging moet sewe dae vir hom verbygaan. 27Op die dag as hy in die Afgesonderde Plek ingaan, in die binneste hof, om in die Afgesonderde Plek te bedien, moet hy sy sondoffer offer,” verklaar יהוה-God.

28“Dit sal vir hulle ’n erfenis wees: Ek is hulle Erfenis en julle mag geen besitting in Yisra’el aan hulle gee nie: Ek is hulle Besitting. 29Hulle moet die graanoffer, die sondoffer en die oortredingsoffer eet en elke toegewyde ding in Yisra’el moet hulle s’n wees. 30Die eerste van al die eerste vrugte van alles en elke bydrae van alles, van al julle bydraes, moet vir die priesters wees; julle moet ook vir die priester die eerste van julle deeg gee, om ’n seën op jou huis te laat rus. 31Die priesters mag nie voëls of diere eet wat natuurlik dood is of verskeur is nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 43
Top of Page
Top of Page