Esegiël 43
Afrikaans PWL
1Toe het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk 2en let op, die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van die God van Yisra’el het van die oostekant af gekom, Sy stem was soos die klank van baie waters en die aarde het geskyn met Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid. 3Dit was soos die verskyning van die visioen wat ek gesien het, die visioen wat ek gesien het toe Hy gekom het om die stad te vernietig en soos die visioen wat ek gesien het by die K’varrivier en ek het op my gesig neergeval. 4Die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het in die huis ingekom deur die poort wat na die ooste kyk 5en die Gees het my opgelig, my in die binneste hof gebring en let op, die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het die huis vol gemaak.

6Toe het ek Een gehoor wat met my praat vanaf die huis terwyl ’n man langs my gestaan het. 7Hy het vir my gesê: “Seun van ’n mens, hierdie is die plek van My troon en die plek van My voetsole waar Ek tussen die seuns van Yisra’el vir ewig sal bly; die huis van Yisra’el sal nie weer My Afgesonderde Naam onteer nie; nie hulle of hulle konings, deur hulle hoerery of deur die lyke van hulle konings of met hulle afgode nie, 8want hulle het hul drumpel langs My drumpel gemaak en hul deurpos langs My deurpos, met net die muur tussen My en hulle en hulle het selfs My afgesonderde Naam onteer deur hulle verwerplikhede wat hulle gedoen het; daarom het Ek hulle in My toorn verteer. 9Nou laat hulle hul hoerery en die lyke van hul konings ver van My af wegsit en Ek sal vir ewig tussen hulle bly.

10Wat jou betref, seun van ’n mens, beskryf die tempel aan die huis van Yisra’el sodat hulle skaam kan wees vir hulle onregverdighede en laat hulle die bloudrukplan opmeet. 11As hulle skaam is oor alles wat hulle gedoen het, maak aan hulle die ontwerp van die huis bekend: sy struktuur, sy uitgange, sy ingange, sy hele ontwerp, al sy voorskrifte en al sy wette. Skryf dit voor hulle oë sodat hulle sy hele ontwerp kan waarneem met al sy instellings en dit kan doen. 12Dit is die wet van die huis: sy hele gebied op die top van die berg sal mees afgesonderd wees. Let op, dit is die wet van die huis.

13Hierdie is die afmetings van die altaar in elle (hierdie el is ’n el en ’n handbreedte): die voetstuk sal ’n el wees en die breedte ’n el en die rand op sy kant reg rondom: omtrent een span en dit sal die hoogte van die basis van die altaar wees. 14Vanaf die voetstuk op die grond tot by die onderste rand: twee el en die breedte: een el; van die kleiner rand tot by die groter rand: vier el en die breedte: een el. 15Die altaar: vier el en van die altaar af moet vier horings boontoe uitsteek. 16Die altaar moet twaalf el lank by twaalf el breed wees, vierkantig in sy vier kante. 17Die rand moet veertien el lank by veertien el breed wees aan sy vier kante en die rand rondom dit: ’n half-el en die voetstuk daaraan: ’n el reg rondom en sy trappe moet oos kyk.”

18Hy het vir my gesê: “Seun van ’n mens, so sê יהוה-God: ‘Hierdie is die instellings vir die altaar op die dag as dit gemaak word, om brandoffers daarop te bring en om bloed daarteen te sprinkel. 19Jy moet vir die Levitiese priesters wat uit die nageslag van Tzadok is, wat naderkom na My toe om My te bedien,’ verklaar יהוה-God, ‘’n jong bul gee as sondoffer. 20Jy moet van sy bloed vat en dit aan die vier horings, op die vier hoeke van die rand en op die rand reg rondom smeer; so moet jy dit dan reinig en toedekking doen daarvoor. 21Jy moet ook die bul vir die sondoffer vat en dit moet verbrand word in die aangestelde plek van die huis, buitekant die Afgesonderde Plek.

22Op die tweede dag moet jy ’n bokram sonder gebrek as sondoffer offer en hulle moet die altaar reinig soos hulle dit met die bul gereinig het. 23Wanneer jy dit klaar gereinig het, moet jy ’n jong bul sonder gebrek en ’n ram sonder gebrek uit die kleinvee aanbied. 24Jy moet hulle in die Teenwoordigheid van יהוהaanbied en die priesters moet sout daarop strooi en hulle as brandoffers aan יהוה offer. 25Vir sewe dae lank moet jy daagliks ’n bok as ’n sondoffer voorberei; ook ’n jong bul en ’n ram uit die kleinvee, sonder gebrek, moet voorberei word. 26Vir sewe dae lank moet hulle vir die altaar toedekking doen en dit reinig; so sal hulle dit afsonder. 27Wanneer hulle die dae voltooi het, sal dit wees dat op die agste dag en verder, die priesters julle brandoffers en julle vredesoffers op die altaar sal offer en Ek sal jul aanvaar,’ verklaar יהוה-God.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 42
Top of Page
Top of Page