Esegiël 22
Afrikaans PWL
1Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 2“En jy, seun van ’n mens, wil jy oordeel, wil jy die bloedstad oordeel? Maak dan dat sy al haar verwerplikhede ken. 3Jy moet sê: ‘So sê יהוה-God: “’n Stad wat bloed vergiet in haar midde sodat haar tyd kan kom en wat afgode teen haarself maak, tot ontering! 4Deur die bloed wat jy vergiet het, het jy skuldig geword en deur jou afgode wat jy gemaak het, is jy verontreinig; so het jy jou dag verhaas en by jou jare gekom; daarom maak Ek jou tot ’n beskuldiging vir die nasies en ’n spot vir al die lande. 5Die wat naby en die wat ver van jou af is, sal jou bespot, jy met ’n swak reputasie, vol verwarring!

6Let op, die heersers van Yisra’el was in jou, elkeen volgens sy krag, was in jou met die doel om bloed te vergiet. 7Hulle het vader en moeder in jou ligtelik behandel, die vreemdeling in jou onderdruk; die wees en die weduwee in jou onregverdig behandel. 8Jy het My afgesonderde dinge geminag en My Shabbatte onteer. 9Kwaadsprekers was daar in jou met die doel om bloed te vergiet en by jou het hulle op die bergplekke geëet en onkuishede in jou midde gedoen. 10Hulle het die skaamte van die vader se naaktheid in jou ontbloot; in jou het hulle haar wat onrein was deur maandstondelike onreinheid, onteer. 11Een het ’n verwerplike ding gedoen met die vrou van sy naaste en ’n ander het sy skoondogter met onkuisheid onteer en ’n derde in jou het sy suster, sy vader se dogter, verneder. 12Hulle het omkoopgeskenke in jou aangeneem om bloed te vergiet; jy het rente en winste gevat en jou naaste skade aangedoen deur hom te veel te laat betaal deur onderdrukking en jy het My vergeet,” verklaar יהוה-God.

13Let dan op, Ek slaan My hand oor jou onregverdige wins wat jy gemaak het en oor jou bloedvergieting wat onder julle is. 14Kan jou binneste standhou of jou hande onveranderlik sterk wees in die dae wat Ek met jou sal handel? Ek, יהוה, het gepraat en sal dit doen. 15Ek sal jou onder die nasies verstrooi en jou deur die lande versprei en Ek sal jou onreinheid uit jou uit verteer. 16Jy sal jouself onteer voor die oë van die nasies en jy sal weet dat Ek יהוה is.”’”

17Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 18“Seun van ’n mens, die huis van Yisra’el het vir My vuilgoed geword; hulle is almal koper, tin, yster en lood binne die smeltoond; hulle is die skuim van silwer; 19daarom, so sê יהוה-God: ‘Omdat julle almal vuilgoed geword het, let op, Ek sal julle in die middel van Yerushalayim bymekaar maak. 20Soos wat hulle silwer, koper, yster, lood en tin binne-in ’n smeltoond bymekaarmaak om daarteen ’n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaar maak in My woede en in My toorn en julle ingooi en smelt. 21Ek sal julle bymekaar maak en met die vuur van My toorn op julle blaas en julle sal dáárin gesmelt word. 22Soos silwer in die smeltoond gesmelt word, so sal julle dáárin gesmelt word en julle sal weet dat Ek, יהוה, My toorn oor julle uitgegiet het.’”

23Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 24“Seun van ’n mens, sê vir haar: ‘Jy is ’n land wat nie gereinig is, wat nie reën gekry het in die dag van verontwaardiging nie.’ 25Daar is ’n sameswering van haar profete in haar midde soos ’n brullende leeu wat die prooi verskeur. Hulle het lewens verteer; skatte en kosbare dinge weggevat; hulle het baie weduwees in haar midde gemaak. 26Haar priesters verkrag My wet en onteer My afgesonderde dinge; hulle maak geen onderskeiding tussen afgesonderde en onteerde nie en die verskil tussen onrein en rein leer hulle nie; hulle maak hul oë toe vir My Shabbatte en Ek word onder hulle onteer. 27Haar prinse is in haar soos wolwe wat die prooi verskeur, deur bloed te vergiet en lewens te vernietig om onregverdige wins te maak. 28Haar profete het vir hulle wit kalk gesmeer deur valse visioene te sien en vir hulle leuens te voorspel met die woorde: ‘So sê יהוה-God,’ wanneer יהוה nie gepraat het nie. 29Die mense van die land het onderdrukking toegepas en diefstal gepleeg; hulle het die armes en behoeftiges ingedoen en die vreemdeling onderdruk sonder regverdige oordeel. 30Ek het onder hulle ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor My Teenwoordigheid in die bres kan tree vir die land sodat Ek dit nie sou verwoes nie, maar Ek het niemand gevind nie; Ps 106:23 31daarom het Ek My verontwaardiging oor hulle uitgegiet; Ek het hulle deur die vuur van My toorn verteer; Ek het hulle lewenswyse op hulle kop laat neerkom,” verklaar יהוה-God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 21
Top of Page
Top of Page