Esegiël 23
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het weer tot my gekom en gesê: 2“Seun van ’n mens, daar was twee vroue, dogters van een moeder. 3Hulle het in Mitzrayim hoereer; in hul jeug het hulle hoereer; daar is hul borste gedruk en daar is hul maagdelike borste hanteer. 4Hulle name was: Oholah, die oudste en Oholivah, haar suster en hulle het Myne geword en geboorte gegee aan seuns en dogters. Wat hulle name betref: Shomron is Oholah en Yerushalayim is Oholivah.

5Oholah het gehoereer terwyl sy Myne was en sy het na haar minnaars, vanaf Ashur, haar bure, 6wat in pers aangetrek was, goewerneurs en amptenare, almal begeerlike jongmanne, ruiters wat op perde ry, gesmag. 7Sy het haar hoererye op hulle uitgestort, almal wat die keur manne uit Ashur was en met almal waarna sy gesmag het, met al hulle afgode het sy haarself verontreinig. 8Sy het nie haar hoererye, vanaf die tyd in Mitzrayim, laat staan nie, want in haar jeug het manne by haar gelê en hulle het haar maagdelike borste hanteer en hul luste op haar uitgestort. 9Ek het haar daarom oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van hulle van Ashur, na wie sy gesmag het. 10Hulle het haar naaktheid ontbloot; haar seuns en haar dogters gevat, maar haar met die swaard doodgemaak en so het sy ’n bywoord onder vroue geword en hulle het oordeel oor haar voltrek.

11Haar suster Oholivah het dit gesien, nogtans was sy meer korrup in haar luste as sy en haar hoererye was meer as die hoerery van haar suster. 12Sy het gesmag na die seuns van Ashur, goewerneurs en amptenare, die wat naby was, pragtig aangetrek, ruiters wat te perd ry, almal begeerlike jongmanne. 13Ek het gesien dat sy haarself onteer het; hulle het beide dieselfde pad gevat. 14Sy het haar hoerery vermeerder; sy het manne gesien wat op die muur afgeteken was, afbeeldinge van die Kasdeërs, geteken met kwiksulfied; 15omgord met gordels om hulle heupe, met vloeiende tulbande op hulle koppe, almal het gelyk soos offisiere, soos die seuns van Bavel in die land van die Kasdeërs, hulle geboorteland. 16Toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag en boodskappers na hulle toe gestuur, na die land van die Kasdeërs. 17Die seuns van Bavel het na haar toe gekom, na die bed van liefde en haar verontreinig met hulle hoerery en nadat sy deur hulle verontrein is, het hulle haar gewalg. 18Sy het haar hoererye en haar naaktheid openbaar; toe het sy My gewalg, soos wat haar suster My gewalg het. 19Nogtans het sy haar hoererye vermenigvuldig, die dae van haar jeug onthou toe sy ’n hoer in die land van Mitzrayim was. 20Sy het gesmag na haar minnaars, wie se geslagsdele is soos die geslagsdele van donkies en hulle uitstorting soos die uitstorting van perde. 21So het jy na die onkuisheid van jou jeug verlang, toe jou maagdelikheid in Mitzrayim verbreek is en die borste van jou jeug geliefkoos is.

22יהוה-God sê daarom, o Oholivah: ‘Let op, Ek sal jou minnaars aanhits teen jou, van wie jy vervreemd geraak het en Ek sal hulle van alle kante af teen jou bring: 23die seuns van Bavel en almal van die Kasdeërs, P’kod, Shoa en Koa, al die seuns van Ashur saam met hulle; begeerlike jongmanne wat almal goewerneurs en amptenare is, offisiere en manne van aansien, wat almal op perde ry. 24Hulle sal teen jou kom met wapens, strydwaens en waens en met ’n menigte van volke. Hulle sal hulleself rondom jou opstel met groot skilde, skilde en helms en Ek sal die oordeel aan hulle oorgee en hulle sal jou oordeel volgens hulle gewoonte. 25Ek sal My jaloesie teen jou opstel dat hulle teen jou in toorn sal optree. Hulle sal jou neus en jou ore verwyder en jou oorlewendes sal deur die swaard val. Hulle sal jou seuns en jou dogters vat en jou oorlewendes sal deur vuur verteer word. 26Hulle sal jou ook stroop van jou klere en jou pragtige juwele wegvat. 27So sal Ek jou onkuisheid en jou hoerery vanaf die land van Mitzrayim laat ophou sodat jy nie meer jou oë sal oplig na hulle toe of Mitzrayim onthou nie,’ 28want so sê יהוה-God: ‘Let op, Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle van wie jy vervreemd geraak het. 29Hulle sal met jou handel in haat, al jou eiendom vat en jou naak en kaal laat staan. Die naaktheid van jou hoerery sal ontbloot word, beide jou onsedelikheid en jou hoererye. 30Hierdie dinge sal aan jou gedoen word omdat jy hoereer het met die nasies en jouself met hulle afgode verontreinig het. 31Jy het op die pad van jou suster geloop; daarom sal Ek haar beker in jou hand gee.’

32So sê יהוה-God: ‘Jy sal jou suster se beker drink wat diep en wyd is. Daar sal vir jou gelag word en jy sal bespot word, want dit bevat baie.

33Julle sal volgemaak word met dronkenskap en smart, die beker van afgryse en verlatenheid, die beker van jou suster, Shomron.

34Jy sal dit drink en leegmaak; dan sal jy sy skerwe knaag en jou borste oopskeur, want Ek het dit gesê,’ verklaar יהוה-God.

35יהוה-God sê daarom: ‘Omdat jy My vergeet het en My agter jou rug weggegooi het, dra nou die straf van jou onsedelikhede en jou hoererye.’”

36יהוה het nog meer vir my gesê: “Seun van ’n mens, wil jy Oholah en Oholivah oordeel? Verklaar dan aan hulle hul verwerplikhede, 37want hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande. So het hulle owerspel gepleeg met hulle afgode en selfs hul seuns, waaraan hulle vir My geboorte gegee het, deur die vuur laat loop, as kos. 38Hulle het verder ook dit aan My gedoen: hulle het My Afgesonderde Plek op dieselfde dag verontreinig en My Shabbatte onteer, 39want wanneer hulle hul kinders vir hulle afgode geslag het, het hulle op dieselfde dag in My Afgesonderde Plek ingegaan om dit te onteer en let op, dit het hulle binne-in My huis gedoen.

40Verder het hulle vir manne wat van ver gekom het, gestuur, aan wie ’n boodskapper gestuur is en let op, hulle het gekom vir wie jy jou gewas, jou oë geverf en jouself met juwele versier het 41en jy het op ’n pragtige bank gesit met ’n tafel wat voor dit reggemaak is waarop jy My wierook en My olie neergesit het. 42Die klank van ’n sorgelose menigte was by haar; dronkaards is vanuit die wildernis gebring saam met gewone manne. Hulle het armbande aan die vroue se hande gesit en pragtige krone op hulle koppe.

43Toe het Ek aangaande haar wat uitgemergel is deur hoererye gesê: ‘Sal hulle nou owerspel pleeg met haar wat só is?’ 44Hulle het egter by haar ingegaan soos ’n mens ingaan by ’n hoer; só het hulle ingegaan by Oholah en Oholivah, die onsedelike vroue. 45Onpartydige en opregte manne sal hulle oordeel volgens die oordeel op owerspeelsters en volgens die oordeel op vroue wat bloed vergiet, want hulle is owerspeelsters en bloed is aan hulle hande,

46want so sê יהוה-God: ‘Bring ’n groep op teen hulle en gee hulle oor aan verskrikking en plunder. 47Die groep moet hulle met klippe stenig en hulle met hul swaarde afmaai; hulle sal hulle seuns en dogters doodmaak en hulle huise met vuur verbrand. 48So sal Ek onsedelikheid laat ophou in die land sodat alle vroue gewaarsku is en nie onsedelikheid beoefen soos wat julle gedoen het nie. 49Julle onsedelikheid sal op julle vergeld word en julle sal die straf daarvan om afgode te aanbid dra; so sal julle weet dat Ek יהוה-God is.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 22
Top of Page
Top of Page