Deuteronomium 22
Afrikaans PWL
1Jy mag nie die bees of stuk kleinvee van jou landgenoot sien wegdwaal en jou nie daaraan steur nie; jy moet hulle terugdraai om te herstel aan jou landgenoot. 2As jou landgenoot nie naby jou is nie of jy hom nie ken nie, moet jy dit na jou huis toe vat en dit moet by jou bly totdat jou landgenoot dit soek; dan moet jy dit vir hom teruggee. 3So moet jy ook doen met sy donkie, so moet jy doen met sy kledingstuk en so moet jy doen met alles wat van jou landgenoot wegraak, wat hy verloor en wat jy vind; jy mag dit nie ignoreer nie. 4Jy mag nie jou landgenoot se donkie of sy bees neergeval sien op die pad en jou nie daaraan steur nie; jy moet hom help om dit op te lig.

5’n Vrou mag nie mansklere dra nie en ’n man mag geen vrouensklere aantrek nie, want wie dit ook al doen, is vir יהוה, jou God, verwerplik.

6As daar ’n voëlnes voor jou op die pad is in enige boom of op die grond, met voëltjies of eiers terwyl die moeder op die voëltjies of op die eiers sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegvat nie. 7Jy moet die moeder sekerlik laat wegvlieg dat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe, maar die kleintjies mag jy vir jou vat.

8Wanneer jy ’n nuwe huis bou, moet jy ’n reling aan jou dak maak sodat jy nie die skuld van bloed op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.

9Jy mag nie twee soorte saad in jou wingerd saai nie, of die volle opbrengs van die saad wat jy gesaai het en die vermenigvuldiging van die wingerd, sal onrein word.

10Jy mag nie met ’n os en ’n donkie saam ploeg nie.

11Jy mag geen materiaal wat gemeng is met wol en linne aantrek nie.

12Jy moet vir jou tossels maak aan die vier hoeke van die kledingstuk waarmee jy jouself bedek.

13As ’n man ’n vrou vat en by haar ingaan en dan teen haar draai 14en haar beskuldig van skandelike dade en haar openlik slegmaak en sê: ‘Ek het hierdie vrou gevat en toe ek naby haar kom, het ek haar nie ’n maagd gevind nie,’ 15dan moet die vader en die moeder van die dogter die getuienis van die dogter se maagdom vat en dit na die oudstes van die stad by die poort uitbring. 16Die vader van die dogter moet aan die oudstes sê: ‘Ek het my dogter aan hierdie man as vrou gegee, maar hy het teen haar gedraai 17en let op, hy het haar beskuldig van skandelike dade deur te sê: Ek het nie gevind dat jou dogter ’n maagd is nie, maar hierdie is die bewys van my dogter se maagdom’ en hulle moet die kledingstuk voor die oudstes van die stad uitsprei. 18Die oudstes van die stad moet die man vat en hom dissiplineer 19en hom ’n boete van honderd sikkels silwer oplê en dit aan die vader van die dogter gee omdat hy ’n jongmeisie van Yisra’el openlik beswadder het en sy sal sy vrou bly; hy mag haar nie skei solank as hy lewe nie.

20As die beskuldiging egter waar is dat die dogter nie ’n maagd bevind is nie, 21dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis uitbring en die manne van haar stad moet haar stenig tot die dood omdat sy ’n skandelike daad in Yisra’el begaan het deur in die huis van haar vader te hoereer. So moet jy dan die bose uit jou midde uitroei.

22As ’n man betrap word terwyl hy by ’n getroude vrou lê, moet hulle altwee sterf: die man wat by die vrou lê en die vrou. So moet jy dan die bose uit Yisra’el uitroei.

23As ’n meisie, ’n maagd wat aan ’n man verloof is, deur ’n ander man in die stad gekry word en hy by haar lê, 24dan moet jy hulle altwee na die poort van die stad uitbring en hulle stenig tot die dood; die meisie omdat sy in die stad nie uitgeskree het nie en die man omdat hy die vrou van sy naaste onteer het. So moet jy dan die bose uit jou midde uitroei,

25maar as die man die verloofde meisie in die veld kry en die man hom op haar afdwing en by haar lê, moet die man wat by haar gelê het, alleen sterf, 26maar aan die dogter moet jy niks doen nie: daar is in die dogter geen sonde wat die dood verdien nie, want soos wanneer ’n man teen sy naaste opstaan en hom doodslaan, so is hierdie geval. 27Toe hy haar in die veld gekry het, het die verloofde meisie geskree, maar daar was niemand om haar te red nie.

28As ’n man ’n meisie, ’n maagd wat nie verloof is nie, kry, haar beetkry en by haar lê en hulle word betrap, 29dan moet die man wat by haar gelê het aan die vader van die meisie vyftig sikkels silwer gee en sy moet sy vrou wees omdat hy haar onteer het; hy mag haar nie skei solank as hy lewe nie.

30’n Man mag nie die vrou van sy vader vat nie en ook nie sy vader se vrou se romp ontbloot nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 21
Top of Page
Top of Page