Deuteronomium 23
Afrikaans PWL
1Niemand wat seksueel losbandig leef, mag in die vergadering van יהוה kom nie. 2Niemand wat gemeng (Jood / nie-Jood) gebore is, mag in die vergadering van יהוה kom nie; nie een van sy nageslag, selfs tot in die tiende geslag mag in die vergadering van יהוה kom nie. 3Geen `Ammoniet of Mo’aviet mag in die vergadering van יהוה kom nie; nie een van sy nageslag, selfs tot in die tiende geslag mag ooit in die vergadering van יהוה kom nie 4omdat hulle julle, by jul uittog uit Mitzrayim, nie met brood en water op die pad ontmoet het nie en omdat hulle Bil’am, die seun van B’or, uit P’tor in Aram-Naharayim, teen jou gehuur het om jou te vervloek. 5Nogtans was יהוה, jou God, nie gewillig om na Bil’am te luister nie, maar יהוה, jou God, het vir jou die vloek in ’n seën verander omdat יהוה, jou God, jou liefhet. 6Jy mag nooit hulle vrede en hulle voorspoed soek, solank as jy lewe nie.

7Die Edomiet mag jy nie verag nie, want hy is jou broer; die Mitzrayiet moet jy nie verag nie, want jy was ’n vreemdeling in sy land. 8Die seuns wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van יהוה kom.

9Wanneer jy as leër teen jou vyande uittrek, moet jy jou van elke bose ding weerhou.

10As daar iemand onder jou is wat weens ’n onverwagte gebeurtenis in die nag onrein is, moet hy uit die kamp uitgaan; hy mag nie in die kamp inkom nie, 11maar dit sal wees, as die aand naderkom, moet hy homself in water bad en teen sonsonder mag hy teruggaan in die kamp.

12Jy moet ook buitekant die kamp ’n plek hê en daarheen uitgaan 13en jy moet by jou gereedskap ’n graaf hê; as jy buitekant gaan sit, moet jy daarmee grawe, omdraai en jou uitskeiding toegooi. 14Aangesien יהוה, jou God, midde-in jou kamp loop om jou te bevry en jou vyande voor jou te verslaan; daarom moet jou kamp afgesonder wees en Hy moet niks afstootliks by jou sien nie of Hy sal van jou af wegdraai.

15Jy mag nie ’n slaaf wat van sy meester af na jou toe ontsnap het, aan sy meester oorhandig nie. 16Hy sal by jou bly, in jou midde, in die plek wat hy in een van jou dorpe sal kies, waar dit vir hom goed is; jy mag hom nie sleg behandel nie.

17Geen dogter van Yisra’el mag ’n kultusprostituut wees nie en geen seun van Yisra’el mag ’n kultusprostituut wees nie. 18Jy mag nie die huur van ’n hoer of die beloning van ’n hond (manlike prostituut) in die huis van יהוה, jou God, as enige offer van belofte bring nie, want dié altwee is verwerplik vir יהוה, jou God.

19Jy mag jou landgenoot geen rente oplê nie, rente op geld, kos of enigiets wat ’n mens teen rente uitleen nie. 20Jy mag rente vra van die buitelander, maar jou landgenoot mag jy geen rente oplê nie sodat יהוה, jou God, jou kan seën in alles wat jy onderneem in die land waarin jy gaan, om dit te besit.

21Wanneer jy aan יהוה, jou God, ’n gelofte doen, moet jy nie uitstel om dit te betaal nie, want dit sal sonde in jou wees en יהוה, jou God, sal dit sekerlik van jou vereis; 22daarenteen, as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie. 23Jy moet versigtig wees om te doen wat oor jou lippe gaan, net soos jy aan יהוה, jou God, vrywillig oorgegee het, wat jy beloof het.

24Wanneer jy jou naaste se wingerd binnegaan, mag jy druiwe eet totdat jy versadig is, maar jy mag niks in jou mandjie pak nie.

25Wanneer jy jou naaste se staande graan binnegaan, mag jy met jou hand are afpluk, maar jy mag nie ’n sekel swaai in die ongesnyde graan van jou naaste nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 22
Top of Page
Top of Page