Deuteronomium 21
Afrikaans PWL
1As ’n doodgemaakte persoon in die veld gevind word, in die land, wat יהוה, jou God, jou gee, om dit te besit en dit is nie bekend wie hom gedood het nie, 2dan moet jou oudstes en jou regters uitgaan en die afstand meet na die stede wat rondom die een lê wat gedood is. 3Dit sal wees dat die oudstes van dié stad wat die naaste lê aan hom wat gedood is, ’n verskalf sal vat waarmee nie gewerk is en wat nie in ’n juk getrek het nie. 4Die oudstes van dié stad moet die verskalf afbring na ’n vallei met ’n vloeiende stroom waarin nie geploeg of gesaai is nie en hulle moet die vers se nek daar in die vallei breek. 5Dan moet die priesters, die seuns van Levi, naderkom, want יהוה, jou God, het hulle gekies om Hom te dien en om in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה te seën en volgens hulle uitspraak moet elke verskil en aanval besluit word. 6Al die oudstes van dié stad wat die naaste woon aan hom wat gedood is, moet hulle hande was oor die vers waarvan die nek in die vallei gebreek is 7en hulle moet antwoord en sê: ‘Ons hande het nie hierdie bloed vergiet nie en ons oë het dit nie gesien nie. 8Vergewe U volk Yisra’el, wat U losgekoop het, O יהוה en moenie die skuld van onskuldige bloed tussen U volk Yisra’el plaas nie.’ Die skuld vir bloedvergieting sal hulle vergewe wees. 9So sal jy die skuld van onskuldige bloed uit jou midde verwyder, as jy doen wat reg is in die oë van יהוה.

10Wanneer jy in geveg uittrek teen jou vyande en יהוה, jou God, hulle in jou hand gee en jy hulle as gevangenes wegvoer 11en jy onder die gevangenes ’n vrou sien wat mooi is en jy haar begeer en haar as vrou vir jou wil vat, 12dan moet jy haar in jou huis inbring en sy moet haar kop skeer en haar naels knip. 13Sy moet die klere van haar gevangeskap uittrek, in jou huis bly en treur oor haar vader en haar moeder, vir ’n volle maand lank. Daarna kan jy by haar ingaan en haar man wees en sy sal jou vrou wees. 14Dit sal wees dat as jy nie tevrede is met haar nie, moet jy haar vrylaat, net waar sy wil, maar jy mag haar sekerlik nie vir geld verkoop nie, jy mag haar nie sleg behandel nie omdat jy haar verneder het.

15As ’n man twee vroue het, een wat hy lief het en een wat hy nie lief het nie en sowel die een wat hy lief het en die een wat hy nie lief het nie gee vir hom geboorte aan seuns en die eersgebore seun behoort aan die vrou wat hy nie lief het nie, 16dan sal dit wees op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erf dat hy nie die seun van die vrou waarvoor hy lief is, die eersgeborene kan maak tot nadeel van die seun van die vrou waarvoor hy nie lief is, wat die eersgeborene is, nie 17maar hy moet die eersgeborene, die seun van die vrou waarvoor hy nie lief is nie, erken deur aan hom ’n dubbele deel te gee van alles wat hy besit, want hy is die begin van sy krag: die eersgeboortereg is syne.

18As iemand ’n hardkoppige en rebelse seun het, wat nie luister na die stem van sy vader of sy moeder nie en as hulle hom dissiplineer, hy nie na hulle luister nie, 19dan moet sy vader en sy moeder hom vat en hom uitbring na die oudstes van sy stad, na die poort van sy tuisdorp 20en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: hierdie seun van ons is hardkoppig en rebels, hy wil ons nie gehoorsaam nie, hy is losbandig en ’n dronkaard. 21Dan moet al die manne van sy stad hom stenig tot die dood. So moet jy die boosheid uit jou midde uitroei en die hele Yisra’el sal dit hoor en vrees.

22As ’n persoon ’n sonde doen wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan ’n boom ophang, 23dan mag sy lyk nie oornag aan die boom hang nie, maar jy moet hom sekerlik diéselfde dag nog begrawe, want een wat opgehang is, is deur God vervloek sodat jy nie jou land wat יהוה, jou God, jou as erfenis gee, verontreinig nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 20
Top of Page
Top of Page