2 Korinthiërs 11
Afrikaans PWL
1Ek wens julle wil my net ’n kort rukkie verdra terwyl ek in dwaasheid praat! Verdra my tog maar, 2want ek is jaloers oor julle met God se jaloesie, want ek het julle afgegee om te trou met Een Man; om julle as ’n rein maagd aan Die Gesalfde Een voor te stel, 3maar ek is bang dat, net soos die slang vir Havah deur sy listigheid mislei het, julle denke net so korrup gemaak is, weg van die eenvoudigheid wat by Die Gesalfde Een is, 4want as iemand kom en ’n ander Yeshua verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander goeie boodskap as wat julle ontvang het, kan julle maklik oortuig word, 5want ek dink nie ek het in enige iets tekort gekom teenoor dié ‘afgevaardigdes’ wat vooruitgaan nie, 6want selfs al is ek ook eenvoudig in my spraak, nie in my kennis nie, is dit in alles aan julle openbaar.

7Of het ek teen julle verkeerd gedoen deur my te verneder sodat julle verhoog kan word en ek die goeie boodskap van God gratis aan julle verkondig het? 8Ek het ander gemeentes beroof, deur vergoeding te kry, om julle te bedien 9en toe ek by julle was en gebrek gehad het, het ek niemand lastig geval nie, want die broers wat van Makedonia af gekom het, het in my gebrek voorsien en ek het my in alles weerhou om nie vir julle ’n las te wees nie en sal my ook weerhou. 10Die waarheid van Die Gesalfde Een is in my sodat hierdie roem in die streke van Agaia nie van my weggevat sal word nie. 11Om watter rede? Omdat ek julle nie liefhet nie? God self weet!

12Wat ek doen, sal ek voortgaan om te doen; om die beskuldigings af te sny van die wat ’n geleentheid soek om te roem sodat hulle dieselfde as ons gesien mag word, 13want sulke mense is valse afgevaardigdes, misleidende werkers, wat hulleself voordoen as afgevaardigdes van Die Gesalfde Een 14en geen wonder nie, as hy, wat die teëstander is, homself voordoen as ’n engel van lig! 15Dit is daarom niks groots wanneer sy diensknegte hulle ook voordoen as diensknegte van onpartydige opregtheid nie, maar hulle einde sal wees volgens hulle dade.

16Ek sê weer dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, ontvang my as ’n dwaas sodat ek ook ’n bietjie kan roem. 17Alles wat ek sê, sê ek nie vanuit ons Meester nie, maar in dwaasheid op hierdie geleentheid van roem. 18Aangesien baie na die uiterlike roem, sal ek ook roem, 19want julle luister graag na die dwase omdat julle so wys is! 20Julle verdra dit as iemand slawe van julle maak, as iemand julle verteer, as iemand by julle afvat, as iemand hom opblaas oor julle, as iemand julle in die gesig slaan. 21Tot my oneer moet ek erken dat ons daarvoor te swak was, maar as iemand dit waag, ek praat in dwaasheid, waag ek dit ook. 22Is hulle Hebreërs? Ek is ook. Is hulle Yisra’eliete? Ek is ook. Is hulle die saad van Avraham? Ek is ook. 23Is hulle diensknegte van Die Gesalfde Een? Ek praat soos ’n dwaas, ek nog meer, deur oorvloediger werk, in ontelbare slaanwonde, in baie meer tronke, gereeld by die dood. 24Vyf maal het ek veertig houe op een na van die Jode gekry. 25Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek sonder ’n skip op die diepsee deurgebring, 26gereeld op reis in gevaar van riviere, in gevaar van rowers, in gevaar van my eie mense, in gevaar van die ander nasies, in gevaar in die stad, in gevaar in die wildernis, in gevaar op see, in gevaar onder vals broers, 27in harde werk en in uitputting, gereeld in slapeloosheid, in honger en dors, dikwels sonder kos, in koue en naaktheid, 28behalwe dit alles en die skares wat om my is, my daaglikse bekommernisse en die omgee vir al die gemeentes. 29Wie ly en ek ly nie ook nie? Vir wie word ’n struikelblok in die pad gesit en ek is nie aan die brand (woedend) nie?

30As daar geroem moet word, sal ek in my swakheid roem. 31Hy weet, die God en Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, geseënd tot in tydlose ewigheid, dat ek nie lieg nie. 32In Dammesek het die hoof van die weermag van koning Aretas, die stad bewaak om my te vang 33en ek is in ’n mandjie, deur ’n venster in die muur, neergelaat en het ontsnap uit hulle hande.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Corinthians 10
Top of Page
Top of Page