2 Korinthiërs 12
Afrikaans PWL
1Om te roem is nodig, maar nie voordelig nie, want ek sal kom by visioene en openbarings van ons Meester. 2Ek het ’n man geken, in eenheid met Die Gesalfde Een, wat veertien jaar gelede weggeruk is tot in die derde hemel; of dit in die liggaam was, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit. 3Ek het so ’n man geken; of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit; 4wat weggeruk is na Gan- `Eden (Paradys) en onuitspreekbare woorde gehoor het wat ’n mens nie mag uiter nie. 5Oor so ’n man sal ek roem, maar oor myself sal ek nie roem nie, behalwe net in lyding, 6want as ek wou roem, sou ek nie ’n dwaas wees nie, want ek sou die waarheid praat, maar ek doen dit nie sodat niemand my hoër mag reken as wat hy van my sien of wat hy van my af hoor nie.

7’n Doring is vir my in die vlees gegee sodat ek nie grootkop sou kry oor die uitermatige grootheid van die openbaringe nie, ’n boodskapper van die teëstander, om my met die vuis te slaan sodat ek nie grootkop sou kry nie. 8Hieroor het ek drie maal van my Meester gevra om dit van my weg te vat 9en Hy het vir my gesê: “My onverdiende guns is vir jou genoeg, want my wonderwerkende krag word in swakheid volmaak gemaak.” Ek sal daarom met blydskap in my swakhede roem sodat die krag van Die Gesalfde Een op my kan rus. 10As gevolg hiervan verbly ek my in lyding, in beledigings, in beproewings, in vervolginge en in gevangeskap om die persoon van Die Gesalfde Een se onthalwe, want as ek swak is, dan is ek sterk.

11Let op; al roemend het ek dwaas geword. Julle het my daartoe gedwing, want ek moes deur julle aanbeveel word omdat ek in niks terugstaan by die ‘groot afgevaardigdes’ nie, al is ek niks nie. 12Die tekens van ’n afgevaardigde het ek onder julle gedoen met alle geduld en deur heldedade, wonderwerke en wonderwerkende krag, 13want wat is daar waarin julle oortref word deur die ander gemeentes, behalwe dat ek persoonlik nie vir julle ’n las was nie? Vergewe my hierdie verkeerdheid!

14Let op, ek is gereed om die derde keer na julle toe te kom en ek sal nie vir julle ’n las wees nie, want ek soek nie julle besittings nie, maar julle self, want dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders 15en ek sal met vreugde kostes dra, ja, myself weggee ter wille van julle gees, selfs al het julle my al minder lief, soos ek julle meer liefhet. 16Miskien was ek nie ’n las vir julle nie, maar omdat ek vernuftig was, het ek julle met vernuf gevang. 17Het ek my nie dalk vanuit julle bevoordeel deur een van die wat ek na julle gestuur het nie? 18Ek het Titos gevra en die broer saamgestuur. Het Titos hom dan vanuit julle bevoordeel? Het ons nie in dieselfde Gees, in dieselfde pad geloop nie?

19Dink julle weer dat ons onsself by julle verdedig? Ons praat in die teenwoordigheid van God, in eenheid met Die Gesalfde Een en dit alles, tot julle vir wie ons lief is, se opbouing, 20want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal kry soos ek wens nie en dat ek deur julle gevind sal word soos julle nie wens nie: dat daar stryery, jaloesie, woede, verdeeldheid, kwaadpratery, skinder, ontevredenheid, verwaandheid en onstabiliteit sal wees; 21dat my God my nie by julle sal verneder en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en nie erken, berou en weggedraai het van die onreinheid, seksuele oortredings en ongebondenheid wat hulle gedoen het, nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Corinthians 11
Top of Page
Top of Page