1 Samuel 23
Afrikaans PWL
1Toe het hulle Dawid meegedeel en gesê: “Let op, die F’lishtyne veg teen Ke’ilah en hulle plunder die dorsvloere.” 2Toe raadpleeg Dawid יהוה en vra: “Sal ek gaan en hierdie F’lishtyne aanval?” יהוה sê vir Dawid: “Gaan en val die F’lishtyne aan en bevry Ke’ilah.” 3Dawid se manne sê egter vir hom: “Let op, hier in Y’hudah is ons bang. Hoeveel te meer dan as ons na Ke’ilah gaan teen die gevegsordes van die F’lishtyne?” 4Toe raadpleeg Dawid יהוה weer en יהוה het hom geantwoord en gesê: “Staan op, gaan af na Ke’ilah, want Ek sal die F’lishtyne in jou hand gee.” 5Dawid en sy manne het na Ke’ilah gegaan en teen die F’lishtyne geveg en hulle vee weggelei en hulle met ’n groot slag geslaan. So het Dawid dan die inwoners van Ke’ilah bevry.

6Dit het gebeur toe Avyatar, die seun van Agimelekh, na Dawid toe gevlug het by Ke’ilah, dat hy afgekom het met ’n skouerkleed in sy hand.

7Toe dit aan Sha’ul vertel is dat Dawid na Ke’ilah gekom het, het Sha’ul gesê: “God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself ingesluit deur in ’n stad met dubbel poorte en grendels in te gaan.” 8Sha’ul het al die manne vir oorlog opgeroep om af te gaan na Ke’ilah om Dawid en sy manne te omsingel. 9Dawid het geweet dat Sha’ul boosheid teen hom beraam, dus het hy vir Avyatar, die priester, gesê: “Bring die skouerkleed hier.” 10Toe sê Dawid: “יהוה, God van Yisra’el, U dienskneg het verseker gehoor dat Sha’ul na Ke’ilah wil kom om die stad om my ontwil te vernietig. 11Sal die manne van Ke’ilah my in sy hand oorgee? Sal Sha’ul afkom soos U kneg gehoor het? יהוה, God van Yisra’el, ek bid, vertel asseblief U dienskneg!” יהוה het geantwoord: “Hy sal afkom.” 12Toe vra Dawid: “Sal die manne van Ke’ilah my en my manne in die hand van Sha’ul uitlewer?” יהוה antwoord: “Hulle sal jou uitlewer.” 13Toe het Dawid en sy manne, omtrent ses honderd, opgestaan en vanaf Ke’ilah weggegaan en gegaan waar hulle ook al kon. Toe dit vir Sha’ul vertel is dat Dawid uit Ke’ilah ontsnap het, het hy die agtervolging gestop. 14Dawid het in vestings in die wildernis gebly en in ’n berg in die wildernis van Zif vertoef. Sha’ul het hom elke dag gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.

15Dawid het bewus geword daarvan dat Sha’ul uitgekom het om sy lewe te soek terwyl Dawid in die wildernis van Zif, by Horesh, was. 16Y’honatan, Sha’ul se seun, het opgestaan en na Dawid by Horesh gegaan en hom bemoedig in God. 17So het hy vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want die hand van Sha’ul, my vader, sal jou nie vind nie en jy sal koning wees oor Yisra’el en ek sal onder jou wees en my vader, Sha’ul, weet dit ook. 18Toe sluit hulle twee ’n verbond voor die Teenwoordigheid van יהוה en Dawid het in Horesh gebly terwyl Y’honatan na sy huis toe gegaan het.

19Toe het daar Zifiete opgegaan na Sha’ul by Giv’ah en gesê: “Kruip Dawid nie by ons weg, by die vestings by Horesh, op die heuwel van Hakhilah, wat suid van die wildernis lê nie? 20Nou dan, o koning, kom af om volgens al die begeerte van u verstand, wil en emosie te doen en ons deel sal wees om hom in die hand van die koning uit te lewer.” 21Sha’ul het gesê: “Mag julle geseënd wees deur יהוה omdat julle vir my omgegee het. 22Gaan nou, maak doodseker en ondersoek en bekyk die plek waar sy blyplek is, wie hom daar gesien het, want ek word vertel dat hy baie listig is. 23Kyk en leer van al die wegkruipplekke waar hy homself wegsteek en kom na my toe terug met sekerheid en ek sal saam met julle gaan en as hy in die land is, sal ek hom opspoor onder al die duisende van Y’hudah.”

24Toe het hulle opgestaan en voor Sha’ul uit na Zif gegaan. Dawid en sy manne was in die wildernis van Ma’on, in die vlakte (`Aravah) suid van Yeshimon. 25Toe Sha’ul en sy manne gaan om hom te soek, het hulle Dawid vertel en hy het afgegaan na die rots en in die wildernis van Ma’on gebly. Toe Sha’ul dit hoor, het hy Dawid agtervolg in die wildernis van Ma’on. 26Sha’ul het aan een kant van die berg getrek en Dawid en sy manne aan die ander kant van die berg. Dawid het gou gemaak om van Sha’ul af weg te kom, want Sha’ul en sy manne het Dawid en sy manne omsingel om hulle te vang. 27’n Boodskapper kom egter by Sha’ul en sê: “Maak gou en kom, want die F’lishtyne het ’n inval op die land gedoen.” 28Sha’ul het teruggedraai daarvan om Dawid agterna te jaag en gegaan om die F’lishtyne te ontmoet; daarom noem hulle daardie plek die Rots van Ontsnapping. (Sela-Hamaglekot) 29Dawid het opgegaan van daar af en in die vestings van `Ein-Gedi gebly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 22
Top of Page
Top of Page