1 Samuel 24
Afrikaans PWL
1Toe Sha’ul terugkom van die agtervolging van die F’lishtyne, is vir hom vertel en gesê: “Let op, Dawid is in die wildernis van `Ein-Gedi.” 2Toe vat Sha’ul drie duisend uitgesoekte manne uit die hele Yisra’el en gaan om Dawid en sy manne te soek voor die Rotse van die Bergbokke. 3Hy het op pad by die skaapkrale gekom waar daar ’n grot was en Sha’ul het ingegaan om homself te verlig. Dawid en sy manne het in die agterste kamers van die grot gesit. 4Die manne van Dawid sê vir hom: “Let op, dit is die dag waarvan יהוה vir u gesê het: “ Ek is op die punt om jou vyand in jou hand te gee en jy sal met hom maak soos jy goeddink.” Toe staan Dawid op en sny stilletjies die soomhoek van Sha’ul se kleed af. 5Dit het later gebeur dat Dawid se gewete hom gepla het omdat hy die soomhoek van Sha’ul se kleed afgesny het 6en hy het vir sy manne gesê: “As gevolg van יהוה is dit ver van my dat ek hierdie ding aan my meester, die gesalfde van יהוה, sou doen om my hand teen hom uit te steek, want hy is die gesalfde van יהוה.” 7Dawid het sy manne met hierdie woorde oortuig en hulle nie toegelaat om teen Sha’ul op te staan nie. Sha’ul het opgestaan, die grot verlaat en op sy pad gegaan.

8Daarna staan Dawid op en gaan uit die grot uit en roep agter Sha’ul aan en sê: “My meester, die koning!” Toe Sha’ul agter hom kyk, buig Dawid met sy gesig na die grond toe en val neer. 9Dawid sê vir Sha’ul: “Waarom luister u na die woorde van mense wat sê: ‘Let op, Dawid soek om u skade aan te doen?’ 10Let op, vandag het u gesien dat יהוה u vandag in die grot in my hand gegee het en sommige het gesê dat ek u moet doodmaak, maar ek het u jammer gekry en ek het gesê: ‘Ek sal nie my hand uitsteek teen my meester nie, want hy is die gesalfde van יהוה.’ 11Kyk nou, my vader! Inderdaad, sien die soomhoek van u kleed in my hand, want ek het die soomhoek van u kleed afgesny en u nie gedood nie. Weet en verstaan dat daar geen boosheid of rebellie in my hande is nie en ek het nie teen u gesondig nie alhoewel u op my lewe lê en wag om dit te vat. 12Mag יהוה oordeel tussen u en my en mag יהוה my op u wreek, maar my hand sal nie teen u wees nie. 13Soos die spreekwoord van die oumense sê: ‘Uit die wetteloosheid kom boosheid voort,’ maar my hand sal nie teen u wees nie. 14Agter wie aan het die koning van Yisra’el uitgekom? Wie agtervolg u? ’n Dooie hond, ’n enkele vlooi! 15יהוה sal daarom Regter wees en besluit tussen u en my. Mag Hy my saak sien en verdedig en my bevry uit u hand.”

16Toe Dawid klaar hierdie woorde tot Sha’ul uitgespreek het, sê Sha’ul: “Is dit jou stem, my seun Dawid?” Toe het Sha’ul sy stem opgelig en gehuil. 17Hy het vir Dawid gesê: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek boosheid aan jou gedoen het. 18Jy het vandag verklaar dat jy aan my goed gedoen het en dat יהוה my in jou hand oorgelewer het en tog het jy my nie gedood nie, 19want as iemand sy vyand vind, sal hy hom veilig laat gaan? Mag יהוה jou daarom met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. 20Nou, let op, ek weet dat jy sekerlik koning sal wees en dat die koninkryk van Yisra’el in jou hand bevestig sal word. 21Nou, sweer vir my by יהוה dat jy my nageslag ná my nie sal afsny en my naam nie uit my vader se huis sal vernietig nie.” 22Dawid het vir Sha’ul gesweer en Sha’ul het na sy huis toe gegaan, maar Dawid en sy manne het na die vesting toe opgegaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 23
Top of Page
Top of Page