1 Samuel 22
Afrikaans PWL
1Dawid het daarvandaan weggegaan en ontvlug na die grot van `Adullam en toe sy broers en sy vader se hele huishouding dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom toe. 2Elkeen wat in benoudheid was, elkeen wat in skuld was en elkeen wat ontevrede was, het by hom bymekaargekom en hy het bevelvoerder oor hulle geword. Daar was omtrent vier honderd man by hom gewees.

3Dawid gaan toe van daar af na Mitzpeh in Mo’av en sê vir die koning van Mo’av: “Laat my vader en my moeder asseblief by julle bly totdat ek weet wat God vir my wil doen.” 4Toe los hy hulle by die koning van Mo’av en hulle het by hom gebly al die tyd wat Dawid in die vesting was. 5Die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Moenie in die vesting bly nie; gaan weg en gaan in die land Y’hudah in.” Dawid het weggegaan en in die woud van Heret ingegaan.

6Toe het Sha’ul gehoor dat Dawid en die manne wat by hom was, gevind is. Sha’ul het by Giv’ah op die hoogte onder die tamariskboom gesit met sy spies in sy hand en al sy diensknegte het rondom hom gestaan. 7Sha’ul het vir sy diensknegte wat rondom hom gestaan het, gesê: “Luister nou, o Binyaminiete: sal die seun van Yishai ook vir julle almal lande en wingerde gee, julle almal aanstel as bevelvoerders oor duisende en bevelvoerders oor honderde? 8Want almal van julle het teen my saamgesweer sodat daar niemand is wat dit aan my openbaar as my seun met die seun van Yishai ’n verbond sluit nie en niemand van julle wat vir my jammer is of aan my openbaar dat my seun my dienskneg teen my ophits om vir my ’n hinderlaag te lê, soos dit vandag is nie.” 9Toe sê Do’eg, die Edomiet, wat by die diensknegte van Sha’ul gestaan het: “Ek het die seun van Yishai sien kom na Nov by Agimelekh, die seun van Agituv. 10Hy het יהוה geraadpleeg vir hom, vir hom padkos gegee en vir hom die swaard van Golyat, die F’lishtyn, gegee.”

11Toe stuur die koning iemand om die priester Agimelekh, die seun van Agituv, met sy vader se hele huishouding, die priesters wat in Nov was, te roep en hulle het almal na die koning toe gekom. 12Sha’ul het gesê: “Luister nou, seun van Agituv!” Hy het geantwoord: “Hier is ek, my meester!” 13Sha’ul sê vir hom: “Waarom het jy en die seun van Yishai teen my saamgesweer deurdat jy vir hom brood en ’n swaard gegee het en God vir hom geraadpleeg het sodat hy teen my sou opstaan deur in hinderlaag teen my te lê, soos dit vandag is?”

14Toe antwoord Agimelekh die koning en sê: “Wie is onder al u diensknegte so getrou soos Dawid, selfs die skoonseun van die koning, wat bevelvoerder oor u wag is en geëerd is in u huis? 15Het ek vandag begin om God vir hom te raadpleeg? Dit is ver van my! Die koning moenie op sy dienskneg, op enige van die huishouding van my vader, iets lê nie, want u dienskneg weet niks van hierdie hele saak nie.” 16Die koning sê egter: “Agimelekh, jy moet sekerlik sterf, jy en jou vader se hele huishouding.” 17Die koning sê vir die wagte wat hom bedien: “Draai om en maak die priesters van יהוה dood omdat hulle hand ook met Dawid is en omdat hulle geweet het dat hy vlug en dit nie aan my geopenbaar het nie.” Die diensknegte van die koning was nie gewillig om hulle hand uit te steek om die priesters van יהוה aan te val nie. 18Toe sê die koning vir Do’eg: “Draai jy om en val die priesters aan.” Do’eg, die Edomiet, het omgedraai en die priesters aangeval en hy het op dié dag vyf en tagtig man wat die linne skouerkleed dra, gedood. 19Hy het ook die priesterstad Nov met die skerpte van die swaard geslaan, beide mans en vroue, kinders en suigelinge; ook die beeste, donkies en skape het hy met die skerpte van die swaard geslaan.

20Een seun van Agimelekh, die seun van Agituv, met die naam van Avyatar, het ontsnap en agter Dawid aan gevlug. 21Avyatar het vir Dawid vertel dat Sha’ul die priesters van יהוה vermoor het. 22Toe sê Dawid vir Avyatar: “Ek het op daardie dag, toe Do’eg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy sekerlik vir Sha’ul sou vertel. Ek is die oorsaak van die dood van al die lede van jou vader se huishouding. 23Bly by my; moenie bang wees nie, jy is veilig by my, want hy wat my lewe soek, soek jou lewe ook.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 21
Top of Page
Top of Page