1 Samuel 11
Afrikaans PWL
1Nagash, die `Ammoniet, het opgekom en Yavesh-Gil’ad beleër en al die manne van Yavesh het vir Nagash gesê: “Sluit ’n verbond met ons en ons sal u dien.” 2Nagash, die `Ammoniet, het egter vir hulle gesê: “Op hierdie voorwaarde sal ek ’n verbond met julle sluit: dat ek almal van julle se regteroog uitsteek en dit so as ’n skande op die hele Yisra’el bring.” 3Die oudstes van Yavesh sê vir hom: “Laat ons sewe dae lank met rus dat ons boodskappers deur die hele gebied van Yisra’el kan stuur; dan, as daar niemand is wat ons bevry nie, sal ons na u toe uitkom.” 4Toe het die boodskappers in Giv’ah van Sha’ul gekom en hierdie boodskap voor die ore van die mense gesê. Al die mense het hulle stemme opgehef en gehuil.

5Nou, let op, Sha’ul het agter die beeste aan van die veld af gekom en gesê: “Wat is dit met die mense dat hulle huil?” Hulle dra toe die boodskap van die manne van Yavesh aan hom oor. 6Toe hy dié woorde hoor, kom die Gees van God kragtig oor Sha’ul en hy het baie kwaad geword. 7Hy het ’n juk beeste gevat, hulle in stukke gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Yisra’el gestuur om te sê: “Wie ook al nie agter Sha’ul en agter Sh’mu’el aan kom nie; so sal met sy beeste gedoen word.” Toe val die skrik van יהוה op die mense en hulle kom uit soos een man. 8Hy het hulle in Bezek getel: die seuns van Yisra’el was drie honderd duisend en die manne van Y’hudah dertig duisend. 9Hulle het aan die boodskappers wat gekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Yavesh-Gil’ad sê: ‘Môre, teen die tyd dat die son warm is, sal julle bevryding hê.’” Die boodskappers het gegaan en dit aan die manne van Yavesh vertel en hulle was verheug. 10Toe sê die manne van Yavesh: “Môre sal ons na julle toe uitkom en julle kan met ons doen net wat julle goeddink.” 11Die volgende oggend het Sha’ul die manne in drie afdelings verdeel en hulle het tydens die oggendwag in die kamp ingekom en die `Ammoniete verslaan tot op die warm tyd van die dag. Die wat oorleef het, is verstrooi sodat nie twee van hulle bymekaar oorgebly het nie.

12Toe sê die manne vir Sh’mu’el: “Wie is hy wat gesê het: ‘Sal Sha’ul oor ons regeer?’ Bring die manne dat ons hulle kan doodmaak.” 13Sha’ul antwoord egter: “Op hierdie dag mag geen man gedood word nie, want vandag het יהוה ’n bevryding in Yisra’el uitgevoer.”

14Toe sê Sh’mu’el vir die mense: “Kom, laat ons na Gilgal gaan en die koningskap daar vernuwe.” 15Al die mense het na Gilgal gegaan en daar, in Gilgal, vir Sha’ul koning gemaak voor die Teenwoordigheid van יהוה. Daar het hulle ook vredesoffers voor die Teenwoordigheid van יהוה geoffer en daar was Sha’ul en al die manne van Yisra’el grootliks verheug.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 10
Top of Page
Top of Page